Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
SA op rand van nog ’n afgradering: Maak dit saak?

Gaan Suid-Afrika, wat steier weens die tweeledige invloed van ’n resessie en die Covid-19-pandemie op die staatskas, Vrydag nog ’n dwarsklap van kredietgradeerders kry? Hier is hoe die land se voorste ekonome dit sien.

  

A monitor displays Moodys Corp. signage on the flo
Moody's besluit Vrydag oor Suid-Afrika se graderings. Foto: Getty Images

Net meer as die helfte, 56%, van die 16 ekonome wat aan Netwerk24 se peiling deelgeneem het, verwag inderdaad slegte nuus wanneer Moody’s Investors Service, Standard & Poor’s Global Ratings (S&P) en Fitch Ratings hul sesmaandelikse besluit oor die land se gradering aankondig. Al drie se besluit word Vrydag verwag.

Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, beskou ’n afgradering as onafwendbaar gegewe die fiskale sleur wat reeds met die aanvullende begroting van Junie geblyk het.

Talle ekonome verwag egter dat die gradeerders ’n kom-ons-kyk-eers-benadering sal volg – hulle sal onder meer wil sien of die plan om staatsamptenare se verhogings te beperk, wel deurgevoer word; of Eskom gestabiliseer sal word; en selfs of werk gemaak word van pres. Cyril Ramaphosa se heropbou-en-herstelplan vir die ekonomie.

Die pessimistiese ekonome verwag dat die gradeerders die land dieper onder beleggingsgraad gaan afgradeer of die vooruitsig vir die gradering in negatief gaan verander. Laasgenoemde is veral van toepassing op S&P, wat nog ’n stabiele vooruitsig het op Suid-Afrika se vermoë om sy staatskuld te delg.

Gewoonlik word ’n vooruitsig in negatief verander voordat ’n afgradering gedoen word, maar dit kan ook gelyktydig gedoen word. ’n Land kan ook in buitengewone omstandighede met meer as een vlak op ’n slag afgegradeer word, maar nie een ekonoom verwag dat dít Vrydag gaan gebeur nie.

  

moody's, s&p, fitch
Suid-Afrika se kredietgradering soos dit nou daar uitsien. Die laaste afgraderings was in Maart en April 2020.

As hulle wag, waarvoor wag hulle?

Prof. Jannie Rossouw, waarnemende hoof van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) se bestuurskool, verwag geen afgradering nie: “Die onlangse versterking in die wisselkoers van die rand dui op nuwe belangstelling deur internasionale beleggers in Suid-Afrikaanse bates. Dit dui aan dat die algemene siening van Suid-Afrika verbeter het.”

Jeff Schultz, BNP Paribas se hoofekonoom, is onder die ekonome wat verwag dat die gradeerders gaan wag vir die uitslag van die hofsaak oor verhogings in die staatsdiens en die Februarie-begrotingsrede.

Lumkile Mondi van Wits verwag dat die gradeerders gaan wag om te kyk of die regering daarin kan slaag om sy salarisrekening in toom te hou.

Danie Meyer van die Universiteit van Johannesburg verwag dat die vierde kwartaal se ekonomiese groei en antwoorde op die Eskom-skuldsituasie afgewag gaan word.

Johann Els, hoofekonoom van Old Mutual, voeg by dié lysie dat die gradeerders dalk gaan wag om te kyk of Covid-19-infeksies afneem.

Hieroor sal agentskappe bekommerd wees

Die gradeerders gaan na verwagting kommer uitspreek oor die staat se vermoë om sy uitgawes te besnoei en skuld te stabiliseer, sê Schultz.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, reken die kredietgradeerders glo eenvoudig nie Tito Mboweni, minister van finansies, se vooruitskattings nie – wat ook duidelik geblyk het uit Moody’s se ontleding van die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR).

Christo Lüus, ekonoom van Ecoquant, verwag ook verwysings na swak ekonomiese groei, stygende werkloosheid, swak sakevertroue en snel groeiende staatskuld.

