Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
SA bloei nóg 34 000 poste
Suid-Afrika het 34 000 poste uitgewis in die tweede kwartaal. Illustrasie: iStock

Suid-Afrikaanse ondernemings het in die tweede kwartaal van die jaar 34 000 mense afgelê - dít nadat 48 000 poste ook in die eerste kwartaal verlore gegaan het.

Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) se kwartaallikse indiensnemingsindeks (QES) het firmas vergeleke met ’n jaar gelede darem 13 000 meer mense in diens gehad, maar dis ’n fraksie van die groei in die arbeidsmag self.

Suid-Afrika se staatsdiens het nou nagenoeg 22 000 mense minder in sy diens as ’n jaar gelede en banke en ander finansiële instellings het 3 000 minder mense in hul diens.

Die grootste wins vergeleke met ’n jaar gelede was die 48 000 mense wat in die handelsektor aangestel is.

Suid-Afrika se uitgebreide werkloosheidskoers is 36,4%, het SSA vantevore in sy kwartaallikse indiensnemingsindeks (QLFS) bereken.

Uit die 8 sektore wat SSA meet, het 5 tussen die eerste en die tweede kwartaal mense afgelê of poste nie weer gevul as mense aftree of van werk verander nie. Net 2 sektore, handel en mynbou, het in die kwartaal werk geskep, hoewel net 3 000 poste elk. Die kragsektor het onveranderd gebly. Só lyk die prentjie:

  • Mynbou +3 000 poste
  • Vervaardiging -13 000
  • Krag 0
  • Konstruksie -11 000
  • Handel + 3 000
  • Vervoer -5 000
  • Sakedienste (wat finansiële dienste insluit) -1 000
  • Gemeenskapsdienste (hoofsaaklik die staatsdiens) -10 000
  • Totaal: -34 000, ’n daling van 0,4%

Vergeleke met ’n jaar gelede het 5 sektore ook poste gebloei en 3 het poste geskep. Só sien die prentjie daar uit:

  • Mynbou +9 000 poste
  • Vervaardiging +2 000
  • Krag -1 000
  • Konstruksie -9 000
  • Handel +48 000
  • Vervoer -11 000
  • Sakedienste (wat finansiële dienste insluit) -3 000
  • Gemeenskapsdienste (hoofsaaklik die staatsdiens) -22 000
  • Totaal: +13 000, ’n styging van 0,1%

Volgens die QES is daar nou 9,651 miljoen poste in die formele sektor. Dit beteken nie soveel mense het werk nie - die QES tel poste en dit kan wees dat mense meer as een werk het.

Salaris

Statistieke Suid-Afrika bereken dat gemiddelde salarisse in die tweede kwartaal 6,9% hoër was as in die tweede kwartaal van 2016. In Mei was die gemiddelde bruto salaris R19 170. Dit sluit bonusse en oortydbetaling in.

Dis slegs vir die formele sektor en sluit dus onder meer landbou en mense wat vir hulself werk, uit.

Die QES se syfers vir die formele sektor is ook laer as dié van die QLFS, wat bereken 11,337 miljoen mense werk in die formele sektor.

Die diskrepansie kan toegeskryf word daaraan dat die QES slegs ondernemings meet met ’n omset van meer as R300 000 per jaar en ook omdat baie mense in die QLFS hulself in die formele kategorie plaas wanneer hulle eintlik by informele ondernemings werk.

Volgens die QLFS het altesame 16,212 miljoen Suid-Afrikaners die een of ander soort werk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.