Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rykes se vertroue val verste in 1ste kwartaal

Ryker verbruikers se vertroue het in die eerste kwartaal van die jaar die verste geval en dit voorspel niks goeds vir winkelgroepe nie.

Verbruikers in Suid-Afrika bereik nou die punt waar dit ’n daaglikse stryd is om kos op die tafel te sit. Foto: Cornél van Heerden

FNB en die Buro vir Ekonomiese Ondersoek se peiling oor verbruikersvertroue toon in die eerste kwartaal het verbruikers se vertroue in die geheel tot byna nul geval. Die indeks wat uit die peiling saamgestel word, staan nou op ’n punt van 2 nadat dit met 5 punte geval het.

Verbruikersvertroue was verlede jaar in die eerste kwartaal op ’n rekord van 26 indekspunte in wat toegeskryf is aan “Ramaforie” nadat Cyril Ramaphosa president geword het.

Volgens Mamello Matikinca-Ngwenya, hoofekonoom van FNB, toon ’n punt van 2 dat verbruikers nie optimisties of pessimisties is oor die vooruitsig vir die ekonomie en hul huishoudelike geldsake nie.

Dit is die eerste keer in meer as ’n jaar dat verbruikers nie verwag dat die ekonomie in die komende 12 maande gaan verbeter nie. Daarteenoor het hulle verlede jaar heeljaar geglo die ekonomie gaan verbeter.

Matikinca-Ngwenya het die val in die eerste kwartaal aan ’n wesenlike daling in dié onderafdeling van die peiling toegeskryf. Die onderafdeling het tot nul geval van 14 punte in die vierde kwartaal van 2018. In die ooreenstemmende kwartaal ’n jaar gelede was dit 34 punte.

Mamello Matikinca, hoofekonoom van FNB.

Volgens haar is die meeste Suid-Afrikaners nou pessimisties oor die vooruitsig vir die ekonomie.

“Daar bestaan geen twyfel dat die skok van die fase 4-beurtkrag wat Eskom tussen Februarie en Maart ingestel het, ’n baie negatiewe uitwerking op die Suid-Afrikaanse ekonomie gehad het nie.”

Sy meen dit is glad nie verrassend nie dat verbruikers meer bekommerd is oor die ekonomiese vooruitsigte.

Ander moontlike bydraende faktore, sluit in die stakings, verswakking in die rand, skerp brandstofprysstygings en die styging in persoonlike belasting wat in Februarie aangekondig is.

Rykes val ver

Die ergste val in verbruikersvertroue is onder rykes gemeet.

Hoërinkomstegroepe (mense wat meer as R14 000 per maand verdien) se vertroue het met 13 punte tot 3 geval.

Dit is steeds beter as die 2 van middelinkomstegroepe (wat tussen R3 000 en R14 000 verdien).

Boonop is dit baie beter as die armstes in die land (wat minder as R3 000 per maand verdien) s’n van -9.

“Gegewe die oneweredige koopkrag van die hoërinkomstegroepe, is die wesenlike agteruitgang in hul vertroue nie goed vir die sukkelende kleinhandelsektor nie.”

Die waarde van kleinhandelverkope het met net 3% jaar tot jaar gestyg tussen Oktober 2018 en Januarie 2019 – die stadigste sedert die resessie van 2009.

“Terwyl die verkope van duursame goedere soos meubels en huishoudelike toerusting van die beste in 2018 was, gaan dit waarskynlik vanjaar verlangsaam.

“Wanneer verbruikersbesteding laag is, stel verbruikers groot aankope uit en verminder hul besteding op nienoodsaaklikhede.”

Sy meen die daling in nuwemotorverkope teen 8,6% jaar tot jaar in die eerste kwartaal dui reeds daarop dat die verbruikersgroep rem aanslaan met duursame goedere.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.