Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
SA bly nr. 38 op lys van rykste lande

Suid-Afrikaners het te midde van ’n resessie in 2019 tog ryker geword. Boonop lyk dit asof hulle minder gretig geword het om skuld aan te gaan.

Bruto finansiële bates het in 2019 die vinnigste in meer as ’n dekade gestyg, met 9,7% tot €192 000 miljard. Foto: iStock

Volgens Allianz se World Wealth Report vir dié jaar – voor die aanvang van die Covid-19-pandemie – het die netto finansiële bates per capita in Suid-Afrika tot €7 125 gestyg. Dis 7% meer as in 2018.

Netto finansiële bates is finansiële bates nadat skuld daarvan afgetrek is. Suid-Afrikaners se skuld per capita het met 5% gegroei tot €2 476 per capita. Finansiële bates word gedefinieer as sekuriteite (aandele en effekte), kontant, en versekeringspolisse en pensioenfondse.

Suid-Afrika se posisie op die ranglys van die 57 lande wat Allianz ontleed, bly sedert 2018 onveranderd op nr. 38.

Die land is nr. 41 in terme van bruto finansiële bates, dus voordat skuld afgetrek is. Bruto finansiële bates beloop €9 600 per capita.

Die feit dat Suid-Afrika hoër op die ranglys – dus “ryker” – is nadat skuld afgetrek is, beteken relatief tot enkele ander lande het Suid-Afrikaners minder skuld.

Die rykste lande volgens netto finansiële bates is Amerika (€209 524), Switserland (€195 388), Singapoer (€116 657), Nederland (€114 287) en Taiwan (€110 706).

Op bruto vlak is Switsers ryker as Amerikaners, maar hulle het meer skuld.

Die verslag wys dat bruto finansiële bates die vinnigste in meer as ’n dekade gestyg het, met 9,7% tot €192 000 miljard.

Dis grootliks danksy die 13,7%-styging in sekuriteite (aandele en effekte), wat Allianz toeskryf aan rekordlae rentekoerse wat meer mense op beurse laat belê het.

Die waarde van polisse en pensioene het met 8,1% gestyg en van bankdeposito’s met 6,4%.

Allianz gee toe dat die 2019-verslag soos ou nuus voel in die lig van die pandemie wat sedert die begin van die jaar soos ’n veldbrand deur die wêreld versprei en ekonomieë lamlê.

Maar 2020 gaan huishoudings nie noodwendig armer laat nie. Allianz se aanvanklike ramings dui daarop dat die verliese van die eerste kwartaal – toe aandelebeurse wêreldwyd in duie gestort het – is reeds teen die einde van die jaar omgekeer en finansiële bates was reeds 1,5% meer as einde 2019.

Dis grootliks danksy ’n styging van 7% in bankdeposito’s, wat aangehelp is deur regeringsteun tydens die pandemie en mense wêreldwyd wat probeer om ’n noodfonds op te bou.

Vir die volle 2020 voorspel Allianz ’n 3,3%-styging in finansiële bates.

Vir die negende opeenvolgende jaar is banke die plek waar die meeste mense hul geld spaar. Dit het 46% van alle nuwe spaargeld gelok. Uit al 57 lande was slegs Amerikaners en Duitsers netto kopers van sekuriteite.

Meer oor:  Allianz  |  Rykdom  |  Superrykes  |  1%  |  World Wealth Report  |  Welvaart
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.