Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rommel kom - en soos dit nou lyk, gaan SA lank ly

Van sowat 20 lande wat sedert die 1990’s hul status as beleggingsbestemmings verloor het, kon nog net sewe dié status herwin en dit het hulle gemiddeld sewe jaar geneem, sê Isaah Mhlanga, hoofekonoom van Alexander Forbes.

A monitor displays Moodys Corp. signage on the flo
Moody's se hoofkantoor is in New York. Foto: Getty Images

Al dié lande, waaronder Ierland en Thailand, het dit reggekry deur vinnig en doeltreffende strukturele hervormings in te stel, sê hy.

Moody’s, die enigste van die drie groot kredietgraderingsagentskappe wat Suid-Afrika se soewereine skuld nog op beleggingsgraad het, sal ons na verwagting ná die begroting in Februarie ook tot rommelstatus afgradeer.

Mhlanga sê as die stadige pas van strukturele hervormings in Suid-Afrika die afgelope twee jaar enige aanduiding is, kan dit die land baie langer as sewe jaar neem om sy beleggingstatus te herwin.

Baie min kan in die tyd tot die begroting op 26 Februarie gedoen word om dinge reg te ruk, sê hy.

Annabel Bishop, ’n ekonoom van Investec, sê in ’n nota indien die regering nie politieke en vakbondsteun kry om die staat se salarisverhogings in toom te hou nie, sal rommelstatus volg.

Só ’n situasie voorspel ’n wisselvallige rand en swakker ekonomiese groeivooruitsigte.

As Suid-Afrika tot rommelstatus afgegradeer word, sal Suid-Afrikaanse staatseffekte uit Citigroup se World Government Bond Index (WGBI) val, ’n indeks wat net in beleggingsgraadeffekte belê.

Markontleders het vroeër geraam dit kan tot ’n uitvloei van sowat R100 miljard uit die ekonomie lei, omdat institusionele beleggers van die effekte ontslae sal moet raak. Mhlanga sê egter die uitvloei kan kleiner wees omdat baie buitelandse beleggers reeds van hul geld uitgeneem het. Die afgradering is reeds in die mark ingeprys, maar die makro-ekonomiese aanpassing sal pynlik wees.

Izak Odendaal en Dave Mohr van Old Mutual Wealth het ook dié week in ’n verklaring gesê hulle verwag nie ’n groot markreaksie op afgradering nie. Die hoë opbrengste op Suid-Afrikaanse staatseffekte vergeleke met ander soortgelyke ontluikende markte, wys die slegte nuus is al ingeprys.

Isaac Matshego, ekonoom van Nedbank, sê die uitvloei ná afgradering kan minder wees as wat gevrees is omdat fondsbestuurders verlede jaar al sowat R28 miljard se staatseffekte verkoop het, soos wat Netwerk24 berig het.

Mhlanga sê in ander lande wat tot rommelstatus afgradeer is, was daar gewoonlik so 12 maande ná die afgradering ’n algemene verbetering in marktoestande. Boonop is daar fondsbestuurders wat nie gebind is om net in beleggingsgraadeffekte te belê nie – en hul geld sal wel na Suid-Afrika vloei.

Die Wêreldbank, Internasionale Monetêre Fonds en die Reserwebank verwag almal vanjaar groei van minder as 1% vir Suid-Afrika.

Intussen wys PwC se jongste peiling onder 1 600 uitvoerende hoofde in 83 lande dat maatskappybase in Suid-Afrika meer pessimisties is as hul internasionale eweknieë oor hul organisasies se groeivooruitsigte vir 2020.

Wêreldwyd verwag 53% (2019: 29%) van uitvoerende hoofde stadiger ekonomiese groei vanjaar.

Volgens Dion Shango, uitvoerende hoof van PwC Afrika, het Suid-Afrikaanse uitvoerende hoofde swak sakevertroue. Hulle beskou as die grootste bedreigings onsekerheid oor ekonomiese groei (75% van respondente), beleidsonsekerheid (67%), maatskaplike onstabiliteit (67%), te veel regulering (53%) en populisme (44%). Aan die sakefront is 42% van hulle bekommerd oor beskikbare vaardighede, en 50% oor werkloosheid.

Volgens Mhlanga sukkel Suid-Afrika met ’n verlies aan fiskale geloofwaardigheid omdat die tesourie telkens die teikens mis wat hy stel, soos om die begrotingstekort binne ’n sekere tyd in bedwang te bring. Hy sê enige verbetering – hoe klein ook al – in die begroting oor die regering se skuldlas of ’n kleiner begrotingstekort, sal goed ontvang word in die mark.

Te midde van praatjies oor ’n moontlike BTW-verhoging om die staat se geldkoffers aan te vul, sê Mhlanga Suid-Afrika het nie ’n inkomsteprobleem nie, maar ’n bestedingsprobleem, en die staat sal sy salarisrekening moet besnoei.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.