Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Resessie kan teikens vir taks raak, maan Nene
Nhlanhla Nene, minster van finansies. Foto: Getty Images

Die resessie verhoog die risiko dat die tesourie nie sy teikens vir belastinginkomste gaan haal wat aan die begin van die boekjaar gestel is nie, het Nhlanhla Nene, minister van finansies, Maandag gewaarsku.

Dit is kritiek belangrik dat die ekonomie reggeruk moet word sodat dit vinniger en volhoubaarder kan groei, het hy op die Belasting-indaba in Sandton, Johannesburg, gesê. Sonder hoër ekonomiese groei sal dit moeilik wees om die nasionale gesondheidsversekering of omvattende welsynsdienste in te stel.

Behalwe swakker ekonomiese groei kan die impak van ondoeltreffender belastingadministrasie op belastinginvordering nie geïgnoreer word nie, het Nene gesê.

Belastingontduiking en belastingvermyding sal toeneem in enige ekonomie wat stadiger groei en waar belasting verhoog is. Dis hoekom sterk instellings so belangrik is.

Nene sê hy word jaarliks deur libertyne daaraan herinner dat hulle alle belasting as diefstal beskou. “Ek verskil natuurlik. Belasting lê na aan die hart van enige maatskaplike kontrak wat ’n demokratiese staat onderlê.

“Daar word dikwels gesê belastingwetgewing moet eenvoudiger en meer verstaanbaar gemaak word. Dit sal baie maklik wees om eenvoudige belastingwette te skryf as niemand probeer het om dit te omseil nie.

Daar word dikwels gesê belastingwetgewing moet eenvoudiger en meer verstaanbaar gemaak word.
Nhlanhla Nene

Trouens, die dele van die Inkomstebelastingwet wat moeiliker is om te verteer, het waarskynlik aansienlik bygedra tot die werkskepping en stabiliteit, indien nie die behoorlike inkomste nie, van baie van julle in die gehoor.”

Nene het toegegee die deursigtigheid waarmee staatsgeld toegeken word, vloei nie outomaties deur na besteding nie. “Ek vermoed van jul kliënte het dalk al gewonder oor die etiese aspekte om belasting te betaal wat op vermorste en vrugtelose uitgawes bestee word.” Hy meen egter die werk van die kantoor van die verkrygingshoof het al sukses behaal om korrupte tenderpraktyke hok te slaan.

Nene glo die Nugent-kommissie van ondersoek na die probleme by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) is ’n belangrike stap om die vertroue tussen die regering en belastingbetalers te herstel.

Hy het gewaarsku mense wat doelbewus so min as moontlik belasting betaal omdat hulle vertroue verloor het in die SAID en hoe hulle behandel is, raak die land negatief, dit ondermyn die billikheid van die belastingstelsel en skep groter maatskaplike ontevredenheid.

Nene het ’n lansie gebreek vir toegewyde SAID-werknemers en gevra dat hulle gerespekteer word.

Volgens Nene is die tesourie terdeë bewus daarvan dat elke verandering aan belastingbeleid deeglik gefynkam word vir maniere waarop belastingaanspreeklikheid beperk kan word. Hy meen daar moet ’n gesonde verhouding tussen die regering en belastingadviseurs, -praktisyns en -betalers wees, maar dié verhouding moet gebou word op ’n vertroue dat ’n hoë vlak van integriteit en etiek alle optrede sal bepaal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.