Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rommelstatus: ‘Covid-19 wys ons kán saamwerk’

Suid-Afrika se lang verwagte afgradering tot volslae rommelstatus is die ANC-regering se skuld, wat nié die Covid-19-pandemie die skuld daarvoor kan gee nie, meen politieke partye en bedryfsliggame ná Moody’s se afgradering Vrydagnag.

Groot kommer heers oor Suid-Afrika se ekonomie weens die dubbele slag van Covid-19 en Moody’s se afgradering. Foto: iStock

Die Mineraleraad van Suid-Afrika sê dis die gevolg van “verspeelde kanse” om die ekonomie te herstruktureer. Die ANC wil onder meer nie die “duur en vermorsende naelstring van staatseienaarskap” sny nie en hou aan om “nie-strategiese, rampspoedig bestuurde staatsondernemings soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens” te ondersteun.

Geordin Hill-Lewis, DA-LP, sê: “Die ANC se hardkoppige weiering, oor jare heen, om te doen wat nodig is en strukturele hervormings in te stel, het ons reguit in ’n volslae ekonomiese krisis ingelei.”

Almal is dit egter eens dat die koronaviruskrisis nou voorrang geniet, waarna die ekonomie dringend hervorm moet word.

LEES OOK: Van E(skom) tot Z(uma): 8 redes vir SA afgradering

Die sakeliggaam Business Unity South Africa (Busa) sê dis nie nou die tyd om vinger te wys en “blaamspeletjies te speel” oor waarom Suid-Afrika afgegradeer is nie.

“Ons erken die dringendheid waarmee Suid-Afrika op Moody’s se afgradering moet reageer, maar ons moet as ’n land die onmiddellike ekonomiese impak van Covid-19 versag.

“As ons nie daarin slaag nie, sal ons in ’n baie slegter posisie wees om ons ekonomie te laat herleef ná die Covid-19-krisis, wat dit bykans onmoontlik sal maak om die ekonomie te herbou en weer op beleggingsgraad gegradeer te word.”

LEES OOK: Rand verswak dalk dié week tot R18/$

Suid-Afrikaners moet hulle daartoe verbind om saam te werk om die Covid-19-krisis te bowe te kom, maar ook om daarna die ekonomie saam te herbou.

“Ons het die afgelope paar weke as ’n land saamgekom om die Covid-19-uitbreking te beveg. Dié ‘verdrag’ moet die platform vorm waarvandaan ons nou die krisis van die afgradering trotseer.”

Lungisa Fuzile, uitvoerende hoof van Standard Bank, sê hoewel die afgradering byna onvermydelik was, is dit steeds teleurstellend en kom dit op ’n uitdagende tydstip. “Die volgende paar maande gaan uiters uitdagend vir elke Suid-Afrikaner wees.

“Ons onmiddellike verantwoordelikheid is om die regering se inperkingsinisiatiewe te ondersteun. Ons moet die kurwe van die pandemie verplat sodat ons kan terugkeer werk toe om ons ekonomie te herstel en dan te laat groei.”

Fuzile sê ná die inperking sal rekonstruksie vereis dat “strukturele hervormings op groot skaal versnel word”.

Hill-Lewis wil hê dat Tito Mboweni, minister van finansies, ’n nuwe “noodbegroting” by die parlement moet indien sodra die staat van inperking verby is.

Ons vasbeslotenheid om dié menslike gesondheidsuitdaging te trotseer, is ’n goeie teken dat ons die ekonomiese uitdagings wat voorlê, saam sal kan aanpak.
Mineraleraad van Suid-Afrika

“Dis nou nodig, aangesien geen van die inkomste- en groei-aannames waarop die Februarie-begroting gegrond is, sal oorleef nie . . .

“Die minister moet dit as ’n geleentheid sien om ’n heeltemal nuwe begroting ter tafel te lê wat die grondslag lê vir herstel wanneer dié krisis nou eers verby is en, selfs belangriker, Suid-Afrika se ekonomiese trajek grondliggend verander.

