Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rommelstatus: C-gradering dalk SA se voorland!

Die onderhandelinge oor staatsamptenare se verhogings gaan waarskynlik vanjaar Suid-Afrika se kredietgradering bepaal.

Ekonome reken deur die bank dat as die regering voor vakbonde se eise swig en nie sy salarisrekening in toom kan hou nie, sal die land die sielkundige vlak van ’n C-gradering bereik.

Die eerste verwagte besluit vir 2021 oor Suid-Afrika se kredietgradering is dié van Moody’s Vrydagnag. Dit word skuins voor middernag verwag.

Altesame 87,5% van die ekonome wat aan Netwerk24 se peiling deelgeneem het, verwag dat die gradering óf onveranderd gelaat sal word óf dat Moody’s geen graderingsbesluit sal neem nie, wat op dieselfde neerkom. Die res (12,5%) verwag ’n afgradering.

Wat is die impak van die gradering?

Die land se gradering bepaal onder meer of buitelanders Suid-Afrikaanse staatseffekte wil koop of verkoop, en teen watter opbrengskoers.

Dit bepaal op sy beurt die rentekoers wat die staat moet betaal om beleggers te lok en het dus ’n impak op die staat se begroting.

Vir gewone mense het die gradering ’n invloed op die waarde van die rand. Dit maak die prys van ingevoerde produkte, waaronder brandstof, duurder en verhoog dus inflasie.

Hoër inflasie kan daartoe lei dat die rentekoers, wat die Reserwebank as sy primêre gereedskap beskou om inflasie in toom te hou, verhoog kan word.

Moody’s gradeer staatskuld twee vlakke onder beleggingsgraad en ’n afgradering met net een vlak sal nog nie ’n C-gradering beteken nie. Moody’s se vooruitsig op sy gradering is negatief.

k

Ná Moody’s kom S&P op 21 Mei aan die beurt. Fitch maak nie die datums van sy aankondigings bekend nie, maar dit val dikwels saam met dié van S&P.

Die Nedbank-ekonoom Isaac Matshego reken die skrif is aan die muur dat die land verder afgegradeer moet word, maar die kredietgradeerders kan dalk wag totdat ’n loonooreenkoms in die staatsdiens en by Eskom beding is.

Die Investec-ekonoom Kamilla Kaplan verwag ook dat Moody’s eers sal wag, maar dat die vooruitsig vir die gradering negatief sal bly.

Die onafhanklike ekonoom Ulrich Joubert reken Moody’s gaan dalk kommer uitspreek oor of die “onstabiliteit binne die ANC” ’n invloed op die hantering van die staatsfinansies sal hê.

Dit kom terwyl Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, teen sy skorsing weens aanklagte van korrupsie terugslaan.

LEES OOK: Ace ‘skors’ Cyril – nagtelike drama

Dr. Lumkile Mondi, ’n ekonomie-dosent aan die Universiteit van die Witwatersrand, reken boonop Moody’s sal daarop wys dat die trae pas van inentings in Suid-Afrika ekonomiese herstel ondermyn.

Moody’s se afgradering is dalk waarskynliker as dié van S&P en Fitch.

S&P en Fitch gradeer albei buitelandse effekte drie vlakke onder beleggingsgraad, en dus op die laaste B-vlak, terwyl S&P rand-effekte nog op twee vlakke onder beleggingsgraad gradeer.

moody's, fitch, s&P
Die stand van Suid-Afrika se kredietgraderings.

Fitch se vooruitsig is negatief en S&P s’n stabiel. Gewoonlik word ’n vooruitsig eers in negatief verander voordat ’n afgradering plaasvind.

Matshego reken die agentskappe sal “huiwerig wees om ’n land met ’n betreklik soliede institusionele beheer en diep plaaslike finansiële markte” tot die C-vlak af te gradeer. Hy reken dié faktor kan afgraderings met minstens ’n jaar uitstel.

1ste keer nóg?
Suid-Afrika was nog nooit op ’n C-gradering nie. Om die waarheid te sê, sy huidige graderings is die laagste sedert graderings in 1994 begin het.

“Die drie agentskappe het versigtig gereageer op vanjaar se begroting, met die waarskuwing dat die nasionale tesourie ’n uitdagende fiskale padkaart geteken het.

“Die teikens vir die begrotingstekort en staatskuld is grootliks op ekonomiese herstel en die inperking van die staat se salarisrekening gegrond. Daar is beduidende risiko’s vir albei dié faktore.”

Matshego sê die redes waarom Suid-Afrika in die eerste plek afgegradeer is, is steeds ongunstig. Dit sluit die swak ekonomie, staatskuld en die salarisrekening in.

Trae ekonomiese groei

Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) het in 2019 met net 0,2% gegroei en toe in 2020 weens die Covid-19-pandemie met 7% ingekrimp.

