Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
SA kry nog nie C op krediet-rapport

Suid-Afrika is, soos verwag is, nié Vrydag afgegradeer tot ’n C-kredietgradering nie.

Standard & Poor’s Global Ratings (S&P) het sy gradering van staatskuld onveranderd gelaat – op BB- vir staatseffekte wat in buitelandse geldeenhede uitgereik is en op BB vir staatseffekte in rand. Dis onderskeidelik drie en twee vlakke onder beleggingsgraad, en ook onderskeidelik een en twee vlakke bo C-graad.

Nóg goeie nuus is dat S&P die vooruitsig vir die gradering op stabiel gelos het.

Dit beteken bes moontlik dat S&P Suid-Afrika nie in 2021 gaan afgradeer nie, tensy die land se geldsake dramaties verswak vergeleke met verwagtinge. ’n Negatiewe vooruitsig gaan gewoonlik ’n afgradering vooraf, hoewel dit nie in yster gegiet is nie.

Kort daarna het Fitch Ratings aangekondig hy laat die land se graderings onveranderd, alles op BB, met sy vooruitsig steeds negatief.

Dit beteken Suid-Afrika het ongeskonde van die eerste ronde graderingsbesluite van die jaar afgekom nadat Moody’s Investor Service verlede week geen gradering gedoen het nie.

Tesourie se reaksie

Die tesourie het in ’n verklaring gelet op die graderingsbesluite, en te kenne gegee hy is bewus van die druk op die graderings. “Die regering bly verbind tot hervorming wat groei sal versnel.”

Die tesourie het ’n beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om die verspreiding van Covid-19 te probeer voorkom deur veilig te bly. Die pas van inentings sal oor die volgende maande versnel, word belowe.

“Suksesvolle inenting van die bevolking sal die verspreiding van die pandemie help voorkom, wat belangrik is aangesien dit (die pandemie) negatiewe risiko’s vir ekonomiese vooruitsigte inhou.”

S&P se kommentaar

S&P voorspel dat staatskuld as persentasie van die bruto binnelandse produk (BBP) sal aanhou styg tot 2024, wanneer dit 90% van die BBP sal wees (teenoor 65% in 2019). Die gradeerder is skepties oor of die regering dit in bedwang sal kan bring.

Die grootste risiko vir ’n afgradering bly Eskom se finansiële posisie. Beurtkrag word ook as ’n remskoen vir ekonomiese groei genoem.

Die gradeerder is bekommerd oor die mag van vakbonde in sowel die private en staatsektor. 

“Pogings tot fiskale konsolidasie (en ons voorspellings op mediumtermyn) is daarop gemik om die groei in die lone in die openbare sektor te beperk deur middel van ’n beplande bevriesing van vergoeding in die openbare sektor, iets wat in die verlede moeilik geblyk het ondanks daadwerklike pogings, as gevolg van ’n sterk vakbondteenwoordigheid in die land.”

S&P reken beoogde ekonomiese hervormings word te stadig in werking gestel, en so ook maatreëls wat die “misbruik en vermorsing” van staatsgeld moet bekamp.

Die agentskap noem wel dat daar tekens is dat staatsinstellings versterk word, soos die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, en lig spesifiek uit dat Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, gevra is om sy pos te ontruim terwyl hy teregstaan op ’n aanklag van korrupsie.

Wat die ekonomie betref, sê S&P Suid-Afrika trek tans voordeel uit hoër hulpbronpryse, maar die trae pas van inentings en strukturele probleme kniehalter mediumtermyngroei en beperk die regering se vermoë om skuldvlakke in bedwang te hou.

Suid-Afrika se “geloofwaardige sentrale bank, buigsame wisselkoers, aktief verhandelde geldeenheid en diep kapitaalmarkte” tel in sy guns.

Fitch se kommentaar

Fitch verwys soos S&P na die risiko wat Eskom se skuld vir die staat inhou en ook na die loononderhandelinge in die staatsdiens.

Fitch is eweneens bekommerd oor die trae pas van inentings, veral gegewe dat dit lyk asof die derde vlaag infeksies begin het.

“Ons verwag dat die ekonomiese uitval van nuwe golwe meer beperk sal wees as verlede jaar omdat beleidmakers meer doelgerig sal wees en die ekonomie aangepas het, maar dit kan steeds swaar op die openbare finansies weeg.”

Fitch is meer optimisties oor die staat se geldsake as net ná die Februarie-begrotingsrede omdat belastinginkomste die afgelope ruk beter was as verwag. Fitch verwag nou dat staatskuld in 2022 tot 82,5% van die BBP sal styg en in 2023 tot 87,1%, aansienlik laer as sy vorige verwagting van 94,8% teen 2023.

soos begin 2021
Suid-Afrika se kredietgraderings soos dit tans daar uitsien.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.