Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
SA op pad na ‘ewigdurende babelaas’

Suid-Afrika gaan gebuk onder ’n gebrek aan “politieke moed”, met die regering wat die voete sleep om mense vir korrupsie te vervolg.

Suid-Afrika se “ekonomiese welstand” is afhanklik van ononderbroke krag, ekonomiese groei, en die skep van geleenthede vir gemarginaliseerde mense sodat hulle aan die ekonomie kan deelneem. Foto: Shutterstock

Dis een van die 12 risiko’s wat die land kan laat vasval in ’n “ewigdurende babelaas” gekenmerk deur “kortsigtigheid, maatskaplike bankrotskap en ’n staat wat inplof”.

Dís die dwingende waarskuwing vervat in die Instituut van Risikobestuur van Suid-Afrika (IRMSA) se 2020-risikoverslag.

Die organisasie sonder winsbejag se sesde jaarlikse verslag oor ekonomiese en maatskaplike risiko’s is Dinsdag uitgereik. Die verslag se skrywers het met 585 kundiges en besluitnemers oor risiko in verskeie bedrywe en in sowel die private as openbare sektor gepraat.

Drie oorhoofse temas is geïdentifiseer:

  • Ekonomiese groei: Suid-Afrika se “ekonomiese welstand” is afhanklik van ononderbroke krag, ekonomiese groei, en die skep van geleenthede vir gemarginaliseerde mense sodat hulle aan die ekonomie kan deelneem.
  • Groot projekte: Suid-Afrika se “maatskaplike welstand” wentel om die suksesvolle inwerkingstelling van groot projekte soos die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en die “verantwoordelike” herverspreiding van grond, “wat albei talle voordele vir die res van ons ekonomie kan inhou” – mits dit goed bestuur word.
  • Regte aanstellings: Baie kritieke projekte is afhanklik van die vermoë om die regte mense in die regte poste aan te stel.

  

    Risiko’s

    Die verslag identifiseer 12 groot risiko’s en stel oplossings voor.

    1. ’n Gebrek aan “verenigde, etiese en visioenêre leierskap”

    • Die land beleef ’n gebrek aan “politieke moed”, veral wat die vervolging van korrupte amptenare betref. IRMSA sê die staatsinstellings met die mag om dié probleme op te los, bestaan reeds, maar moet bemagtig word.

    2. Voortslepende probleme met korporatiewe beheer in sowel die private as openbare sektor

    • IRMSA sê tegniese bevoegdhede in alle sfere van die samelewing moet verbeter word.

    3. Korrupsie bly diep gewortel en word nie uitgeroei nie

    • IRMSA sê mense moet verantwoordbaar gehou word en instellings wat korrupsie ondersoek en vervolg, moet versterk word.

    4. Swak veranderinge in wette en regulasies

    • Dit sluit in dat ongrondwetlike veranderinge deurgevoer en dan in howe uitgedaag word én dat beleidmakers nie genoeg navorsing doen oor die potensiële impak van veranderinge nie. IRMSA wil meer robuuste debat sien voordat nuwe wette gepromulgeer word.

    5. Ondeurdagte NGV-beleid of swak inwerkingstelling

    • IRMSA identifiseer verskeie probleme met die NGV, soos die gebrek aan geld, te min dokters in die land, wantroue tussen die private gesondheidsektor en die staat en die potensiaal vir korrupsie. IRMSA pleit dat genoeg toesighoudende owerhede ingestel sal word om doeltreffende, korrupsievrye inwerkingstelling te verseker.

    6. Ondeurdagte grondhervorming of swak inwerkingstelling

    • IRMSA sê die grondvraagstuk word moeiliker gemaak deur historiese konflik en die politisering daarvan. Daar is ’n gebrek aan nasionale konsensus oor die onderwerp en geen leierskap om so ’n konsensus te vind nie. Beleid oor grondhervorming moet volgens IRMSA gegrond word op wedersydse voordele en maatskaplike samehorigheid.

    7. Talent word nie ontwikkel, gelok of behou nie

    • IRMSA kap die land se onderwysstelsel, met swak leesvaardighede, onderwysers sonder die nodig kennis, en skole in stedelike gebiede onder enorme druk weens verstedeliking. Onder die oplossings wat voorgestel word, is die uitbreiding van programme vir vaardigheidsontwikkeling by werkplekke en werk-geïntegreerde leer. IRMSA voel ook meer mense moet aangemoedig word om eerder beroepsgerigte studies te doen eerder as om universiteitsgrade na te streef.

    8. Ekstreme weergebeure, natuurrampe en klimaatsverandering

    • IRMSA kap die feit dat stadsbeplanning ’n funksie is van Suid-Afrika se beleërde munisipaliteite, wat dit doen sonder om die groter prentjie van klimaatsverandering in ag te neem.

    9. Te min elektrisiteit

    • Eskom se welbekende probleme om betroubaar krag aan die land te lewer, verg ’n behoorlike instandhoudingsplan. Ander voorstelle is dat al hoe meer private huishoudings hul eie krag opwek en berg en dat energiedoeltreffendheid verbeter word.

    10. Ontwrigtende tegnologie

    • IRMSA voel maatskappye moet baie meer doen om die impak van slimtegnologie te verstaan. Dit moet ook op bestuursvlak behartig word, nie net deur die afdeling vir inligtingstegnologie nie.

    11. Kuberaanvalle, databedrog en -diefstal

    • Menslike foute is steeds die grootste oorsaak van datalekkasies. Daarom is interne opleiding een van die belangrikste manier om dit te voorkom.

    12. As ekonomiese hervorming nie in werking gestel word nie of swak ingestel word

    • IRMSA lys die regering se onvermoë om staatsondernemings reg te ruk, die land se hoë skuldvlakke, beleidsonsekerheid, swak sakevertroue en dalende investering as krisisse. Die land moet onder meer “markvriendelike” beleid ontwikkel wat sowel plaaslike as buitelandse investering sal aanmoedig; private-openbare vennootskappe vir staatsondernemings skep; en besteding na strategiese gebiede soos gesondheid en onderwys herprioritiseer.

    Christopher Palmer, IRMSA se hoofraadgewer oor risiko, sê ten einde ’n “lente van hoop” in Suid-Afrika te behaal, sal alle Suid-Afrikaners moet saamwerk om dinge om te keer. Hy sê die verslag is meer as ’n lys risiko’s, dis ’n “bloudruk vir aksie”.

    Meer oor:  Ekonomie  |  Werkloosheid  |  Risiko  |  Ongelykheid  |  Armoede  |  Werkskepping
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.