Die BBP per capita het sedert 2015 met gemiddeld 2,3% per jaar gedaal.

Die amptelike werkloosheidskoers is nou 32,5% en uitgebreide werkloosheid is 42,6%. Laasgenoemde sluit mense in wat nie op die oomblik probeer werk soek nie.

Ekonome wat aan Netwerk24, Beeld, Die Burger, Volksblad en Rapport se Ekonoom van die Jaar-wedstryd deelneem, verwag groei van tussen -2,2% en 5,6%, met die mediaan op 3,5%.

“Die inwerkingstelling van maatreëls wat groei versterk, bestaan byna nie, en die ekonomie gaan na verwagting eers teen 2023 na die vlakke van voor Covid-19 terugkeer. Dit dui daarop dat die maatskaplik-ekonomiese situasie nie vinnig gaan verbeter nie – en dis negatief vir die gradering,” sê Matshego.

Begrotingsprobleme

Die nasionale tesourie het pas aangekondig dat die land ’n begrotingstekort van R551,9 miljard of 11,2% van die BBP in die boekjaar tot einde Maart getoon het.

Dis vergeleke met die begrotingstekort van 12,3% wat Tito Mboweni, minister van finansies, in Februarie beraam het.

Volgens Matshego gaan die beter syfer egter nie genoeg wees om die kredietgradeerders te paai nie.

“Die tekort sal wyd bly en die hoeveelheid staatskuld oor die volgende drie jaar verder laat styg. Gedempte inkomstegroei sal ’n selfs groter las plaas op besnoeiings om die begrotingstekort te verklein.”

Staat se salarisrekening

Mboweni het in Februarie begroot dat die salarisrekening oor die volgende drie jaar met gemiddeld net 1,2% sal groei.

Onderhandelinge oor verhogings in die staatsdiens is tans op ’n dooiepunt, met die staat wat die tweede jaar agtereenvolgens geen verhogings aanbied nie, maar bereid is om die geld wat vir posvlak-bevorderings begroot is, as ’n eenmalige bonus uit te betaal. Dit beloop altesame R9 miljard.

Staatsdiensvakbonde eis inflasie plus 4 persentasiepunte, dus nagenoeg 7,2%. Daar word verwag dat ’n dispuut eersdaags verklaar gaan word wat die weg vir ’n staking in die staatsdiens kan baan.

Staatskuld is een van die faktore wat gaan bepaal of Moody’s Suid-Afrika Vrydag gaan afgradeer.

As vakbonde hul sin sou kry, sou dit volgens Matshego nog R274,3 miljard oftewel 15,6% bylas by die volgende drie jaar se salarisrekening, gegrond op geen nuwe aanstellings nie en ’n inflasiekoers van gemiddeld 4,5%.

Die staat se besluit om in 2020 geen verhogings toe te staan nie, ondanks die bepalings van die driejaarloonooreenkoms wat in 2018 begin het, word steeds in die hof betwis. Die konstitusionele hof moet einde Augustus daaroor beslis.

As die staat verloor, sal hy R37 miljard moet vind vir 2020 se verhogings.

Matshego waarsku ook die salariseis van Eskom-vakbonde skep ’n groot risiko dat nog hulppakkette van die regering sal moet kom. Dis wel hoogs onwaarskynlik dat die vakbonde NUM en Numsa die 15% gaan kry waarvoor hulle vra; Solidariteit eis 9,5%. Eskom het nog nie ’n aanbod op die tafel geplaas nie, want hy eis instemming dat diensvoorwaardes verander word.

LEES OOK: Eskom se loondispuut: Goue middeweg ontwyk

“’n Agteruitgang van ekonomiese vooruitsigte sal egter die kans op verdere afgraderings vanjaar verhoog.”

Hoe om afgradering te vermy of opgradering te kry

Kaplan sê Suid-Afrika sal ’n verdere afgradering kan systap indien Mboweni in Oktober se mediumtermynbegrotingsraamwerk ferm oor fiskale konsolidasie staan.

Matshego sê Suid-Afrika kan net sy kredietgradering verbeter as die regering langdurige makro-ekonomiese uitdagings tromp-op aanpak.

Dit sluit in:

  • Stabiliseer die staat se geldsake;
  • Verbeter staatsondernemings se geldsake om die las op die staat te verminder; en
  • Wis kragtekorte uit deur Eskom te stabiliseer en meer projekte vir hernubare energie te prioritiseer.“

Dié drie stappe sal vertroue verhoog, groter vaste investering deur die private sektor bewerkstellig en uiteindelike werkskepping stimuleer.”


Meer oor:  Fitch  |  Moody's  |  S&P  |  Eskom  |  Tito Mboweni  |  Staatsamptenare  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Staatskuld  |  Kredietgradering  |  Rommelstatus  |  Kredietgradeerders  |  Tesourie  |  Afgradering  |  Loononderhandelinge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.