Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) se uitvoerende raad het Suid-Afrika se aansoek vir ’n noodlening ter waarde van R71 miljard (4.3 miljard Amerikaanse dollar) goedgekeur.
Die nasionale tesourie sê in ’n mediaverklaring die Suid-Afrikaanse regering het dié aansoek gebring om die regering te help om die maatskaplike en ekonomiese impak van die Covid-19 pandemie op die land teen te werk.
Die bykomende lening is volgens die tesourie teen ’n lae rentekoers uitgeneem wat sal bydra tot die regering se ekonomiese verligtingspakket terwyl dit terselfdertyd Suid-Afrika se besluite oor hoe dit die beste in die huidige krisis aangewend moet word sal respekteer.
Dit sal ook die weg baan vir die regering om die nodige hulp te verleen om sodoende ’n nuwe ekonomie tot stand te bring en verdere skade aan die bestaande ekonomie te voorkom.
Die tesourie sê die land is swaar deur die pandemie getref en dit het die regering genoodsaak om monetêre en fiskale maatreëls in te stel wat die sukkelende ekonomie kan ondersteun en die negatiewe impak op die gemeenskap kan teëwerk.
Ons fiskale regulasies sal op ons beleidsrigting voortbou en die bestaande kwesbaarheid van ekonomie beperk wat deur die pandemie vererger is.
Tito Mboweni, minister van finansies, het op 24 Junie ’n spesiale aangepaste begroting aan die parlement voorgelê as deel van die regering se sleutelingrypings tydens die pandemie.
Openbare besteding en begrotings is herrangskik om voorkeur aan te gee aan ingrypings wat met die Covid-19 pandemie en ekonomiese herstel te make het.
Die verligtingspakket sal gesondheid en voorste linie dienste ondersteun, die mees kwesbare burgers beskerm, werkskepping aanmoedig, ekonomiese groei deur hervorming ontsluit en openbare skuld stabiliseer. Mboweni het nadat die besluit van die IMF bekend gemaak is, gesê die regering se hulppakket sal R500 miljard direk vir die probleem aanwend.
“Dit is een van die grootste ondersteuningspakkette in die ontwikkelende wêreld.”
Hy sê ook die reserwebank het rentekoerse verlaag wat dit vir banke makliker maak om geld uit te leen en dit ondersteun likwiditeit in die plaaslike leningsmark.
Mboweni sê die regering se besteding en belastingvoorstelle en sy skema om salarisse te waarborg beskerm werkers en armes om in die moeilike tye kop bo water te hou.
“Ons fiskale regulasies sal op ons beleidsrigting voortbou en die bestaande kwesbaarheid van ekonomie beperk wat deur die pandemie vererger is,” sê hy.