Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Roelof Botha: Syfers wat suurknolle graag miskyk

So tussen die onstuimigheid op die internasionale valutamarkte en die toename in werkloosheid deur, spring groen lote oral op, wat op wesenlike ekonomiese herstel dui.

Een daarvan kan in die land se internasionale handel in die eerste ses maande van die jaar bespeur word.

Die waarde van sowel in- as uitvoer het tussen Januarie en Junie met meer as 8% gestyg teenoor die eerste ses maande van 2018, met invoer wat so ’n kortkop voor was.

Roelof Botha
Roelof Botha

’n Verspot klein tekort is in dié proses op Suid-Afrika se handelsrekening aangeteken, wat uiteraard geen rede tot kommer is nie.

Meer as twee-derdes van die land se totale invoer word deur slegs vyf afdelings van die tariefboek verteenwoordig, naamlik mineraalprodukte (hoofsaaklik olie), chemiese produkte, masjinerie en toerusting, voertuie en onderdele van toerusting.

Sonder ’n toename in die invoer van sodanige goedere kan die Suid-Afrikaanse ekonomie kwalik groei. In die reël gaan stewige groeikoerse in die invoer van veral voertuie en masjinerie met hoër ekonomiese groei gepaard.

In die eerste ses maande van die jaar het die invoer van dié twee afdelings met meer as 11% toegeneem, met Asië wat die voortou geneem het vir masjinerie en Europa wat weer die botoon gevoer het vir die invoer van voertuie.

ekonomie

Eenogige ontleders is soms geneig om onnodige problematiek betreffende ’n tekort op die lopende rekening van die betalingsbalans uit te lig, terwyl die stand van die finansiële rekening natuurlik ook in berekening gebring moet word.

Suid-Afrika ondervind nou al vir langer as ’n dekade ’n vlak van naby aan ewewig tussen die saldo’s van dié twee hoofrekenings op die betalingsbalans, met ’n deurlopende tekort op die lopende rekening wat min of meer deur ’n positiewe invloei van beleggingsfondse uit die buiteland uitgewis word.

Die goeie nuus eindig egter nie by die mooi toename in invoer nie.

Die uitvoer van voertuie het tussen Januarie en Junie vanjaar met 29% toegeneem teenoor die eerste semester van verlede jaar. Hier sak Asië egter terug na die derde plek, met Europa los voor en Afrika in ’n stewige tweede plek.

Dit bly kommerwekkend dat Suid-Afrika hoofsaaklik goedere met ’n hoë toegevoegde waarde van China af invoer, terwyl dié land meesal net in ons steenkool en ystererts belang stel.

Hopelik sal die nuwe uitvoerende leierskap by die departement van handel en nywerheid die Zuma-era se obsessie met ideologiese doelwitte opsy skuif.

Hopelik sal die nuwe uitvoerende leierskap by die departement van handel en nywerheid die Zuma-era se obsessie met ideologiese doelwitte opsy skuif en druk op die Chinese begin plaas om aan Suid-Afrika se reuse-handelstekort van sowat R48 miljard (tot nou toe vanjaar) te begin wegkalwe.

Suid-Afrikaanse vervaardigers kan immers bykans alles wat van China af ingevoer word, plaaslik vervaardig en relatief klein kwotas op sommige produkte (soos byvoorbeeld klere) het die vermoë om heelwat plaaslike werkgeleenthede te skep.

Kwotas is heeltemal aanvaarbaar wanneer dié maatreël op ’n land toegepas word wat omvangryke staatsubsidies aan uitvoerders verskaf (soos wat die geval in China is).

Dit wil nietemin voorkom asof die gety begin draai teen diegene wat genoeë daarin skep om enige brokkie negatiewe nuus oor die ekonomie uit te basuin.

Die rits van kernaanwysers wat in die tweede kwartaal met puik groeikoerse vorendag gekom het, voorspel ’n langverwagte ekonomiese herstel wat hopelik in komende maande gaan spoed optel.

  • Dr. Roelof Botha is die ekonomiese raadgewer van die Optimum Beleggingsgroep en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd.
Meer oor:  Roelof Botha  |  Resessie  |  Invoer  |  Uitvoer  |  Handel  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Handelsbalans  |  Sakesiening  |  Bbp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.