Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Resessie sleep voort – selfs vóór Covid-19-skok

Suid-Afrika se ekonomie het in die eerste kwartaal van 2020 – selfs vóór die enorme ekonomiese skok van die Covid-19-inperking – met 2% ingekrimp.

Dit is die derde kwartaal agtereenvolgens waarin die ekonomie negatief groei. Suid-Afrika se resessie – twee kwartale van negatiewe groei – duur dus voort. Dit volg op kwartaalgroei van -0,8% en -1,4% in onderskeidelik die derde en vierde kwartaal van 2019.

Die landbou het in die eerste kwartaal baie sterk gegroei, een van net enkele bedrywe waar daar groei was. Foto: Jóhann Thormalen

Gegewe dat die ergste deel van die inperking in die tweede kwartaal van 2020 geval het, gaan dit ook ’n vierde kwartaal voortsleep voordat daar enige hoop is van ’n oplewing.

Oor ’n jaar gemeet, het die ekonomie met 0,1% ingekrimp.

Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) was die inkrimping in die mynbou die grootste op 21,5%. Dis veral weens ’n daling in die produksie van yster- en maangaanerts, van Suid-Afrika se grootste uitvoerprodukte na China. Fabrieke in China het in die eerste kwartaal tot stilstand geknars weens die Covid-19-pandemie.

Vervaardiging het ook skerp ingekrimp op 8,5%.

Deels weens beurtkrag het die nutsbedryf (krag, gas en water) met 5,6% ingekrimp.

Konstruksie het met 4,7% ingekrimp.

Landbou is een van die min ligpunte met kwartaalgroei van 27,8%. Dis danksy skerp stygings in die produksie van groente en vrugte, veldgewasse en diereprodukte.

Ondanks enorme werkverliese in die sektor, het finansiële dienste wel positief gegroei, met 3,7%.

Handel het met 1,2% ingekrimp, grootliks weens dalings in die groot- en motorhandel en verblyf, wat ook hier gemeet word. Verblyf is in die eerste kwartaal wel deur perke op reis wêreldwyd geraak.

Die staatsdiens het met 1% gegroei, grootliks danksy aanstellings in provinsiale regerings en instellings van hoër onderrig.

Die primêre sektor as geheel het met 11,8% ingekrimp en die sekondêre sektor met 7,5%. Net die tersiêre sektor het gegroei, met 1,3%.

BBP
Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) beloop nou R1 280 miljard. Dis R37 miljard minder as einde 2019.
Besteding op BBP

Besteding op die bruto binnelandse produk (BBP) – ’n aanvullende manier om ekonomiese groei te meet – het in die eerste kwartaal met 2,3% gedaal. Op ’n jaargrondslag was dit 1,3% laer.

Huishoudelike besteding het wel met 0,7% gegroei, veral danksy hoër besteding aan kos. Huishoudings het minder aan vervoer bestee (danksy goedkoper brandstof) en ook aan klere en skoene.

Staatsbesteding het met 1,1% gestyg.

Uitvoer het met 2,3% gedaal en invoer met 16,7%.

Vastekapitaalvorming het met 20,5% geval. Dis hoofsaaklik omdat ondernemings minder bestee het aan masjinerie en ander toerusting, en aan voertuie en ander bates.

k
k
k
Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Koronavirus  |  Bbp  |  Statistieke Suid-Afrika  |  Inperking  |  Resessie  |  Covid-19  |  Bbp2001
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.