Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘SA het nie die IMF nodig nie,’ sê Dawie Roodt
Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group.

Kyk maar mooi, die Covid-19-pandemie gaan die skuld kry vir alles van nou af, terwyl die ekonomie reeds voor die pandemie in ’n krisis was, waarsku die ekonoom Dawie Roodt.

Die ekonomie kan vanjaar met tot 6% inkrimp, maar as Suid-Afrika gelukkig is, kan dit teen die einde van die jaar weer uit die resessie kom, meen Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group.

Intussen is dit regtig nie nodig vir Suid-Afrika om by die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) vir ’n lening aansoek te doen nie.

Hy sê mense moet besef dis verkeerd om te moet kies tussen ’n lewe en die ekonomie.

Roodt het gepraat in ’n videokonferensie van die Instituut van Rasseverhoudinge in aanloop tot ’n mediakonferensie later Donderdag deur Tito Mboweni, minister van finansies.

Op ’n vraag of die huidige nasionale inperking gestaak moet word, meen Roodt die benadering behoort verander te word. Kwesbare mense soos bejaardes en dié met ’n swak immuunstelsel moet beskerm word, maar die ekonomie moet weer “oopgemaak” word.

Ekonomiese groei en welvaart is verwant aan goeie dinge soos goeie onderwysvlakke en beter lewenstandaarde. Armoede is verwant aan alles wat sleg is.

’n Gesonde ekonomie sorg vir ’n gesonde lewe. Die aanvanklike reaksie om die inperking in te stel, was reg, maar soos wat nuwe syfers uitkom, verstaan ons die situasie beter.

Armoede is niks anders nie as ’n doodsvonnis vir baie mense.”

Oor die IMF sê Roodt: “Almal praat van ’n IMF-reddingsboei, maar as jy geld by die IMF leen, beteken dit jy gaan dollar leen, nie rand nie. So wat wil jy met dollar koop? Jy kan bestaande dollarlenings afbetaal of goedere invoer, soos mediese voorraad.”

Maar Roodt meen die regering het nie nou regtig dollar nodig nie. “Dit sal inflasie opjaag. Een van die goeie dinge wat die regering gedoen het die afgelope paar jaar is om nie te veel in die buiteland te leen nie. Die Reserwebank het meer as genoeg reserwes om lenings te dek.”

Volgens Roodt is die Reserwebank in die verlede gekritiseer omdat rentekoerse nie verlaag is nie, maar hy meen Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het uitstekende werk gedoen deur sy streng monetêre beleid en het dus nou die ruimte om rentekoerse te kon verlaag.

Hy meen wel die Reserwebank se toetrede tot die kapitaalmark om staatseffekte op te koop, is effens omstrede, want dis in effek die druk van geld vir politici om te bestee. Dis ’n gevaarlike ding, want die vraag is hoe die Reserwebank hom weer aan die effektemark gaan onttrek.

Roodt verwag Suid-Afrika gaan meer as miljoen werkgeleenthede verloor weens die inperking. Staatskuld sal toeneem tot meer as 70% van die bruto binnelandse produk, en die regering se inkomste sal skerp krimp.

Maar daar is ook goeie dinge wat uit die inperking spruit.

“Skielik is die vierde nywerheidsrevolusie op ons. Ek was nog nooit so besig nie. Ons werk langer ure as ooit tevore. Mense met digitale vaardighede sal floreer in dié ekonomie.”

Meer oor:  Dawie Roodt  |  Imf  |  Internasionale Monetêre Fonds  |  Covid-19  |  Ekonomie  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.