Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Resessie: ‘Skrap inperking, alle regulasies dringend’

Suid-Afrika moet so gou as moontlik na vlak 1 van die staat van inperking beweeg, sê ekonome en sakeliggame na aanleiding van die skerp inkrimping in die ekonomie in die tweede kwartaal.

Ter illustrasie. Foto: unsplash
Die Sakeliga stel voor alle regulasies word bloot aanbevelings. Dis tans regulasie dat mense ’n masker in die openbaar moet dra. Foto: Unsplash

Daar is selfs ’n veldtog wat eis dat alle regulasies geskrap word en net “vrywillige aanbevelings” word.

Dit kom nadat die verwoestende invloed van die Covid-19-pandemie en gepaardgaande inperking geblyk het uit syfers wat Statistieke Suid-Afrika Dinsdag uitgereik het.

Die geannualiseerde inkrimping van 51% in die bruto binnelandse produk (BBP) in die tweede kwartaal was erger as wat ekonome verwag het – maar ’n selfs groter probleem is dat die Covid-19-inperking ’n langdurige invloed op die ekonomie gaan hê.

Die Wêreldbank het onlangs gesê 93% van lande sal vanjaar negatief groei.

Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, sê egter Suid-Afrika se inkrimping is die grootste van enige ekonomie ter wêreld. Met verwysing na “een van die skadelikste, indien nie die heel skadelikste, inperkings ter wêreld”, sê hy: “Dis duidelik dat die medisyne hier dodeliker as die siekte was.”

Dit is nie die pandemie wat ons hier laat beland het nie, maar pres. Cyril Ramaphosa en sy kabinet se hantering daarvan.
Connie Mulder van Solidariteit

“Hierdie tragedie is die direkte verantwoordelikheid van die regering. Dit is nie die pandemie wat ons hier laat beland het nie, maar pres. Cyril Ramaphosa en sy kabinet se hantering daarvan. Ten spyte van sprake van brandpunte en ’n meer streeksgebaseerde hantering van die pandemie, het Ramaphosa se regering met ’n nasionale inperking volgehou. Die gevolge was te verwagte en behoort niemand, veral nie ons president, te skok nie.”

Die invloed is vererger weens die benarde toestand waarin die land se ekonomie reeds voor die koms van die pandemie was.

“Suid-Afrika was reeds in resessie toe die pandemie tref, en dit is en bly ondenkbaar dat die kabinet hulself besig gehou het met ’n verbod op die verkoop van gaar hoender en kortbroeke eerder as om ten alle tye te poog om die ekonomie aan die gang te hou gedurende die pandemie.

“Onder Ramaphosa gaan Suid-Afrika vir die eerste keer in die geskiedenis meer as 40% werkloosheid bereik – ’n syfer ondenkbaar in ’n land sonder ’n burgeroorlog. Tesame met 12 jaar van beurtkrag en twee resessies is dit duidelik dat die ANC onder Ramaphosa nie eens oor die vermoë beskik om ’n padstal te bestuur nie.”

Solidariteit doen ’n beroep op die regering om die ekonomiese krisis, wat gaan vererger, ernstig op te neem en hulself uit die bestuur daarvan te verwyder. “Skrap die inperking onmiddellik, dereguleer so veel as moontlik en laat private kragopwekking toe.”

Die Sakeliga beskryf die inkrimping as ’n “mensgemaakte” ramp.

“Herstel begin met die beëindiging van die staat van inperking, soos wat ’n verantwoordelike regering onmiddellik behoort te doen. Dit sluit in die oopstel van internasionale lugreise en deur nie die ramptoestand by sy volgende verstrykingsdatum van 15 September te verleng nie.”

“Die volgende stap op die lang pad na herstel is om die staat en staatsinmenging, wat die Suid-Afrikaanse ekonomie oor baie jare wesenlik verswak het, se omvang en ambisies drasties af te skaal.

“Herstel verg minder politiek, meer besigheid.”

Die Sakeliga sê “om verkeerde aannames oor die gesondheidsinvloed van Covid-19 te maak, was een ding, maar wat onverskoonbaar is, was die roekelose intensiteit, irrasionaliteit en skadelike verlenging van die staat van inperking.”

Tesame met die veldtog Business for Ending Lockdown eis die Sakeliga ’n einde aan die inperking, die opheffing van die ramptoestand en die verandering van alle regulasies na “vrywillige aanbevelings”.

Vooruitsigte

Die ekonomie sal in die derde kwartaal ’n skerp oplewing toon danksy die hervatting van die meeste ekonomiese bedrywighede teen Julie, maar groei van tussen -8% en -12% word vir die volle 2020 voorspel.

Sanisha Packirisamy
Sanisha Packirisamy, ekonoom van Momentum Investments. Foto: Verskaf

Sanisha Packirisamy van Momentum Investments verwag slegs ’n vlak herstel van sowat 2% vir 2021, “aangesien die styging in die getal ondernemings wat gesluit het, volgehoue hoër vlakke van werkloosheid en voortslepende uitdagings vir kragverskaffing die verwagte oplewing sal afrem.”

Sy voorspel dat die ekonomiese aktiwiteit wat vóór die Covid-19-krisis geheers het, eers weer in 2023 of selfs 2024 – dus oor tot vier jaar – behaal sal word.

Business for South Africa het onlangs voorspel die ekonomie gaan twee jaar neem om te herstel, en die meeste maatskappye wat die afgelope ruk resultate uitgereik het, het tussen 18 maande en twee jaar voorspel.

Packirisamy sê verbruikers se besteding sal steeds geraak word deur salarisse wat besnoei is en afleggings. Daarby val regeringshulp soos die Werkloosheidsversekeringsfonds se Covid-19-Ters middel September weg.

Prof. Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê hoe vinnig Suid-Afrika ná die pandemie herstel, sal daarvan afhang of bestaande steunmaatreëls doeltreffender in werking gestel kan word en op die pas waarteen die oorblywende inperkingsmaatreëls – onder meer die verbod op internasionale reis, groot byeenkomste en die perke op die land se naglewe – opgehef word.

Parsons sê ’n bepalende faktor sal wees hoe vinnig verbruikersvertroue op dié faktore reageer.

Parsons sê dit kan ekonomiese herstel aanhelp as die Reserwebank volgende Donderdag die rentekoers verlaag.

Nog ’n deurslaggewende mylpaal sal Tito Mboweni, minister van finansies, se mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober wees. “Dit moet duidelik wys dat Suid-Afrika beheer oor sy staatsfinansies herwin en geloofwaardige stappe doen om dit reg te kry.”

Parsons sê daar moet nou “bewese dringendheid en vasbeslotenheid” wees om beleidsonsekerheid, wat investering ondermyn, te stabiliseer.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Ekonomiese Groei  |  Koronavirus  |  Vlak 2  |  Inperking  |  Bbp2002  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.