Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
SA hawens mag weer voluit vrag hanteer
Twee nuwe mobiele hyskrane van die Duitse vervaardiger Liebherr is vandeesweek in die hawe van Port Elizabeth afgelaai, betyds vir die besige sitrusuitvoerseisoen.Foto: TPT

Die vervoerreëlings by Suid-Afrika se hawens is aangepas sodat alle soorte vrag weer hanteer kan word nadat die departement van vervoer die Covid-19-verwante maatreëls oor skeepsvervoer aangepas het.

Boonop kan Suid-Afrikaanse hawens straks binnekort weer voordeel trek uit meer skepe wat via die Kaap tussen Europa en Asië vaar.

Nadat opeenhopings veral in die Durbanse hawe ontstaan het sedert die begin van die nasionale inperking omdat slegs noodsaaklike goedere in- en uitgevoer mag word, het die departement besluit om die reëls te verslap.

Daar is steeds ’n verbod op enige passasierskepe, maar alle soorte vrag kan nou in- en uitgevoer word by enige van die kommersiële hawens, het die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (Samsa) vandeesweek in ’n hersiende regulasie aangekondig.

Dit sluit Durban, Kaapstad, Port Elizabeth, Ngqura, Oos-Londen, Mosselbaai, Richardsbaai en Saldanha in.

Waar moontlik sal noodsaaklike goedere wel voorkeur kry.

Volgens Samsa sal Transnet voorkeur gee aan houervrag by Durban en die logistieke verbinding met Gauteng, die ertsuitvoerstelsel van die Noord-Kaap na Saldanha, en die vervoer van steenkool, uitvoersteenkool en ander algemene vrag na Richardsbaai.

Groot verwarring het egter vandeesweek geheers want op dieselfde dag (31 Maart) waarop die hersiende regulasies uitgereik is, het Transnet Port Terminals (TPT) in ’n brief aan vragversenders en skeepsagente geskryf dat TPT force majeure verklaar het en nie al sy kontraktuele verpligtinge aan vragkliënte kan nakom nie.

Siyabulela Mhlaluka, hoofbestuurder vir verkope en nuwesakeontwikkeling by TPT, het toe gesê TPT gaan beperkte bedrywighede by Saldanha en Richardsbaai hê, dat Transnet se voertuig-vrageindpunte – d.w.s. die hawe-afdelings in Port Elizabeth, Oos-Londen en Durban wat motoruitvoer hanteer – gesluit word, en dat kaaie vir losmaat- en veeldoelige vrag afgeskaal is tot net een vasmeerplek op ’n slag. Teen Donderdag het Michelle Phillips, waarnemende hoof van TPT, in 'n brief aan die skeepsvragbedryf gesê alle ingevoerde vraghouers mag nou by hawens kom haal word, en alle uitvoerhouers met noodsaaklike goedere vir buurlande mag by hawens afgelaai word. Terry Gale, voorsitter van die Uitvoerdersklub in die Wes-Kaap, sê daar is egter steeds baie verwarring in die bedryf en die situasie veranderlik uurliks. Hy kon bevestig dat vrugte wel tans uitgevoer word, maar is nie seker oor wynuitvoer nie. Intussen werk daar volgens hom tans net een oorhoofse skip-tot-kaai houerkraan in die Kaapse hawe, wat vraghantering aansienlik belemmer. Waar houerskepe gewoonlik dadelik vasmeer as hulle in Kaapstad aankom, moet hulle tans buite die hawe wag totdat die vasmeerplek gereed is.

Nuwe hyskrane in PE

’n Bewys dat Transnet se hawens intussen wel weer voluit in bedryf is, is die twee nuwe mobiele hyskrane wat Donderdag in die hawe van Port Elizabeth afgelaai is. TPT sê in ’n verklaring die hyskrane kom in die plek van ’n hyskraan wat onlangs weens stormsterk wind gebreek het.

Die nuwe hyskrane kom net betyds vir die sitrusuitvoerseisoen wat begin.


Skeepsvrag daal wêreldwyd

Die Wêreldprogram vir Volhoubare Hawens berig die meeste van die wêreld se hawens is tans ten volle in bedryf vir vrag, maar is gesluit of het beperkte toegang vir passasierskepe.

Robert Azevedo, direkteur-generaal van die Wêreldhandelsorganisasie, verwag egter ’n baie skerp afname in skeepsvrag vir vanjaar en volgende jaar weens die Covid-19-pandemie.

Skeepsvervoernuusblaaie verwys tans na ’n skerp toename in sogenaamde “blank sailings”. Dit is vragskipvaarte wat gekanselleer is, of waar ’n skip een of meer van die hawens langs sy normale roete oorslaan.

Drewry Shipping Consultants van Londen verwag skeepsrederye kan soos met die geldkrisis in 2009 besluit om die skerp afname in handelsvraag te oorleef deur van hul skepe tussen Europa en Asië liefs via die Kaap te laat vaar. Dit is om die tolgelde by die Suez-kanaal vry te spring. Dit kan tot voordeel wees vir Transnet wat hawetariewe van dié ekstra besoekers kan invorder, asook tot voordeel van brandstofhandelaars wat skeepsbrandstof aan die ekstra skeepsverkeer kan lewer.

Sea Intelligence, nog ’n firma wat die houerskipbedryf ontleed, sê Februarie was die maand waarin die meeste skepe tot nog toe laat by hul bestemmings aangekom het sedert hy in 2011 begin meet het hoe nougeset skepe by hul tydskale hou. Die betroubaarheidskoers was toe 65,1%. Die gemiddelde vertragingstyd was vanjaar tot dusver die langste nog sedert die arbeidsdispuut van 2015 by hawens aan die Amerikaanse weskus.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Korona  |  Hawens  |  Invoere  |  Skepe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.