Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
SA daal op eiendomsreg-ranglys
Die debat oor grondonteiening sonder vergoeding woed vurig in Suid-Afrika sedert die aanvaarding van ’n parlementêre mosie daaroor. Foto: Argief

Suid-Afrika het tot die 37ste plek uit 125 lande teruggesak in ’n internasionale peiling oor eiendomsreg.

Die land se telling het met 0,65 van 7 tot 6,35 indekspunte teruggesak, wat die grootste daling van enige land was, volgens vanjaar se Internasionale Eiendomsregindeks van die Vryemarkstigting en Property Rights Alliance.

Dié ranglys meet ’n land se regsraamwerk, die vermoë om eiendomsregte te beskerm en op te dwing en die algemene respek vir intellektuele eiendomsreg.

Die ranglys skryf Suid-Afrika se agteruitgang op die indeks toe aan pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat die regering die grondwet wil wysig om grondonteiening sonder vergoeding te bewerkstellig en sê dit hou ’n gevaar vir eiendomsreg in die land in.

Wêreldwyd word tot ses miljard mense se eiendomsreg nie behoorlik beskerm nie, is bevind.

Net 758 miljoen mense – 13% van die wêreldbevolking – geniet voldoende beskerming vir hul kunswerke, uitvindsels en private eiendom.

Drie lande, Finland, Nieu-Seeland en Switserland, se inwoners geniet die beste beskerming vir dié regte. Maar die VSA het vanjaar vir die eerste keer sy eerste plek op die ranglys prysgegee toe Finland hom verbygesteek het.

Eiendomsreg is ’n sleutelaanwyser van ekonomiese sukses en politieke stabiliteit, sê Hernando de Soto, ’n bekende ekonoom van Peru wat internasionaal bekend is vir sy werk oor eiendomsreg en die informele ekonomie.

“Swak eiendomsregstelsels verblind nie net lande om die verborge kapitaal van hul entrepreneurs te ontgin nie, maar weerhou hulle ook daarvan om ander voordele van ekonomiese vryheid te geniet.”

Die verslag dui ook aan hoe vroue se eiendomsreg ondermyn word. In verskeie lande in die Midde-Ooste, Noord-Afrika en Afrika suid van die Sahara word vroue se eienaarskap van eiendom suiwer op grond van hul geslag aan bande gelê.

Lorenzo Montanari, uitvoerende direkteur van die Property Rights Alliance, sê eiendomsreg is die ongelykheid wat die meeste gevolge vir die wêreld het.

“Eiendomsreg bepaal wat jy met jou bates kan doen, en onvoldoende beskerming beperk wat mense met hul verstand en hande kan doen en hoe hulle met mekaar in verhouding tree.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.