Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
SA kry dalk 1ste vrou as ouditeur-generaal

Suid-Afrika kan teen November vir die eerste keer ’n vrou as ouditeur-generaal (OG) hê as die gebruik van vorige aanstellings gevolg word.

Tsakani Maluleke is waarskynlik ’n voorkeurkandidaat om Kimi Makwetu as ouditeur-generaal op te volg. Foto: Twitter

Die parlement het amptelik sy werwingsproses begin om ’n nuwe ouditeur-generaal aan te stel.

Die termyn van die huidige OG, Kimi Makwetu, verstryk einde November en die kanse is goed dat sy adjunk, Tsakani Maluleke, by hom sal oorneem soos wat hy self as adjunk sewe jaar gelede by Terence Nombembe oorgeneem het, en Nombembe sewe jaar tevore by Shauket Fakie.

Maluleke, ’n geoktrooieerde rekenmeester wat in 2014 in die pos aangestel is en meer as 20 jaar se ouditervaring in die private en openbare sektor het, is reeds ’n leier in eie reg en dien tans as nie-uitvoerende voorsitter van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (Saica). Sy het al gedien in die direksie en komitees van maatskappye soos Aberdare Cables en Onelogix, die Openbare Beleggingskorporasie, die Onafhanklike Reguleringsraad vir Ouditeure, die Fais-ombud en die advieskomitee vir die JSE se Alt X-beurs.

Die nasionale vergadering het onlangs ’n ad hoc-komitee vir die aanstelling van die OG aangestel om die proses vir die soektog na ’n nuwe OG te bestuur.

Die komitee soek aansoeke van ’n geoktrooieerde rekenmeester met spesialiskennis of ervaring in oudit, staatsfinansies en openbare administrasie. Die persoon moet onpartydig wees en moet take sonder vrees, gunste of vooroordeel teen hoë etiese standaarde uitvoer.

Aansoekers moet Suid-Afrikaanse burgers wees en moet voldoen aan die vereistes vir die rol van ouditeur-generaal ingevolge wetgewing, insluitend die wet oor openbare oudit.

Die OG word aangestel op ’n vaste termyn van tussen vyf en tien jaar.

Sisisi Tolashe, voorsitter van die ad hoc-komitee, het in ’n verklaring belowe om die aanstellingsproses vir die nuwe OG met billikheid en deursigtigheid te bestuur, en mik om teen einde Augustus ’n aanbeveling oor sy voorkeurkandidaat aan die nasionale vergadering te gee.

Oor die jare het die posisie van OG in Suid-Afrika een van die bastionne van onafhanklikheid en beskerming teen korrupsie en wanbestuur geword, soortgelyk aan die rolle wat die Openbare Beskermer, die Reserwebank of die konstitusionele hof speel.

Die OG speel ’n belangrike rol om ingevolge die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies asook die Wet op die Bestuur van Munisipale Finansies jaarliks die oudits te doen van alle staatsdepartemente, munisipaliteite asook ’n reeks staatsondernemings.

Nuwe wetswysigings het onlangs die OG sterker magte gegee om staatsdepartemente en instellings te dwing om regstellende optrede te neem waar vermorsing en swak geldbestuur deur die OG se oudits ontbloot is.

Een van die maniere is waar die verantwoordelike amptenaar in die entiteit self aanspreeklik gehou kan word vir geldverliese, deurdat ’n skuldsertifikaat aan hom of haar uitgereik kan word vir verlore geld as die persoon nie die nodige stappe gedoen het om die wanbestuur reg te stel nie.

Die OG is basies ’n staatsbeheerde ouditfirma, met 1 063 oudits wat hy in die 2017-’18-boekjaar moes afhandel, volgens die jongste jaarverslag. Die OG het 1 227 ouditeure onder sy bestuur, en ’n totale personeel van 3 556. Anders as ’n private ouditfirma soos SNG Grant Thornton, Mazars of PwC, moet die OG egter sy personeel na die verste uithoeke van die land stuur om munisipale oudits te doen en word personeel soms selfs met geweld gedreig en geïntimideer.

In 2019 het Makwetu ’n basiese salaris van R5,252 miljoen ontvang, en tesame met uitgestelde vergoeding van R1,524 miljoen was sy totale vergoedingspakket R6,776 miljoen, volgens die jongste jaarverslag van die OG.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.