“As ons nie heeltemal van rigting verander nie, sal ons fiskale posisie onvolhoubaar word, en sal dit ’n reddingsboei deur die Internasionale Monetêre Fonds nodig en onvermydelik maak.”

Geordin Hill-Lewis, DA-LP.

Hy sê die ANC sal sterk moet staan teen vakbonde oor die voorgenome besnoeiing van R160 miljard oor die volgende drie jaar aan die staat se salarisrekening.

Die Mineraleraad sê die land is in ’n fiskale krisis gedompel wat deur nege jaar van korrupsie en staatskaping veroorsaak is. “Die feit dat nog nie eens een van die voorbokke betrokke in die rampspoedige staatskapingsprojek vervolg is nie, is kommerwekkend.”

Suid-Afrika het nou – te midde van die staat van inperking – geen ander keuse as om skadebeheer toe te pas nie, sê die raad.

“Ons vasbeslotenheid om dié menslike gesondheidsuitdaging te trotseer, is ’n goeie teken dat ons die ekonomiese uitdagings wat voorlê, saam sal kan aanpak.”

Die EFF sê die afgradering is die gevolg van die “rigtinglose” ANC-regering se ekonomiese beleid. Die party is bekommerd dat die staat se vermoë om maatskaplike toelaes en die salarisse van staatsamptenare soos gesondheidswerkers, onderwysers en polisielede te betaal, deur die afgradering geknou gaan word.

Die party pleit egter ook vir die opskorting van graderings te midde van die koronaviruskrisis omdat ’n verdere afgradering dit vir die regering moeilik gaan maak om die nodige finansiering te bekom vir die stryd teen die pandemie.

Wayne Duvenage, uitvoerende hoof van die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), het op Twitter gesê die afgradering was “onvermydelik, met of sonder die koronavirus”: “Dié uitkoms was ons geskenk van ’n dekade van (oudpres.) Jacob Zuma en swak ANC-beleidmaking”.

Moody’s het inderdaad uitgebrei oor die nalatenskap van Zuma, en gesê die “swak beheer oor staatsondernemings wat daardie era bemaak het, bly ’n belangrike rede vir die uitputting van fiskale bronne.

“Die breër uitkalwing van institusionele krag wat deur die wydverspreide korrupsie van die Zuma-administrasie veroorsaak is, is ’n belangrike faktor agter die agteruitgang van Suid-Afrika se kredietprofiel die afgelope jare,” luidens Moody’s.

Vakbond reageer

Die vakbond vir gesondheidswerkers Nehawu sê sedert 2015 buig die regering agteroor om die kredietgradeerders tevrede te stel deur nie-rente-uitgawes te besnoei.

“As ’n gevolg is die ekonomie gewurg, en slinger dit van een tegniese resessie na die ander te midde van stygende werkloosheid, armoede en ongelykheid.”

Nehawu beskou die staat se plan om salarisse te besnoei as ’n “rampspoedige pad” wat maatskaplike probleme sal vererger.

Die vakbond kap Mboweni se pleidooi dat alle Suid-Afrikaners moet saamwerk om die land se uitdagings op te los, “terwyl hy op arrogante wyse nog heeltyd staatsamptenare uitsonder”.

Staatsamptenare sal waarskynlik op 1 April weet wat hul salarisverhogings vanjaar gaan wees nadat die regering in die bedingingsraad vir staatsamptenare gesê het ’n driejaarooreenkoms wat in 2018 beklink is, gaan nie nagekom word nie.

Daarvolgens sou staatsamptenare vanjaar verhogings van inflasie plus een persentasiepunt (op laer posvlakke) of plus ’n halwe persentasiepunt (op hoër posvlakke) ontvang het.

Die nuutste voorstel van die staat is geen verhogings vir mense op hoër posvlakke nie en verhogings van die inflasiekoers vir laer posvlakke.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.