Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
SA bly op vlak 3, maar hier’s 12 dinge wat jy moet weet

’n Stroewe pres. Cyril Ramaphosa het Suid-Afrikaners Sondagaand toegespreek oor die dramatiese styging in die aantal Covid-19-gevalle en -sterftes in die land, en die enorme druk op die gesondheidstelsel. Hier is ’n opsomming van hoe sy aankondigings en die regulasies wat net daarna in die Staatskoerant gepubliseer is, jou raak. Al die regulasies word onmiddellik van krag, met die uitsondering van die aandklokreël, wat Maandagaand in werking tree.

  

Drankverkope word onmiddellik verbied.
1. Suid-Afrika keer nie terug na vlak 4 of 5 nie

Ramaphosa sê gegewe dat die infeksiekoers tans baie hoog is, het die nasionale bevelsraad oorweeg of die land of dele van die land moet terugkeer na strenger vlakke van inperking. Daar is egter geen sekerheid dat dit wel sal help om die piek te vertraag nie.

Die hele land bly dus op vlak 3, maar Ramaphosa sê wetstoepassing gaan strenger wees. Mense móét maskers dra of minstens hul gesig met ’n T-hemp of ander materiaal bedek.

2. Verbod op drankverkope weer ingestel

Daar is slegte nuus as jy die naweek jou drankvoorraad opgedrink het: Alle drankverkope word onmiddellik weer verbied.

Suid-Afrikaners kon sedert 1 Junie drank koop, al was dit net Maandag tot Donderdag van 09:00 tot 17:00. Drankwinkels sal egter nie Maandag heropen nie.

Dit is omdat daar duidelik bewys is dat drankverkope tot geweld en ongelukke lei wat hospitale se noodeenhede besig hou, sê Ramaphosa. Dít terwyl mense met Covid-19 plek-plek weggewys moet word weens ’n gebrek aan plek.

3. Bly saans tuis!

’n Aandklokreël word heringestel. Niemand behalwe werkers in noodsaaklike bedrywe na of op pad van die werk af mag ná 21:00 saans of voor 04:00 soggens op straat wees nie.

Die vorige aandklokreël, wat in Junie op vlak 3 geskrap is, het van 20:00 tot 05:00 gegeld.

Die aandklokreël geld van 21:00 op Maandag 13 Julie.

4. Maskers wet, maar nie as jy oefen nie!

Die dra van ’n masker of ander soort bedekking van jou mond en neus is wet. Daar is egter vir die eerste keer ’n uitsondering: Mense wat veeleisende oefening doen, hoef nie ’n masker te dra nie, mits hulle 3 m van ander mense af bly.

Die minister van gesondheid moet bepaal wat “veeleisende (vigorous) oefening” behels. Dis nog nie Sondagaand gepubliseer nie.

5. Verbod op sigaretverkope sleep voort

Die verbod op sigaretverkope, wat reeds sedert 27 Maart geld toe die land 108 dae gelede ingeperk is, duur voort. 

6. Besoeke aan familielede, vriende bly verbode

Ramaphosa het gesê in die lig van die vinnige verspreiding moet sosiale bedrywighede steeds beperk word. Hy sê hy besef dit plaas enorme emosionele druk op mense, veral dié met bejaarde ouers. Hy sê dit bly egter nodig ten einde die verspreiding van die virus te beperk.

7. Parke is oop, strande bly toe

Ramaphosa het aangekondig openbare parke maak weer oop “vir oefening, nie vir samekomste nie”. Hoewel daar vroeër berig is dat regulasies toelaat dat strande ook oopgestel word, het Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dit Maandag tydens 'n bespreking van die regulasies, egter duidelik gestel dat strande steeds gesluit bly.

8. Veilings mag weer gehou word

Alle veilings mag weer gehou word, mits reëls oor ontsmetting, maskers en gesonde afstande gehandhaaf word.

9. Ramptoestand bly geld

Ramaphosa het die nasionale ramptoestand tot 15 Augustus verleng.

10. Taxi’s mag nou 100% vol wees

Langafstand-taxi’s mag nie meer as 70% vol wees nie, maar taxi’s wat kort afstande ry, mag weer 100% vol wees, op voorwaarde dat almal maskers dra, vensters oop is en voertuie ontsmet word.

11. Vakansie gaan bly verbode

Plaaslike vlugte en verblyf vir ontspanning bly verbode. 

12. Sportgeleenthede bly verbode

Groot sportgeleenthede mag steeds nie gehou word nie.



Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Covid-19  |  Drank  |  Alkohol  |  Vlak 3
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.