Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
SA is werkloos en wanhopig – ‘Cyril moet ingryp’

Ontleders is uiters pessimisties dat werkloosheid in 2020 gaan daal nadat die land vir net die tweede keer tot dusver in ’n vierde kwartaal geen verbetering in die werkloosheidskoers beleef het nie.

qlfs1904, werkloos, ongelykheid, armoede
’n Werklose jong man sit moedeloos op die strate van Kaapstad. Foto: William Horne

Die land se amptelike werkloosheid van 29,1% is twee persentasiepunte hoër as ’n jaar gelede – en steeds op die hoogste vlak tot nog toe sedert die syfers gemeet word. Dis vyf persentasiepunte hoër as tien jaar gelede, het Statistieke Suid-Afrika Dinsdag in die kwartaallikse indiensnemingspeiling vir die vierde kwartaal van 2019 bekend gemaak.

Uitgebreide werkloosheid – wat mismoedige werksoekers insluit – het tot ’n nuwe rekord van 38,7% gestyg.

Volgens Risenga Maluleke, statistikus-generaal, is dit die eerste keer sedert einde 2008 – tydens ’n resessie – dat die werkloosheidskoers nié in die vierde kwartaal van ’n jaar verminder nie.

Siphamandla Mkhwanazi, senior FNB-ekonoom, sê dis onrusbarend dat tydelike indiensneming nie vir die feestyd toegeneem het nie.

Dit is verder kommerwekkend dat die informele sektor nou ook deur die swak indiensneming geraak word. Die informele sektor het die afgelope drie jaar vinniger as die formele sektor vir mense werk verskaf en indiensneming só aangehelp. Hy skryf dit deels toe aan betogings in middestede en die polisie wat toegeslaan het op onwettige handel in verskeie groot stede.

Die ekonomie sukkel steeds en dit lyk nie asof daar in die nabye toekoms enige verbetering gaan wees nie, so ons voorsien dat die werkloosheidskoers vanjaar verder sal styg.
Cheryl-Jane Kujenga van Adcorp

Cheryl-Jane Kujenga, waarnemende uitvoerende hoof van die werwingsfirma Adcorp, sê die jaar het reeds met enorme afleggings begin – onder meer Telkom, Massmart, Sibanye-Stillwater en ArcelorMittal Suid-Afrika het aangekondig hulle gaan mense aflê.

“Die ekonomie sukkel steeds en dit lyk nie asof daar in die nabye toekoms enige verbetering gaan wees nie, so ons voorsien dat die werkloosheidskoers vanjaar verder sal styg.”

Sy sê hoewel die ekonomie dalk nie amptelik in ’n resessie is nie, is die vooruitsigte vir indiensneming soortgelyk “asof ons reeds in ’n resessie is”.

“Met baie ondernemings huiwerig om mense aan te stel weens voortslepende ekonomiese beleidsonsekerheid en ’n gebrek aan ’n samehangende strategie om werkloosheid op te los, sal die werk-dooiepunt waarskynlik voortduur.”

Vaardigheidsgaping

Kujenga sê daar is ’n groot vaardigheidsgaping en beleid om dit op te los, ontbreek.

“Ons hou aan om poste te adverteer wat ons nie kan vul nie omdat beskikbare vaardighede nie daarby pas nie. Ons het mense met vaardighede in finansies en IKT nodig – sagteware-ontwikkelaars, netwerktegnici en projekbestuurders – sowel as ketelmakers en sweisers.”

Sy wys daarop dat 55,9% van die werkloses in die land nie eens matriek het nie. “Selfs intreevlak-poste vereis altyd matriek.”

Nog ’n kommerwekkende syfer wat SSA bekend gemaak het, is dat 73,3% van werkloses nou as langtermyn-werkloses beskryf word, wat beteken hulle is al langer as ’n jaar werkloos. Tien jaar gelede was dit 59,9% van werkloses.

Pres. Cyril Ramaphosa lewer Donderdagaand omstreeks 19:00 sy staatsrede. Foto: Daily Sun

Staatsrede

Alle oë is nou op pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede Donderdag in die hoop dat hy werkloosheid gaan aanpak.

Suid-Afrika bly “kniediep in ’n bloedbad van poste”, sê dr. Michael Cardo, DA-LP. Hy sê “Ramaphosa moet dringend ’n omvattende aksieplan aankondig om die werkloosheidskrisis – en jeugwerkloosheid in die besonder – op te los”.

“Die president behoort die geleentheid te gebruik om ’n grondige program van arbeidshervorming in te stel.”

Cardo se voorstelle sluit in dat klein en nuwe firmas uitgesluit word van kollektief bedingde ooreenkomste waarby hulle nie betrokke was nie en dat die belastingaansporing vir die indiensneming van jong mense uitgebrei word.

“Bowenal moet die president verduidelik hoe die ANC beoog om ons ekonomiese agteruitgang om te keer en die ekonomie te laat groei teen ’n koers wat tot werkskepping sal lei.

“Dit beteken ’n plan om die gemors by Eskom op te los om behoorlike kragvoorsiening te verseker, en waterdigte versekerings oor die onskendbaarheid van eiendomsreg, aangesien die bedreiging van onteiening sonder vergoeding naderkom.

“Sonder dié twee dinge sal die ekonomie aanhou inplof en werkverliese sal aanhou opstapel soos karkasse by die slagpale.”

Suksesvolle lande is daardie lande wat nie omgee oor die kleur van produktiwiteit nie.
Anton van der Bijl van Solidariteit

Solidariteit sê in sy reaksie die regering se beheptheid met “rasse-telling” is een van die hoofoorsake van swak ekonomiese groei en werkloosheid.

“Suksesvolle lande is daardie lande wat nie omgee oor die kleur van produktiwiteit nie,” sê Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregsdienste van die vakbond. “Die regering behoort te kyk hoe hy groei in die finansiële resultate in maatskappye se jaarverslae kan bevorder eerder as om te probeer seker maak dat die bestuur op die foto’s swart is.”

Marique Kruger, ekonoom van die Federasie van Staal- en Ingenieursbedrywe van Suider-Afrika (Seifsa), sê die werkloosheidskoers is ontstellend omdat dit “dieper sosio-ekonomiese implikasies vir die breër ekonomie” het. “Die uitdaging van werkloosheid word baie hardnekkig en, tesame met stygende ongelykheid, verdiep die bestaande vlakke van armoede, wat dit moeilik maak vir bestaande regeringsbeleid en -ingrypings om doeltreffend te wees.”

Die Investec-ekonoom Lara Hodes sê kernhervormings moet dringend versnel word om sakevertroue ’n hupstoot te gee sodat groei bevorder kan word. “Maatskappye se winsgrense is onder enorme druk weens trae ekonomiese groei, wat vererger word deur beurtkrag, wisselvallige hulpbronpryse en wisselkoerse, en hoër bedryfskoste, wat verband hou met die stygings in geadministreerde pryse.”

Mkhwanazi sê in 2020 sal indiensneming gedemp bly, veral in energie-intensiewe sektore soos mynbou en vervaardiging, wat hard geslaan word deur beurtkrag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.