Die regering se reddingsboeie aan Eskom en onsekerheid oor sy toekomsplanne vir die kragreus kan die kredietgradeerder Moody’s Investors Service uiteindelik oortuig om die land se kredietgradering tot rommelstatus af te gradeer.

Lucie Villa, ’n visepresident en senior kredietbeampte van Moody’s.Foto: Elvira Wood
Maar aangesien sy vooruitsig vir Suid-Afrika se kredietgradering stabiel is, sal dit waarskynlik nie gou gebeur nie.
Só sê Lucie Villa, ’n visepresident en senior kredietbeampte van Moody’s.
Sy was Dinsdag een van die sprekers op dié kredietgraderingsagentskap se jaarlikse seminaar oor Afrika suid van die Sahara wat in Sandton, Johannesburg, gehou is.
Moody’s besluit na verwagting weer op 1 November oor sy kredietgradering vir Suid-Afrika.
Hy is tans die enigste van die drie groot kredietgradeerders wat Suid-Afrika se staatskuld nog op beleggingsvlak gradeer. Sy gradering is Baa3 – een vlak bo rommelstatus – met ’n stabiele vooruitsig.
Villa sê die geskiedenis wys dat wanneer Moody’s se vooruitsig stabiel is, hy nie die kredietgradering verander nie – hy verander eers die vooruitsig.
Villa sê Moody’s is bekommerd oor die staat se vermoë om die reddingsboeie wat hy onlangs aan Eskom toegestaan het, oor die volgende twee jaar in die fiskus te akkommodeer.
“Indien wel, verwag ons dat die fiskale tekort sowat 5% gaan wees. Indien nie, gaan dit waarskynlik tot meer as 7% styg.”

Tito Mboweni, minister van finansies, verlede week by die Wêreld- Ekonomiese Forum in Afrika (WEFA) se konferensie in Kaapstad. Foto: WEF
Hoe gaan Eskom omgedraai word?
Die regering het in Julie ’n verdere R59 miljard oor twee jaar aan Eskom toegeken.
Die reddingsboeie sal help om Eskom se skuld te stabiliseer. Maar Moody’s wil ook weet hoe Eskom uit sy verknorsing gaan kom.
Joanna Fic, visepresident verantwoordelik vir infrastruktuur-finansiering by Moody’s, sê Suid-Afrika se kredietgradering kan nie beoordeel word sonder om na Eskom te kyk nie.
Moody’s sê met Eskom se skuld tans op meer as R440 miljard, is sy kapitaalstruktuur nie volhoubaar nie.
“Daar is ongelukkig nie ’n maklike en vinnige manier om Eskom reg te maak nie,” sê Fic.
Dit help ook nie dat die vraag na krag daal en dat munisipaliteite hom miljarde rande skuld nie.
Alle oë op tesourie
Villa sê Moody’s hou die tesourie se begrotingsplanne fyn dop. Moody’s wil ’n “geloofwaardige begroting” sien wanneer Tito Mboweni, minister van finansies, in Oktober sy mediumtermynbegrotingsraamwerk lewer en ook weer in Februarie 2020 se jaarbegroting.
In die Februarie 2019-begroting was daar byvoorbeeld planne om die staat se loonrekening te verlaag. Moody’s sal dophou of daar hierby gehou word.
Moody’s verwag dat die staat op mediumtermyn belasting meer doeltreffend sal invorder danksy veranderinge by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Hoe doeltreffend dit op lang termyn sal wees, sal egter nog gesien moet word, sê Villa.
Ten opsigte van staatskuld kyk Moody’s na drie kwessies:
- Die verhouding van staatskuld tot die bruto binnelandse produk (BBP);
- In watter rigting skuld beweeg; en
- Die risiko verbonde aan skuld.
Moody’s sê as Suid-Afrika nie sy skuld onder beheer kry nie, kan die verhouding van staatskuld tot die BBP teen 2020 tot meer as 70% styg.
Villa sê die staat moenie net sê hoe hy beplan om sy skulduitdagings te oorkom nie, hy moet ook sy planne in werking stel.

Suid-Afrika se kredietgraderings ná Fitch se aankondiging op 26 Julie 2019.