Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Reuse-pakket om SA te help opstaan

Pres. Cyril Ramaphosa het Dinsdagaand ’n massiewe maatskaplike en ekonomiese ondersteuningspakket van R500 miljard aangekondig om die impak van die Covid-19-pandemie teen te werk.

Dit is sowat 10% van die land se bruto binnelandse produk.

Die president het die aankondiging in ’n regstreekse televisieboodskap uit Pretoria aan Suid-Afrikaners gemaak.

Hy het somber en senuweeagtig gelyk.

Meer besonderhede oor die ondersteuningspakket sal in die volgende dae bekend gemaak word, het Ramaphosa gesê.

Die doel daarmee is om verligting te bring vir die land se honger en maatskaplike probleme, asook verligting aan ondernemings.

Die ekonomie sal in fases heropen word, het Ramaphosa gesê. Hy sal Donderdag meer daaroor sê.

“As ons die inperking te skielik beëindig, kan die siekte erger versprei. Ons sal daarom ’n benadering volg van infasering wat op wetenskaplike feite gegrond is om die ekonomie stelselmatig te heropen,” het die president gesê.

“Ons is vasbeslote om ons ekonomie te herstel tot waar dit was voordat die virus toegeslaan het.

“Sowat R130 miljard van ons huidige begroting sal vir die verligtingspakket geherprioritiseer word.

“Die res sal ons van plaaslike en internasionale organisasies soos die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds kry wat finansiële hulp aan ons aangebied het. Die Brics-ontwikkelingsbank en die Afrika-ontwikkelingsbank is ook genader en hulle werk reeds saam met die nasionale tesourie aan verskeie finansieringstransaksies.

“Dié geld sal gebruik word om eers die gesondheidsaspekte van die pandemie te help takel – soos vir persoonlike beskermende toerusting en voorraad vir ons mediese werkers en ons hospitale.

“R20 miljard sal aan munisipaliteite beskikbaar gestel word vir noodwaterverskaffing en verbeterde sanitasie-geriewe. “Hulle sal ook daarmee kos help koop vir hulpbehoewendes,” het die president gesê.

R20 miljard sal aan munisipaliteite beskikbaar gestel word vir noodwaterverskaffing en verbeterde sanitasie-geriewe. “Hulle sal ook daarmee kos help koop vir hulpbehoewendes

“Die pakket het ook ten doel om honger in ons samelewing te verlig. Sukkelende ondernemings sal ook bygestaan word.

“Ons (die kabinet) het ook op ’n tydelike koronavirus-toelae vir ses maande vir die mees kwesbare mense besluit.

“Dit beteken dat kindertoelae in Mei met ’n bykomende R300 verhoog sal word en in Junie en Julie met nog R500 per maand.

“ ’n Spesiale toelae van R350 per maand sal vir die volgende ses maande ook aan werkloses betaal word wat nie ’n maatskaplike toelae ontvang nie.”

Ramaphosa het erken die land se vermoë om kos te versprei is nie voldoende nie.

“Sassa (die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid) sal binne dae ’n tegnologie-gegronde oplossing van stapel stuur waardeur mense met koepons gehelp sal word om kos te kan koop.

“Die departement van maatskaplike ontwikkeling en sy vennote sal ook meer as 250 000 kospakkies oor die volgende weke landwyd versprei.”

Ramaphosa het herhaal hy en die regering is “diep teleurgesteld” dat daar mense is wat hierdie kospakkieskemas vir korrupsie misbruik.

“Ons sal dit nie duld nie.”

Hy sê R100 miljard is opsy gesit om mense te help wat hul werk weens die dodelike virus verloor het. Die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) het reeds sowat R2 miljard beskikbaar gemaak om spazawinkels en ander klein ondernemings te ondersteun.

Ondersteuning sal ook gegee word aan “kunstenaars, atlete en tegniese personeel”.

Ook mense wat “ ’n lewe maak uit die versameling van vullis”, sal bygestaan word.

“Ons sal ook ’n skema van R200 miljard bekend stel om sukkelende maatskappye wat ’n omset van minder as R300 miljoen per jaar het, by te staan. Meer as 700 000 maatskappye en 3 miljoen werknemers sal so gehelp kan word.

Ons sal ook ’n R200 miljard-skema bekend stel om sukkelende maatskappye wat ’n omset van minder as R300 miljoen per jaar het, by te staan. Meer as 700 000 maatskappye en drie miljoen werknemers sal so gehelp kan word.

“Ons werk ook aan ingrypingsmaatreëls vir kwesbare sektore soos die taxibedryf.

“Om ’n groter aantal ondernemings te kan help is ‘belastingherleiding’ vir maatskappye nou uitgebrei vir maatskappye wat tot R100 miljoen ’n jaar verdien. Hulle kan by die SA Inkomstediens (SAID) daarvoor kan aansoek doen,” het Ramaphosa gesê.

Voorts sal Suid-Afrikaners wat geld aan die Solidariteitsfonds skenk, ’n bykomende 10% daarvan van die SAID kan terugeis.

Die Reserwebank het ook baie gedoen om die ekonomie te ondersteun, terwyl kommersiële banke en ander finansiële instellings ook die verligtingspoging ondersteun deur verskeie maatreëls wat hulle vir hul kliënte ingestel het.

“Ek glo in die krag van Suid-Afrikaners wat regdeur ons geskiedenis gewys het dat hulle enige uitdaging kan oorwin. Ons sal dié pandemie ook oorwin. Ons sal voorspoedig wees,” het die president ter afsluiting gesê.

Meer oor:  Ekonomie  |  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.