Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rosestad afgegradeer weens miljarde rande skuld

Die Mangaung- metropolitaanse munisipaliteit, wat Bloemfontein insluit, is deur Moody’s Investors Service afgegradeer.

Die Vrystaatse hooggeregshof in Bloemfontein. Foto: Alzane Narrain

Moody’s sê boonop die risiko is hoog dat die munisipaliteit verder afgegradeer gaan word omdat sy geldsake beroerd lyk. Die munisipaliteit kan nie sy bedryfsuitgawes dek nie, grootliks omdat duisende inwoners elke maand nie vir dienste soos krag en water betaal nie.

Mangaung se langtermyn- globale gradering is met een vlak tot Ba3 afgegradeer. Dit is drie vlakke onder beleggingsgraad op Moody’s se skaal. Die langtermyn- nasionale gradering is ook met een vlak tot Baa1.za afgegradeer en die korttermyn- nasionale gradering tot P-2.za. Slegs die korttermyn- globale gradering bly onveranderd op NP.

Die afgradering is Donderdagaand uitgereik en kom op dieselfde dag dat die Suid-Afrikaanse indeks van verbruikerstevredenheid (Sacsi) oor munisipaliteite uitgereik is. Daarvolgens het Mangaung-inwoners se tevredenheid met munisipale dienslewering tot net 40,5 punte op die indeks gedaal – die laagste punt wat enige munisipaliteit nog behaal het sedert die indeks opgestel word.

Daniel Mazibuko, Moody’s se medehoofontleder vir die gradering van Suid-Afrikaanse munisipaliteite, sê die afgradering weerspieël die agteruitgang in die munisipaliteit se geldsake.

Die afgelope drie boekjare handhaaf Mangaung ’n negatiewe bedryfsbalans. Bedryfsuitgawes styg teen gemiddeld 7% per jaar amper dubbeld so vinnig as bedryfsinkomste, wat met gemiddeld 4% per jaar gestyg het.

In dié tyd het die skuld van verbruikers met gemiddeld 29% per jaar gestyg. Altesame 83% van skuld is nou al langer as 91 dae agterstallig.

In Februarie is berig inwoners se agterstallige skuld vir munisipale dienste beloop R5,1 miljard. Dié skuld styg maandeliks met meer as R84 miljoen.

Die metroraad het reeds ’n finansiële herstelplan in samewerking met die tesourie opgestel, waarvan die doel is om skuldinvordering te verbeter en ook om te verseker dat die munisipaliteit sy krediteure vinniger kan betaal.

Inwoners van Bloemfontein het pas gehoor hul watertoevoer gaan dalk onderbreek word omdat Mangaung vir Bloemwater R247 miljoen skuld. Dit sal nagenoeg 900 000 mense raak.

Aan die positiewe kant het Mangaung betreklik min skuldbriewe (effekte) uitgereik en beplan die munisipaliteit nie om in die volgende paar jaar nog geld te leen nie, sê Moody’s.

Moody’s plaas Mangaung se laer gradering weer op hersiening omdat die munisipaliteit se geldsake nog lank onder druk gaan bly. Die uitwerking van die herstelplan sal intussen gemonitor word, veral om te kyk of die invordering van skuld verbeter.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.