Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
SA het nie ’n probleem met skuld, wel met groei

Suid-Afrika het nie ’n skuldprobleem nie. Hy het wel ’n groot probleem met ekonomiese groei.

Suid-Afrikaners wat nou van die huis af werk, gaan ’n groot invloed hê op hoe die ekonomie van die toekoms gaan lyk.Foto: Pixabay

As die land se ekonomie behoorlik gegroei het, dan was die sy skuld glad nie so ’n groot probleem nie.

Só sê Leslie Maasdorp, finansiële hoof van die Nuwe Ontwikkelingsbank (NOB).

Hy het Woensdag aan ’n paneelbespreking deelgeneem wat Deloitte aangebied het oor hoe dié wêreld ná die Covid-19-pandemie gaan lyk.

“Ons moet dringend weer aktiwiteit in die ekonomie sien. Daar gaan groot strukturele hervormings nodig wees. Die pas waarteen hervormings tot nou toe gemaak is, was heeltemal te stadig,” sê hy.

Maasdorp sê een van die grootste uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar is hoe energie-intensief sy ekonomie is.

“Daar moet bloot ontslae geraak word van regulasies wat keer dat onafhanklike kragprodusente krag direk op die netwerk kan laai,” is sy voorstel.

“Ons het geen keuse as om nóú hervormings te maak nie.

“Ons móét produktiwiteit verhoog,” sê hy.

Montfort Mlachila, verteenwoordiger vir Suid-Afrika by die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en wat ook aan die bespreking deelgeneem het, stem saam.

“Hoe vinniger Suid-Afrika uit hierdie krisis kom, hoe beter.”

Oor presies hoe die land, en die res van die wêreld, weer daarna gaan uitsien ná afloop van die pandemie, is nie een van die kenners seker nie.

Almal stem eerder saam dat die wêreld hom in ’n ongekende situasie bevind. Al waaroor hulle wel seker is, is dat die wêreld en hoe dinge in die toekoms gedoen gaan word, sonder twyfel anders gaan lyk as wat dit voor die uitbreking van die pandemie gelyk het.

Ons het nou gesien dat mense van die huis af kan werk. Wat is die invloed hiervan in die toekoms op werkplekke? Gaan ons steeds kantore hou?
Sabine Dall’omo

Junior Ngulube, uitvoerende hoof van Sanlam Opkomende Markte, meen daar gaan nie net ’n knoppie wees wat gedruk kan word om die Suid-Afrikaanse ekonomie weer te laat begin waar hy voorheen was nie.

Hy sê een van die grootste onsekerhede is oor hoe die verbruiker na dese gaan optree. Waarop gaan die verbruiker geld bestee en waarop nie?

“Ons weet ook nie hoe ons die produkte by hulle gaan kry nie,” sê hy.

Sabine Dall’omo, uitvoerende hoof vir Siemens se bedrywighede in Suider- en Oos-Afrika, sê nog ’n groot veranderlike gaan wees oor waar mense werk.

“Ons het nou gesien dat mense van die huis af kan werk. Wat is die invloed hiervan in die toekoms op werkplekke? Gaan ons steeds kantore hou?” vra sy.

Sy sê maatskappye verwag ook dat lande vir lank nog eerder na hulself gaan wil kyk as om ander te help. Daar is dus die geleentheid om plaaslik produkte te begin vervaardig. “As ons plaaslik vervaardig, dan moet ons ook plaaslik koop,” is haar raad.

Dall’omo sê dit is nou die ideale tyd vir Suid-Afrika om saam met die res van Afrika saam te werk oor hoe om die vasteland se ekonomie op dreef te kry.

“Ander lande (buite Afrika) gaan ons nie vinnig toelaat om hul markte te betree nie. Nou is die tyd om baie aandag aan die Afrika-vryhandelooreenkoms te skenk,” sê hy.

Meer oor:  Deloitte  |  Ekonomiese Groei  |  Staatskuld  |  Werksplek  |  Kantore  |  Covid-19  |  Tegnologie  |  Staat Van Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.