Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rooivleispryse styg weens vraag, droogte
Suid-Afrikaners is lief vir hul rooivleis. Bevolkings- en inkomstegroei in veral die opkomende middelklas plaas druk op die beskikbare aanbod en dra by tot prysstyging.

Verbruikers moet hulle staal vir ’n aansienlike styging in die prys van rooivleis vir die res van die jaar. Die styging kan tussen 9% en 15% beloop, sê Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO).

In die aanloop tot Kersfees is daar in ’n land van vleisliefhebbers altyd ’n verhoogde aanvraag na vleis wat normaalweg die pryse opstoot.

Schutte waarsku dat ander faktore vanjaar ook druk op vleispryse sit. Een hiervan is dat Suid-Afrika deesdae meer rooivleis uitvoer wat die plaaslike aanbod verminder. Internasionale pryse is hoog in vergelyking met dié in Suid-Afrika.

“Weens die gunstige internasionale pryse word beperkte hoeveelhede Suid-Afrikaanse bees- en skaapvleis uitgevoer en uitvoer is besig om te eskaleer. Daar word na 42 lande uitgevoer en die rooivleisbedryf is ook besig met ’n uitvoerstrategie.”

Die impak van die droogte word ook steeds in die plaaslike rooivleisbedryf gevoel, sê Schutte.

Die internasionale scenario is dat die vraag na bees- en skaapvleis ook sal groei.

“Die droogte het tot gevolg gehad dat minstens 15% van die vroulike teelkuddes uitgeslag is weens ’n gebrek aan voldoende weidings. Indien normale reëns sou voorkom in die komende seisoene sal dit tussen vier en vyf jaar neem voordat normale slagtings- en aanbodfaktore weer geld.”

Hy wys ook daarop dat bevolkings- en inkomstegroei in veral die opkomende middelklas druk op die beskikbare aanbod sit.

“Vraag en aanbod dikteer die bedryf en vryemarkbeginsels geld. Daar is ’n verhoogde aanvraag vir bees- en skaapvleis weens dié groei.”

Op ’n jaargrondslag het die Suid-Afrikaanse produsenteprys van A-graad beesvleis met 8,1% gestyg en dit is volgens die RPO tans R38,56/kg, BTW uitgesluit. Die prys van Suid-Afrikaanse lamsvleis het met 9% gestyg en dit is tans R63,76/kg, BTW uitgesluit.

Die RPO verwag ook stygings bokant die inflasiekoers vir die volgende drie jaar.

Suid-Afrika is ’n netto invoerder van bees- en skaapvleis en die Suid-Afrikaanse rooivleispryse sal volgens Schutte die internasionale neiging volg. Die produsenteprys van A-graad beesvleis in die VSA is tans R64,05 en in China so hoog as R82,50. Lamvleispryse in die VSA is tans R126,72 per kg.

“Die internasionale scenario is dat die vraag na bees- en skaapvleis ook sal groei. Aan die aanbodkant is daar beperkings vir bees- en skaapvleisproduksie wat sal impakteer op hoër pryse in die toekoms.”

Meer oor:  Beesvleis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.