Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Roelof Botha: Lesetja, los die rentekoers uit!

Met die volgende vergadering van die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee (MBK) net om die draai, is daar heelwat bespiegeling oor wat met rentekoerse gaan gebeur.

Roelof Botha

Diegene met kontantbeleggings sal natuurlik hul hoop op ’n koersverhoging vestig aangesien sulke beleggings die afgelope jaar vir die eerste keer in ’n lang tyd sleg afgesteek het by opbrengste wat op die JSE verdien is.

Met inflasie wat nou weer begin styg, is daar ongetwyfeld ’n kans dat rentekoersverhogings weer op die MBK se sakelys sal verskyn.

Mense en ondernemings met skuld sal egter nie te vinde wees vir enige verhoging van die repokoers nie omdat dit dadelik tot ’n gelykmatige verhoging van die prima oortrekkingskoers sal lei en die koste van kapitaal en krediet sal verhoog.

Daar is vyf belangrike oorwegings wat die MBK onder leiding van Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, in ag behoort te neem alvorens daar aan rentekoerse getorring word.

Eerstens bly werkskepping en hoër ekonomiese groei die land se voorste beleidsprioriteite.

Statistieke Suid-Afrika het pas aangekondig dat indiensneming nog sukkel om van die pandemie te herstel. Meer as ’n halfmiljoen mense het in die jaar tot Maart hul werk verloor en die meeste van die werkverliese was in poste met betreklik lae vaardigheidsvlakke.

Met die munisipale verkiesing op hande is dié nuus rede tot groot kommer vir die regering, veral in die lig van die onlangse toename in die voorkoms van betogings en maatskaplike onrus. Hoër rentekoerse sal die herstel van verbruikersvraag demp en werkskepping teenwerk.

’n Tweede aspek is die gebrek aan vraaginflasie – daarvoor het die ekonomie nog nie naasteby genoegsaam herstel nie. Die huidige toename in die algemene pryspeil is hoofsaaklik aan hoër brandstofpryse te wyte en die tradisionele sondebok – die staat se geadministreerde pryse. Hoër rentekoerse het geen invloed hierop nie.

Die afwesigheid van vraaginflasie word bevestig deur die lae vlak van kapasiteitsbesetting in die fabriekswese. Dié aanwyser het tussen 2017 en die begin van verlede jaar gemiddeld 81% beloop, wat reeds onaanvaarbaar laag was. In die vierde kwartaal van 2020 het dit mooi tot ’n vlak van 79,3% herstel, maar in die eerste kwartaal vanjaar weer na 74% teruggesak.

Derdens behoort die invloed van die rand se indrukwekkende herstel nog geruime tyd inflasionêre druk teen te werk. Suid-Afrika se geldeenheid het sedert die tweede kwartaal van 2020 die meeste ander geldeenhede in die stof laat byt met ’n versterking van 33% teenoor die Amerikaanse dollar.

k

’n Vierde aspek is die private sektor se kommerwekkende gebrek aan aptyt vir krediet, wat aan die einde van Maart 2,6% laer was as in Desember verlede jaar en 4,6% laer as in Maart verlede jaar (in reële terme). Positiewe groei in kredietverlening is ’n voorvereiste vir hoër ekonomiese groei en werkskepping.

k

Laastens is daar die vraag of Suid-Afrika se repokoers in pas is met die amptelike bankkoerse van belangrike handelsvennote. Die antwoord is nee.

Global-rates.com publiseer die amptelike rentekoerse van sentrale banke vir die 26 lande wie se geldeenhede die meeste verhandel word. Slegs sewe van dié lande het hoër bankkoerse as Suid-Afrika, terwyl 17 van hulle se koers minder as 1% is. Drie het negatiewe koerse (Denemarke, Japan en Switserland).

Die Reserwebank kan dit gerus oorweeg om die geheimsinnigheid om elke rentekoersvergadering van die MBK te laat staan. Amerika se sentrale bank, die Federale Reserweraad, hou nie die land se sakesektor en verbruikers aan ’n lyntjie nie, maar verskaf deurlopend duidelikheid oor die rigting wat rentekoerse oor ’n tydperk van tot twee jaar behoort in te slaan.

Tot tyd en wyl Suid-Afrika se ekonomie volledig van die pandemie herstel het, bestaan daar duidelik meer stawende argumente vir ’n verdere rentekoersdaling as ’n styging.

  • Dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer: Optimum-Beleggingsgroep, is ’n voormalige wenner van Netwerk24, Die Burger, Beeld, Volksblad en Rapport se Ekonoom van die Jaar-kompetisie.
Meer oor:  Reserwebank  |  Roelof Botha  |  Lesetja Kganyago  |  Sakesiening  |  Inflasiekoers  |  Rentekoers  |  Ekonomie  |  Inflasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.