Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
SA beurs nog bewerig ná ‘bloedbad’

Die JSE, wat aanvanklik Dinsdag ’n verbetering getoon het ná die skerp val die vorige dag, het teen middagete weer begin daal. Beleggers se angstigheid oor die verspreiding van die koronavirus internasionaal wil net nie wyk nie.

Die plaaslike mark het Maandag sy skerpste val sedert einde 2008, midde-in die internasionale finansiële krisis, getoon toe die indeks van alle aandele van die JSE 4% laer gesluit het. Die indeks was Dinsdag teen middagete 92 punte laer nadat dit die vorige dag meer as 2 200 punte verloor het. Die indeks het Maandag op 54 882 gesluit en is nou op 54 788.

LEES OOK: SA aandele val skerpste sedert 2008 oor virus

Die JSE is nou op sy laagste vlak in meer as twee maande.

Van die groot dalings Dinsdag op die JSE was in goudmynaandele nadat beleggers effens teruggetrek het van goud toe hul vrese oor die koronavirus ietwat gekalmeer het. Die indeks van goudmynaandele het Maandag stewig gestyg.

Finansiële maatskappye se aandeelpryse het verder slae gekry in aanloop tot die onsekerheid of die begroting Woensdag die internasionale kredietreguleerder Moody’s gaan oortuig om nie nou die land se staatskuld na rommel af te gradeer nie.

’n Foto van die beweging in aandeelpryse op die JSE.

Die indeks van die 15 grootste finansiële aandele het teen die middag met 1% gedaal. Aandeelpryse van Sanlam, Absa, Nedbank, Discovery, Standard Bank, FirstRand en Capitec is almal meer as 1% laer.

Baie kleinhandelaars se aandeelpryse is ook laer, soos Woolworths, wat met 2,6% gedaal het. Die maatskappy het egter sy eie kopsere en boonop het Shoprite getoon Checkers vat moontlik markaandeel van hom en Pick n Pay. Pick n Pay het met 1% gedaal.

The Foschini Group is 1% laer en Mr Price amper soveel. Massmart, wat ook sy eie kopsere het, het met 2% gedaal en die Lewis-groep meer as 3%.

Bloomberg berig kleinhandelaars se aandeelpryse gaan waarskynlik die grootste impak toon as belasting Woensdag met die begrotingsrede verhoog word.

Besteebare inkomste is reeds onder druk en verbruikersvertroue baie laag.

’n Belastingverhoging kan verbruikersbesteding verder aftrek, volgens Sandy McGregor, ’n portefeuljebestuurder van Allan Gray.

Henre Herselman, ’n handelaar in afgeleide instrumente van Anchor, meen as die BTW-koers verhoog word, gaan klerewinkelgroepe dit die meeste voel.

Kleregroepe voel reeds die impak van verbruikers wat hul besteding van nienoodsaaklike produkte na kos verskuif terwyl hul besteebare inkomste krimp.

Chris Holdsworth, hoofbeleggingstrateeg van Investec Wealth & Investment, sê die mark het nie ’n BTW-verhoging ingeprys nie en as dit wel kom, kan kleinhandelaars se aandeelpryse ’n knou kry.

“Hoër belasting kan lei tot laer besteebare inkomste, wat kan deursypel na aandeelpryse,” sê Casparus Treurnicht, ’n portefeuljebestuurder van Gryphon.

Hy verwag as dit gebeur gaan die waardasies van kleinhandelaars vir nog langer onder druk bly.

Meer oor:  Ekonomie  |  Jse  |  Begrotingsrede  |  Begroting  |  Begroting2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.