Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
SA kan onder ’n belastingrebellie ly
Kenners raam in dié stadium dat die SAID vanjaar sy invorderingsteiken van R1 265 miljard met R50 miljard kan mis. Dit hou grootliks verband met die trae ekonomiese toestande. Foto: iStock

Daar is groeiende woede oor en wantroue in Jan Taks, veral onder die superrykes wat al hoe meer geteiken word om die staatskoffers aan te vul.

Volgens belastingkenners kan dié kwessies nie ontken word nie en dra dit beslis by tot ’n agteruitgang in belastingnakoming.

Amptenare van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het die afgelope week op die jaarlikse belasting-indaba in Sandton self na dié agteruitgang verwys.

Ruaan van Eeden, besturende direkteur van belasting en deviesebeheer by die Geneva Management Group, sê dit lyk of veral belastingbetalers wat die swaarste belas word, ’n keerpunt nader. “By dié punt maak dit nie saak met hoeveel belasting verhoog word nie, die SAID sal nie méér belasting insamel nie, gegewe die ontmoediging om te produseer of te werk.”

Volgens Kyle Mandy, hoof van belastingbeleid van PwC, is dit duidelik verhogings in persoonlike inkomstebelasting het nié vir Jan Taks die inkomste ingebring waarop hy gereken het nie.

Hy het die tesourie en parlement se staande komitee oor finansies gewaarsku oor die hemelhoë marginale belastingkoers van 45% vir mense wat meer as R1,5 miljoen per jaar verdien wat in die begroting aangekondig is.

“Ek bedoel, hulle het alles gedoen wat hul kon wat betref verhogings om soveel moontlik uit persoonlike inkomstebelasting te kry en is aan die bopunt van die Laffer-kurwe.” (Dit kom daarop neer dat as belastings tot bo ’n sekere punt verhoog word, dit ’n ontmoedigende uitwerking het omdat minder mense hulself beskikbaar sal stel om te werk en bestaande werkers minder gewillig is om oortyd te werk. Gevolglik verklein die belastingbasis en die regering se belastinginkomste daal.)

Van Eeden sê ongeag of daar ’n subtiele rebellie ontvou of nie, die tekort op die belastingteiken (die verskil tussen belasting wat ingevorder word en dít wat ingesamel behoort te word in ’n omgewing waar almal hul verpligtinge ten volle nakom) vergroot.

Die gaping was nog altyd in die omgewing van R30 miljard, maar sál vergroot as nienakoming ’n algemener verskynsel onder Suid-Afrikaanse belastingbetalers word, sê hy.

Kenners raam in dié stadium dat die SAID vanjaar sy invorderingsteiken van R1 265 miljard met R50 miljard kan mis. Dit hou grootliks verband met die trae ekonomiese toestande.

Individuele belastingbetalers dra die grootste belastinglas in Suid-Afrika met persoonlike inkomstebelasting wat 38,1% van die belastinginkomste uitmaak.

Keith Engel, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Belastingpraktisyns (SAIT), sê die ekonomie is die grootste rede van gebrekkige inkomstebelastinginvordering.

Maar dis moeilik om te argumenteer dat landsburgers ’n morele plig het ­om belasting te betaal as die geld aanhoudend misbruik of wanaangewend word, sê hy.

Belastingbetalers wat voel hulle word “gedwing” om meer te betaal as wat hulle behoort, kan probeer om ’n bietjie daarvan terug te kry deur byvoorbeeld laat te betaal of die reëls te buig.

Volgens Mandy is dit debatteerbaar of daar ’n belastingrebellie is, maar sodra daar korrupsie is en kommer oor vermorsing of wanaanwending van belastinggeld, het dit ’n negatiewe invloed op belastingmoraliteit en vlakke van nakoming. En hoe hoër die belasting wat jy moet betaal, hoe laer die vlakke van nakoming.

Mandy sê dan volg ’n kombinasie van belastingvermyding en belastingontduiking.

Tipies skep dit ’n omgewing waar mense alles terugeis wat hulle kan, selfs al het hulle van die eise voorheen as onbenullig beskou.

Engel sê die terugbetalings en ander operasionele kwessies ondermyn vertroue in die stelsels by die SAID.

Meer oor:  Ekonomie  |  Jan Taks  |  Belasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.