Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rommelstatus dalk reeds verdiskonteer

Suid-Afrika se geldeenheid het vriend en vyand verras deur die laaste kwartaal van 2019 stof in die oë van die meeste geldeenhede te skop – so asof die rand die Springbok-prestasie wou nadoen!

Roelof Botha
Dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum-groep.

Van begin Oktober tot einde November het die rand sy spiere gebult en met meer as 4% teenoor die Amerikaanse dollar verstewig. Dit is in Desember opgevolg deur nóg 'n praglopie waarin die rand se waarde weer eens met meer as 4% teenoor die dollar gestyg het om so byna-byna tot onder die vlak van R14 te beweeg.

Die verleentheid moet groot wees in die gange van die banke wie se valutahandelaars ’n vlak van R20 per dollar voorspel het. Tesame met die gewone groepie doemprofete wat aanhoudend net onheil vir die rand voorspel, kyk dié pessimiste nou behoorlik op hul neus.

Daar was darem ook heelparty ekonome wat hul nie misgis het nie en dit is veral Standard Bank en die Optimum Beleggingsgroep wat ’n pluimpie verdien vir hul raakvat-vooruitsig van ’n wisselkoers teenoor die dollar van R14 teen die einde van 2019.

Eintlik was dit nie ’n moeilike oefening om die noodwendigheid van ’n stelselmatige herstel van die rand raak te sien nie, aangesien die vertoning van Brasilië se geldeenheid, die reaal, al etlike jare lank ’n goeie leidraad is.

Albei lande het betreklik kort ná die 2008-’09-wêreldresessie ’n deurlopende verswakking van hul wisselkoerse ervaar, hoofsaaklik weens ’n kombinasie van swakker uitvoergroei, maatskaplik-politieke onrus (weens, onder meer, hoë werkloosheid) en dalende vlakke van beleggersvertroue weens korrupsie deur regeringsleiers.

Die politieke situasie in Brasilië het só versleg dat die land se president, Dilma Rousseff, in ’n staat van beskuldiging geplaas en skuldig bevind is. Haar voorganger, Lula da Silva, is weens korrupsie tronkstraf opgelê. Dié brokkie onlangse geskiedenis uit ’n Brics-vennoot besorg hopelik vir oudpres. Jacob Zuma en sy trawante slapelose nagte!

Oordrewe negatiewe verwagting

In die aanloop tot die afgradering van Brasilië se staatskuld tot rommelstatus het die kapitaalmarkte ’n hopeloos oordrewe negatiewe vooruitsig vir die land se ekonomie verwag en het die land se geldeenheid as gevolg hiervan aan die begin van 2016 ’n laagtepunt bereik.

valuta
So vergelyk die rand met die geldeenheid van Brasilië.

Ter plaatse het die rand byna dieselfde patroon gevolg, met ’n laagtepunt van R16,80 teenoor die dollar wat presies vier jaar gelede aangeteken is.

Met die wysheid van nabetragting bestaan daar min twyfel dat die wêreld se kapitaalmarkte ook in Suid-Afrika se geval oormatig negatief gereageer het op die swakker ekonomiese toestande en die voorkoms van staatskaping deur die sogenaamde Zuptas, wat besig was om aan die kaak gestel te word.

Dié oorreaksie is egter vinnig reggestel en ’n jaar later het albei lande se geldeenhede in gelid versterk. Daarna het die rand die reaal effens uitgestof, maar sedert 2018 is albei geldeenhede weer effens onder druk.

Die rand was nietemin aan die einde van Desember 2019 ’n volle 20% sterker as die draaipunt in Januarie 2016 – iets wat die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee (MBK) heeltemal onkant betrap het.

Indien die kapitaalmarkte wél aan die einde van 2015 die afgradering van Suid-Afrika se staatskuld tot rommelstatus verdiskonteer het, kan die rand bes moontlik die werklikheid van ’n afgradering deur Moody’s in Maart sommer fluit-fluit hanteer, sonder om wesenlik te verswak.

Gelukkig het die rand ’n nuwe bondgenoot in die goudprys, wat onlangs tot die hoogste vlak in bykans sewe jaar gestyg het. In die reël gaan ’n hoër goudprys met 'n stewiger rand gepaard.

Suid-Afrika se geldeenheid sal uiteraard wisselvallig bly, maar net soos die geval met ander geldeenhede van ontluikende markte, sal dit meestal voor die deur van internasionale politieke woelinge gelê kan word.

Intussen hoef daar nie oormatige vrees vir rommelstatus te wees nie – mits die regering se beheptheid met politieke ideologie deur pragmatiese markbeleid vervang word.

  • Dr. Roelof Botha is die ekonomiese raadgewer van die Optimum-groep en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-kompetisie.
Meer oor:  Roelof Botha  |  Rand  |  Rommelstatus  |  Sakesiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.