Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
SA kry dwarsklap van Fitch Ratings; rand gly

Fitch Ratings het die vooruitsig vir Suid-Afrika se kredietgradering Vrydagmiddag van stabiel in negatief verander.

Die hoofkantoor van Fitch Ratings in Londen. Foto: Simon Dawson, Bloomberg

Hoewel Fitch staatskuld reeds as laer as beleggingsgraad gradeer en dié gradering onveranderd gehou het, word die verandering in die vooruitsig as ’n baie negatiewe stap beskou.

Dit baan die weg vir ’n verdere afgradering indien die staat se geldsake nie drasties verbeter nie.

Die rand, wat heeldag onder druk was, het ná die nuus tot selfs R14,31 per dollar verswak.

In sy verklaring sê Fitch die verandering in die vooruitsig weerspieël die stygende begrotingstekort weens die laer ekonomiese groei en die staat se stygende besteding – grootliks weens steun aan staatsondernemings.

Dit maak dit al hoe moeiliker om staatskuld in verhouding tot die bruto binnelandse produk (BBP) te stabiliseer, sê Fitch.

Fitch verwys onder meer na die bykomende staatsteun vir “die beleërde nasionale kragmaatskappy” Eskom wat dié week goedgekeur is. Die kredietgradeerder is bekommerd oor of Eskom herstruktureer sal kan word, gegewe vakbonde se teenstand teen die plan om dit in drie sake-eenhede, vir opwekking, transmissie en verspreiding, te verdeel.

“Voorlopige riglyne wat aan staatsdepartemente uitgereik is ter voorbereiding van die mediumtermyn-begrotingsraamwerk in Oktober, dui daarop dat die regering beduidende konsolidasiemaatreëls wil instel, maar die reeds hoë belastinglas en maatskaplike druk op die bestedingsplafon beperk sy beweegruimte.”

Moody’s Investors Service het ook Donderdag in ’n navorsingsverslag gesê die bykomende Eskom-reddingsboei van R59 miljard oor twee jaar is “kredietnegatief”. Moody’s het Suid-Afrika se kredietgradering egter onveranderd gelaat.

Die tesourie het in ’n verklaring gesê die regering is bewus van die druk en risiko wat staatsondernemings, veral Eskom, vir die fiskale raamwerk skep. 

“Die regering werk dringend daaraan om Eskom te stabiliseer en ’n breër strategie vir sy toekoms te ontwikkel. Daarbenewens sal die regering moeilike besluite moet neem ten einde die land se skuldtrajek om te keer en ekonomiese groeivooruitsigte te verbeter.”

Tito Mboweni, minister van finansies, het met die indiening van die spesiale toedelingswetsontwerp oor die Eskom-reddingsboei gesê ’n span amptenare onder leiding van die direkteurs-generaal van die tesourie en openbare ondernemings het verskeie opsies oorweeg vir Eskom se skuld ten einde sy volhoubaarheid te verseker. “Die haalbaarste opsie hiervan sal binnekort bekend gemaak word,” luidens die tesourie se verklaring.

Fitch het die geloofwaardigheid van die Reserwebank as ’n belangrike positiewe punt vir Suid-Afrika se kredietgradering uitgelig, en ook daarop gewys dat die banksektor, batebestuursmaatskappye en langtermynversekeraars gesond is.

Fitch sê hoewel die ANC in Mei die verkiesing met 230 uit 400 setels gewen het, duur binnegevegte voort, wat die aandag van beleidsvorming aftrek.

Fitch glo wel dat die regering grondhervorming – insluitend onteiening sonder vergoeding – op ’n manier sal behartig wat groei of die staatskas nie nóg skade sal berokken nie, “maar die gesprekke kan internasionale beleggers bekommerd maak oor eiendomsreg op lang termyn”.

fitch
Suid-Afrika se kredietgraderings ná Fitch se aankondiging op 26 Julie 2019.

Meer oor:  Fitch Ratings  |  Ekonomie  |  Rand  |  Markte  |  Rommelstatus  |  Dollar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.