Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Roelof Botha: Vriend en vyand verras oor dié gebeure

Vaste investering in nuwe produksievermoë het in die tweede kwartaal van vanjaar skitterend herstel van die teleurstellende vertoning in die eerste drie maande van die jaar.

Roelof Botha
Roelof Botha

Vriend en vyand is verras deur die styging van meer as 18% (kwartaal tot kwartaal) in reële kapitaalvorming van April tot Junie; een van die hoofredes vir die terugkeer na positiewe ekonomiese groei.

Ná die bekendmaking van die negatiewe groeikoers in die eerste kwartaal het siniese ontleders dadelik begin bespiegel oor die moontlikheid van ’n resessie.

Dié pessimisme is egter lank voor die publikasie van die jongste syfers oor die bruto binnelandse produk (BBP) behoorlik die nek ingeslaan met ’n hele rits ekonomiese aanwysers wat kort ná die verkiesing op stewige groeikoerse gedui het.

Groen lote wat dui op ekonomiese herstel het reeds in April sigbaar geword. Namate data oor kernaanwysers bekend gemaak is, was dit duidelik dat ’n welkome ommeswaai van die eerste kwartaal se swak ekonomiese toestande op hande is.

Hef aan lê natuurlik voor en ’n mens kan maar net duim vashou dat daar gedurende die res van die jaar ’n konsolidasie van sterker ekonomiese aktiwiteit sal wees. Gelukkig lyk die kanse nogal goed, aangesien die omvang van herstel in verskeie kernsektore indrukwekkend is.

Die dubbelsyfer-groeikoers in nuwe kapitaalvorming in die tweede kwartaal is een van die belangrikste leidrade vir die verwagting dat hoër uitset kan volg, aangesien daar ’n sterk korrelasie tussen kapitaalvorming en BBP is (met ’n sloeringeffek).

Interessant genoeg, weerspreek die vlaag van groen lote en die jongste BBP-syfers die negatiewe neigings in verskeie opnames van sakevertroue wat onlangs verskyn het. Dit laat ’n mens wonder hoeveel subjektiwiteit in sulke opnames bestaan, aangesien die kwantifiseerbare feite ’n teenoorgestelde prentjie skets.

Dit mag wees dat negatiewe beriggewing oor die onlangse vlaag van maatskaplik-politieke onrus in Gauteng, gepaardgaande met die depresiasie van die rand en die daling in JSE-indekse in Augustus, die sentiment van respondente skeefgetrek het.

Konstruksie

Selfs die konstruksiesektor het in die tweede kwartaal mooi herstel, met die Afrimat-indeks van konstruksie-aktiwiteit wat met 3,1% toegeneem het – dieselfde groeikoers as die BBP.

Die verbetering van toestande in die konstruksiebedryf is gerugsteun deur ’n skitterende vertoning van die aanwyser vir die waarde van geboue wat voltooi is (15,8%-toename), terwyl indiensneming in die sektor ook in die tweede kwartaal toegeneem het.

Die konstruksiebedryf behoort ook in komende maande voordeel te trek uit verskeie groot projekte, insluitende Sanral se voorneme om padbou-tenders ter waarde van R40 miljard aan te vra en die sogenaamde meesterplan vir die Ekurhuleni-Aerotropolis. Laasgenoemde sal na verwagting ’n ekonomiese impak van meer as R8 miljard per jaar behels en sal deur vennootskappe tussen die openbare en die private sektor gedryf word.

Mynbou

Mineraalverkope is steeds die voorbok in die wedloop vir die sterkste groen loot, met platinum wat nou ook op die rug van die metaalpryslopie geklim het. Danksy stewige pryse vir goud, ystererts en platinum het die waarde van Suid-Afrika se mineraalverkope in die eerste ses maande van 2019 met meer as 13% toegeneem om ’n geskiedkundige hoogtepunt te bereik, naamlik R263 miljard.

Kleinhandelverkope het ook mooi herstel, ná ’n daalfase wat ’n jaar lank geduur het. Die waarde van kleinhandelverkope het van Januarie tot Junie vanjaar meer as R500 miljard beloop en die huidige reële groeitendens van dié kernaanwyser is 2,5% (jaar-tot-jaar).

Indien die nasionale tesourie se nuwe groeibeleid binnekort in werking gestel word, kan die ekonomie in die res van die jaar verder stoom opbou.

  • Dr. Roelof Botha is die ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsgroep en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.