Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rookverbod: Gaan dit oor dié 16 pasiënte? vra Batsa

Die tabakmaatskappy British American Tobacco South Africa (Batsa) sê sy hofsaak teen die regering gaan nie daaroor of dit slim is om te rook gedurende die Covid-19-pandemie of nie, maar oor wie dié besluit moet neem – die regering of elke roker self?

Regulasie 45 verbied nou al die verkoop van sigarette en ander tabakprodukte sedert Maart. Foto: Unsplash

“Voor die pandemie is die besluit aan volwassenes self oorgelaat. Die verkoop van sigarette is beheer maar nie verbied nie, ten spyte daarvan dat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) al voorheen gewaarsku het rook hou ’n gesondheidsgevaar in,” lui die finale betooghoofde van Batsa in die hofsaak wat volgende week aangehoor word.

Die regering is veronderstel om Vrydag sy finale betooghoofde in te dien.

Die saak van Batsa en nog nege applikante word op Woensdag 5 Augustus aangehoor.

Adv. Alfred Cockrell SC en adv. Achmat Toefy voer in die betooghoofde aan omdat rokers nou ontneem word van die keuse wat hulle voorheen self kon maak, is die onus op die regering om sy besluit te regverdig.

“Ons gaan toon, op grond van die minister (dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake) se eie weergawe, dat die openbare gesondheidsvoordele piepklein is opgeweeg teen die enorme skade wat aan rokers, die rolspelers in die tabakvoorraadketting en die fiskus aangerig word.

“Uiteindelik gaan die saak oor die standaard van die regverdiging waaraan die regering gehou word ten opsigte van ’n besluit wat min voordele het en baie skade veroorsaak.”

En of dié standaard nou die Grondwet of die administratiewe reg is – die minister bly in gebreke om dit te regverdig, meen Batsa.

Regulasie 45 – wat die verkoop van tabakprodukte verbied – skend ’n aantal grondwetlike regte en is kragtens administratiewe reg onreëlmatig en ongeldig, voer hulle aan.

Cockrell en Toefy verwys na die hofsaak van die Fair Trade Independent Tobacco Association (Fita) oor regulasie 45 wat onlangs deur ’n volle regbank van die hand gewys is. Fita se saak is egter nie op grond van die Handves van Menseregte betwis nie en die uitspraak het dus ook nie die grondwetlike kwessies hanteer nie.

Ten opsigte van die administratiewe reg is daar oorvleueling met die Fita-saak, maar hulle voer aan dié uitspraak is ten opsigte hiervan “duidelik verkeerd”.

Grondwetlike regte van elke rolspeler

Van die applikante is rokers wat in hul funderende eedsverklarings sê hoewel die minister “probeer ontken” dat hul grondwetlike regte geskend word, “klink haar geformuleerde ontkenning hol”.

Art. 10 van die Grondwet handel oor mense se inherente waardigheid. Dit sluit in die reg van volwassenes om hul eie keuses te maak en hul eie sake te bestuur.

Maar die minister ontken dat regulasie 45 die reg op waardigheid beperk. Sy voer volgens die applikante aan dat enige invloed op die reg tot waardigheid “toevallig” is aangesien die hoofdoel van die regulasie was om kommersiële bedrywighede te beheer.

“Hierdie verstommende erkenning is strydig met die minister se hele regverdiging van regulasie 45 omdat sy keer op keer sê die doel daarvan is om die voorkoms van rook te verminder.”

Art. 14 van die Grondwet gee aan almal die reg op privaatheid. Maar luidens die minister se eedsverklaring is enige invloed wat die regulasie op die reg op privaatheid het, bloot toevallig.

Art. 12(2) van die Grondwet, wat handel oor ’n persoon se reg op vryheid en veiligheid, verskans die reg tot liggaamlike en sielkundige integriteit, wat insluit die reg tot beheer oor hul eie liggaam.

“Die pandemie en die gevolglike inperking is vir baie mense stresvol. Toegang tot tabak en e-sigarette wat ontneem word, skep frustrasie, verhoog irritasie en stres en dit sal waarskynlik ’n negatiewe invloed op mense se emosionele welstand hê. Volwassenes het die outonomie om die produkte te kies wat hulle wil gebruik om stres te hanteer.”

Om haar besluite te regverdig, moet die minister die toets in art. 36(1) van die Grondwet slaag. Dié toets, ten opsigte van proporsionaliteit, stel ’n baie hoër hekkie as in die rasionaliteitstoets wat in Fita se uitspraak ter sake was, voer die applikante aan.

Gesondheidsgevare van rook

Die minister sê regulasie 45 is ook nodig weens die gesondheidsgevare van hóé mense rook, soos dat rook hul hande naby hul gesig bring.

Dit kan egter hanteer word deur bewusmakingsveldtogte oor higiëne en die was van hande. Koeldrank word nie verbied omdat die regering bang is mense drink uit dieselfde bottel nie.

Batsa voer aan die verbod het die moontlikheid van riskante gedrag vererger omdat smokkelsigarette duurder as wettige sigarette is.

Daar is geen bewyse vir bewerings dat rokers ernstiger siek word aan Covid-19 nie. Die minister se kommer dat rokery die gesondheidstelsel gaan oorlaai, word nie deur die ervaring in ander lande ondersteun nie, lui hofstukke.

Daarby het regulasie 45 nie die getal rokers in die land wesenlik verminder nie – “en het dit dus nie sy beoogde doelwit bereik nie”.

Op grond van syfers wat die minister gebruik, bereken Batsa dat as die pandemie ’n jaar lank duur, daar op enige gegewe tydstip 16 pasiënte minder in die waakeenhede sal wees as wat die geval sou wees as daar geen rookverbod was nie.

Dit is 0,5% van die sowat 3 300 waakeenheidbeddens in die land.

As die pandemie net ses maande duur, verdubbel dié getal tot 33.

“Die ongelooflike klein persentasie regverdig nie die enorme skade wat regulasie 45 aanrig nie. Die skade sluit miljarde rande in wat die fiskus verloor.”

Die applikante het beraam die verlies aan aksyns is sowat R35 miljoen per dag.

Die applikante voer ook aan die regulasie ontneem tabakboere en tabakwinkels van hul reg om ’n bestaan te maak.

Hulle voer aan regulasie 45 moet ongrondwetlik verklaar word en ook hersien en tersyde gestel word.

Meer oor:  Batsa  |  Staat Van Inperking  |  Rookverbod  |  Regulasies  |  Hofsaak  |  Sigarette
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.