Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rook-saak: ‘38,5% van rokers met Covid-19 sterf’

Die tweede groot hofstryd teen die verbod op sigaretverkope gaan dalk op mediese getuienis neerkom – en dít oor ’n nuwe siekte waaroor heelwat teenstrydige inligting die ronde doen.

Petro Coetzer (66) van Boksburg het onlangs aan die betoging van #SmokersUniteSA deelgeneem. Sy rook al 40 jaar lank. Foto: Felix Dlangamandla

Navorsing wat die regering in nuwe hofstukke aanhaal, dui daarop dat 38,5% van rokers met Covid-19 sterf, teenoor tussen 2% en 4% van almal wat die siekte opdoen. Rokers loop ’n 2,4 keer groter risiko as nie-rokers om in ’n waakeenheid opgeneem en aan ’n ventilator gekoppel te word.

Daarom hou die regering vol dat die rede vir sy voortgesette verbod op sigaretverkope is “om mense se lewens en gesondheid te beskerm en die potensiële druk op die gesondheidstelsel te verminder”.

In sy betooghoofde haal hy die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en drie plaaslike kenners aan om te probeer bewys dat die verbod op die verkoop van tabakprodukte tydens die Covid-19-pandemie rasioneel en tot voordeel van sowel individuele rokers as die gesondheidstelsel is.

Die betooghoofde, wat Vrydagmiddag laat ingedien is, is in antwoord op die saak wat British American Tobacco South Africa (Batsa) en liggame wat onder meer tabakboere en -winkels verteenwoordig, in die Kaapstadse hooggeregshof aanhangig gemaak het.

Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, pres. Cyril Ramaphosa en die nasionale koronavirus-bevelsraad is die drie respondente in die saak. Benewens Batsa sluit die tien applikante ook die Black Tobacco Farmers Association en die South African Informal Traders Alliance in.

“Die oorwig van die getuienis uit die studies wat tot dusver gedoen is, is dat die gebruik van tabakprodukte dalk nie die risiko van Covid-19-oordrag laat styg nie, maar wel die risiko dat ’n ernstiger vorm van die siekte ontwikkel.

“Dit sal op sy beurt die druk op die gesondheidstelsel laat toeneem deur die aantal mense te laat toeneem wat hospitalisering en toegang tot hulpbronne soos beddens in waakeenhede en ventilators benodig,” luidens die betooghoofde.

Ondanks die tientalle studies wat aangehaal word, sê die regering die hofsaak gaan nie “oor watter kant se wetenskap beter is” nie. “Dit is nie die rol van die hof om wetenskaplike getuienis vir en teen die verbod op te weeg nie... Die vraag waaroor beslis moet word, voer ons aan, is of die wetenskaplike getuienis ’n rasionele grondslag verskaf vir die tydelike verbod op die verkoop van tabakprodukte, dus of ’n mens op grond van die wetenskaplike getuienis rasioneel tot die gevolgtrekking kan kom dat rook Covid-19-risiko’s verhoog.”

Die regering hou ook vol dat rokers sigarette deel en nie sosiale distansiëring toepas wanneer hulle dit doen nie.

Die regering meen die verbod op tabakprodukte is as doeltreffend bewys om die aantal rokers of die hoeveelheid wat hulle rook te verminder.

Hoe help ophou rook jou gesondheid?

As jy ophou rook, gebeur die volgende:

  • Binne 20 minute: Jou hartklop en bloeddruk daal.
  • Binne 12 uur: Die koolstofmonoksiedvlakke in jou bloedstroom keer terug na normaal.
  • Binne 2 tot 12 weke: Sirkulasie en longfunksie verbeter.
  • Binne 1 tot 9 maande: Hoes en kortasem verminder. Die risiko vir ’n hartaanval daal.

Dit is gegrond op navorsing van onder meer die VSA se Centers for Disease Control.

Peilings wat onlangs gedoen is, weerspreek mekaar.

In ’n peiling wat die Universiteit van Kaapstad gedoen het, is inderdaad bevind dat rokers se gemiddelde gebruik van 16,4 sigarette per dag tot 13,1 gedaal het. Nagenoeg die helfte van die respondente rook minder, 15% rook méér en 35% rook dieselfde aantal sigarette.

In ’n peiling deur die navorsingsfirma Real Research is egter bevind dat net vroue minder rook (sewe teenoor nege sigarette per dag), maar mans se gemiddelde verbruik het van 15 sigarette tot 17 sigarette per dag gestyg.

Die verbod het min of geen uitwerking gehad om rokers te laat ophou rook nie, is in albei peilings bevind.

Die regering kap kundiges wat Batsa aanhaal. Een is ’n Britse kenner, dr. Jaymin Morjaria, wat Britse syfers gebruik. Die regering beskou dit as onvoldoende omdat Suid-Afrika ook baie tuberkulose- en MIV-lyers het, vir wie rook ’n verdere las kan wees.

Die ander is Chris Proctor, wat ’n doktorsgraad in chemie en nie in die wetenskap het nie, en boonop moontlik as partydig beskou kan word omdat hy 36 jaar vir British American Tobacco gewerk het voordat hy in 2019 uitgetree het.

Die regering wys daarop dat die WGO onlangs gemaan het dat nie te veel gewig gegee moet word aan onbewese bewerings dat nikotien of tabak die risiko van Covid-19 verminder nie.

Die regering steun ook op die hofuitspraak in sy guns op 26 Junie in die hooggeregshof in Johannesburg in die saak wat die Fair-Trade Independent Tobacco Association (Fita) gebring het. Fita se aansoek om die verbod op tabakverkope aan die publiek onwettig te laat verklaar, het misluk.

Fita het Vrydag sy aansoek om verlof tot appèl by die appèlhof in Bloemfontein ingedien nadat verlof tot appèl in die hooggeregshof van die hand gewys is.

Meer oor:  Fita  |  Bat  |  Batsa  |  Nkosa­Zana Dlamini-Zuma  |  Cyril  |  Ramaphosa  |  Sigaretverbod  |  Vlak 4  |  Inperking  |  Koronavirus  |  Vlak 3  |  Tabakverbod  |  Tabak  |  Covid-19  |  Tabakbedryf  |  Sigarette  |  Staat Van Inperking  |  Sigaretverkope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.