Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
SA ekonomie het nie méér inmenging deur staat nodig

Die Covid-19-pandemie het die hele wêreld in ’n ongekende krisis laat beland.

CAPE TOWN, SOUTH AFRICA - MARCH 27: Members of the
Ter illustrasie. Foto: Getty Images

Dit het vooruitskattings wat aan die begin van 2020 op ’n voortsetting van matige wêreld- ekonomiese groei gedui het, omgekeer – die jongste beramings voorspel ’n inkrimping van sowat 5%.

Internasionaal het regerings grootskaalse bestedingsprogramme, belastingverligting en waarborge aan finansiële instellings aangekondig om ondersteuning aan ondernemings te verleen.

Dít veroorsaak dat begrotingstekorte dramaties toeneem.

In Japan kan dit sowat 15% van die bruto binnelandse produk (BBP) wees teenoor die internasionaal aanvaarde norm van 3% van BBP.

Maar hopelik versag dit die diepte van vanjaar se resessie en voorkom ’n wêreldwye depressie.

Dié programme is beperk en tydelik van aard en sal in die meeste gevalle teen jaareinde of vroeg 2021 uitgefaseer word.

Intussen het sentrale banke rentekoerse verlaag en likiditeit in die ekonomieë gepomp deur byvoorbeeld staatseffekte aan te koop. In baie nywerheidslande was rentekoerse reeds baie laag en was die stimulus vanuit hierdie bron beperk.

Die optrede van regerings en sentrale banke is daarop gemik om vanjaar die impak van die mediese krisis op die ekonomie te versag, maar omdat dit in baie gevalle beperk is en teen jaareinde of begin van 2021 omgeswaai gaan word, kan dit volgende jaar se groei beperk.

Tans word wêreldgroei van sowat 5% vir 2021 voorspel.

Plaaslik is voorspel dat ekonomiese groei vanjaar beter sou vertoon as die 0,2% wat in 2019 behaal is. Die Covid-19-pandemie het die voorspellings nek omgedraai en die vooruitsig is negatiewe groei van tussen 6% en 16%.

Weens swak bestuur, wanbesteding, korrupsie en swak ekonomiese groei, was plaaslike staatsfinansies reeds in ’n baie swak toestand voor die aanvang van die Covid-19-pandemie. Dit beperk dus enige stimuluspakket.

Nogtans is ’n ondersteuningsprogram van R500 miljard, R400 miljoen aan Kuba, asook belastingverligting en waarborge aan finansiële instellings aangekondig.

Weens hierdie optrede word verwag dat die begrotingstekort vanjaar sowat 15% van die BBP sal beloop – iets wat ons beswaarlik kan bekostig weens die verdere skerp styging wat dit in die reeds bestaande hoë vlak van staatskuld veroorsaak en die langtermynlas wat dit op staatsfinansies plaas.

Gelukkig het die Reserwebank ruimte gehad om sedert die begin van 2020 korttermynrentekoerse vinnig en skerp te verlaag en dit te ondersteun deur optrede in die staatseffektemark.

Die toekoms?

Internasionaal en plaaslik is fiskale en monetêre beleid ingespan om die negatiewe impak van die Covid-19-pandemie te versag. Massas geld is in die wêreld, asook plaaslike finansiële markte, gepomp.

Nogtans word nie verwag dat inflasie internasionaal of plaaslik in die volgende jaar of twee noemenswaardig sal versnel nie.

Die virus en onsekerhede oor die pandemie verdwyn nie. Vrese bestaan steeds dat ’n volgende golf infeksies lande kan tref, wat weer tot inperkings sal lei en die negatiewe neigings verdiep.

Sal die mediese wetenskap ’n entstof binne die volgende jaar of twee ontwikkel?

Soos die virus die medici laat kopkrap, veroorsaak dit groot onsekerheid onder ekonome oor wat die toekoms inhou.

Vooruitskattings is volgens my mening tans ten beste raaiskote oor die verloop van die krisis en die ekonomiese impak daarvan.

Is daar nie reeds te veel inmenging in die werking van die ekonomie nie terwyl die afgelope 26 jaar aangetoon het dat hierdie inmenging die groeipotensiaal van die ekonomie sedert 1994 gehalveer het?

Plaaslik het die pandemie die probleme wat oor die afgelope dekades deur verkeerde beleidsbesluite veroorsaak is, blootgelê.

Die verdiepende onderliggende armoede is skielik blootgelê deur die ellelange toue vir kospakkies.

Deur die inperking van verbruikers en die ekonomie sal baie klein en mediumgrootte, asook sommige groot sakeondernemings, nie oorleef nie en verdiep werkloosheid en armoede verder.

Politici en andere is van mening dat ’n nuwe ekonomie daargestel moet word. Die groot verskil is oor hóé dit moet gebeur.

Blykbaar is ANC-politici van mening dat die staat ’n groter en meer prominente rol moet bly speel in die ekonomie.

Daar is sprake van ’n staatsbank, ’n staatsbeheerde farmaseutiese maatskappy, voorskrifte oor hoe en waar pensioenfondsbates belê moet word, die Suid-Afrikaanse Lugdiens moet uit die as herrys en die onbekostigbare stelsel van Nasionale Gesondheidsversekering moet ingestel word.

Is daar nie reeds te veel inmenging in die werking van die ekonomie nie terwyl die afgelope 26 jaar aangetoon het dat hierdie inmenging die groeipotensiaal van die ekonomie sedert 1994 gehalveer het?

Ek wil met die president saamstem dat die ekonomie rasgedrewe is – veral sedert 1994, weens die ekonomies onregverdigbare beleid van regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging.

Indien die oogmerk is om welvaart te skep, dui die ervaring vanuit staatsbeheerde lande soos Kuba, Noord-Korea teenoor Suid-Korea en die gewese Oos-Duitsland teenoor die markgedrewe Wes-Duitsland, sonder twyfel daarop dat die staat ’n baie beperkte rol in die ekonomie moet speel en baie minder by die werking van die ekonomie moet inmeng.

Laat die staat wel verseker dat onderwys en opleidingstandaarde op aanvaarbare vlak kom, die arbeidsbedeling weer soepel is sodat mense eerder as robotte in diens geneem kan word, verseker dat misdaad en korrupsie nie hoogty vier nie, verseker dat staatshospitale goed funksioneer tot voordeel van die gemeenskap, verseker dat staatsondernemings reg bestuur word, verseker dat die staatsektor nie oorbeman en oorbetaal is nie, en alle munisipaliteite weer funksioneer tot voordeel van die gemeenskap.

Die staat moet die beperking van staatsfinansies besef.

Raak bewus van ekonomiese werklikhede en kom weg van ’n politiek- en rasgedrewe ekonomie.

  • Ulrich Joubert is ’n onafhanklike ekonoom en voormalige wenner van Netwerk24, Beeld, Die Burger, Volksblad en Rapport se Ekonoom van die Jaar-wedstryd.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.