Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
SA deel van ’n entstof-projek vir R500 m.
moderna, entstof
Suid-Afrika gaan R500 miljoen betaal om deel te wees van ’n konsortium wat ’n entstof teen Covid-19 ontwikkel. Foto: Reuters

Suid-Afrika gaan R500 miljoen betaal om deel te wees van ’n konsortium wat ’n entstof teen Covid-19 ontwikkel, het Tito Mboweni, minister van finansies, Dinsdag gesê. Die land is een van die min opkomende lande wat deel is van dié konsortium, het hy gesê as deel van ’n Bloomberg Africa-konferensie oor kapitaalmarkte in Afrika.

Mboweni sê die tesourie gaan R4,5 miljard ekstra aan die departement van gesondheid moet gee om onder meer entstof aan te koop wanneer dit beskikbaar word, maar dié ekstra geld sal by die huidige begrotingsproses ingewerk word.

Hy wou nie meer detail daaroor gee nie en meen dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, sal meer besonderhede oor die projek hê.

Mboweni het ook vrae oor verskeie ander onderwerpe beantwoord.

Hy het bevestig hy is steeds in onderhandelinge met die Wêreldbank gewikkel oor ’n lening vir Suid-Afrika, maar beklemtoon die land gaan hom nie laat flous deur enige voorwaardes wat die Wêreldbank sou wou afdwing om by beleidskwessies in te meng nie.

Mboweni ontken steeds dat die jongste R10,5 miljard aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) ’n reddingsboei is.

Hy meen lede van die publiek behoort ook aandele in ’n herstruktureerde lugdiens te kan koop.

Hy is by die konferensie gevra of hy nie sy eie regering se besluite ondermyn deur op Twitter te vra wat om met die SAL te doen nie.

Mboweni sê die vraag moet steeds gevra word waarom die regering by ’n lugdiens betrokke moet wees.

“As die mark hou van ’n lugdiens, laat dit so wees, maar die regering steun ’n herstruktureerde lugdiens, nie die bestaande lugdiens nie.”

Hy meen Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, se proses om ’n private aandeelhouer vir die SAL te vind, verloop “in die regte rigting”.

Mboweni sê sy Twitter-boodskappe se bedoeling is dat die regering vinnig moet beweeg om ’n nuwe lugdiens te skep wat gesamentlik deur die staat en die private sektor besit word. Hy meen die publiek behoort ook aandele in die SAL te kan koop.

Hy verwag ’n V-vormige herstel in die ekonomie teen volgende jaar, en al kan pres. Cyril Ramaphosa se beleggingsberaad selfs net R800 miljard se beleggings lok, sal dit ’n hupstoot vir die herlewing van die ekonomie gee.

Johnny Copelyn, uitvoerende hoof van Hosken Consolidated Investments, het as deel van die konferensie gemeen die olie- en gaseksplorasiegeleenthede aan die Suid-Afrikaanse kus is ’n groot geleentheid vir ekstra inkomste vir die staat. Die wetgewing wat die eksplorasie moet reguleer, vorder egter baie stadig.

Dr. Leila Fourie, uitvoerende hoof van die JSE, het op haar beurt gesê die manier om geld weer terug te lok na die land ná die afgelope kredietafgraderings en die uitvloei van effektebeleggings lê in beleidshervorming.

Dit sal ook help om dollargebaseerde beleggings in die JSE toe te laat. Die tesourie het wel al aangedui dat dit toegelaat sal word, en sy hoop dat dit teen middel volgende jaar toegelaat sal word.

Copelyn sê hy is skepties oor die regering se werklike verbintenis tot groei, veral weens die traagheid om byvoorbeeld breëband-internetspektrum uit te brei sodat meer mense tot vinniger en goedkoper internet toegang het. Suid-Afrika sukkel nog om in 2020 digitale televisie in werking te stel, wat al in 2015 internasionaal bekend gestel is en nou weer uitgedien is.

Meer oor:  Gesondheid  |  Ekonomie  |  Entstof  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.