Uitwerking van gradeerders se besluit

Els reken dat die besluite op kort termyn wisselvalligheid op markte kan veroorsaak, maar dat dit op medium- tot lang termyn weinig verskil sal maak.

Afgraderings sal die rand minstens tydelik wisselvallig maak.

Schultz sê egter enige afgradering sal oorsese beleggers selfs nog meer huiwerig maak om in Suid-Afrika te belê en kan druk op die rand plaas. Dit sal ook die opbrengskoers op staatseffekte laat styg, wat die las op die staat sal verhoog, sê Schultz.

Ulrich Joubert, onafhanklike ekonoom, vermoed ’n afgradering is reeds in ’n groot mate deur finansiële markte verdiskonteer. “Op langer termyn gee dit wel die boodskap aan plaaslike en internasionale finansiële markte dat die risiko’s om in Suid-Afrika se finansiële instrumente te belê, groter word. Dit sal dus beteken dat plaaslike rentekoerse hoër sal moet neig om beleggers en spekulante te lok om in die plaaslike finansiële markte te belê.”

Hy sê die styging in die opbrengskoers op staatseffekte sal dit juis al hoe duurder maak om plaaslike begrotingstekorte of infrastruktuurontwikkeling te finansier.

Wat van die herstelplan?

Wat Ramaphosa se herstelplan betref, is die verwagting dat die gradeerders daarvan sal kennis neem.

CAPE TOWN, SOUTH AFRICA - OCTOBER: President Cyril
Ekonome is erg verdeeld oor pres. Cyril Ramaphosa se herstelplan. Foto: Gallo Images

“Maar soos met al die ander ekonomiese bloudrukke en beleidsraamwerke wat ons die afgelope vyf jaar gehoor het, is die risiko’s vir inwerkingstelling nie gering nie,” sê Schultz.

Sanisha Packirisamy, ekonoom van Momentum Investments, reken ook die gradeerders sal “ferm wees dat inwerkingstelling deurslaggewend is”.

Meyer beaam dit: “Suid-Afrika het nog altyd goeie planne gehad, maar geen implementering nie. Daar is ook nie geld beskikbaar om die megaprojekte te finansier nie. Die regering moet eerder ophou om die ekonomie en werkskepping te beheer en dit vir die private sektor los. Die regering se personeel en salaris sal daadwerklik gesny moet word en baie dringend ook.”

Bishop is betreklik optimisties: “Ek dink dit sal keer dat Suid-Afrika met twee vlakke afgegradeer word, gegewe hoe baie bereik is en in bedryf gestel is.”

Elna Moolman, ekonoom van Standard Bank, sê tot dusver is daar “bemoedigende tekens dat die regering werklik verbind is” tot die plan. “Dit sou dus sin maak vir die graderingsagentskappe om net meer as twee maande te wag tot die 2021-begroting voordat hulle stappe doen. Dan sal hulle meer sekerheid hê oor die regering se vermoë en bereidwilligheid om ongewilde besluite te neem en deur te voer.”

Lüus meen die plan het nie veel om die lyf nie. “Intussen karring die ANC nog steeds aan met hul onteiening sonder vergoeding (alhoewel dit darem bietjie verwater het), moontlike voorgeskrewe bates, die nasionalisering van die sentrale bank, en ander sideshows.

“Korruptes wat aangekla word, kry dit dikwels reg om die proses te vertraag of selfs gedeeltelik te laat ontspoor, en talle sit steeds in hoë poste. Vertroue dat die regering ’n doelbewuste ekonomiese groeistrategie nastreef, bly maar wankelrig.”

Rossouw sê die finansiering van die plan is nog nie verduidelik nie, daarom is dit nie iets wat die gradeerders “na waarde kan skat of waaroor enige mening gehuldig kan word nie”.

Meer oor:  Fitch  |  Moody's  |  S&P  |  Cyril Ramaphosa  |  Kredietgradering  |  Herstelplan  |  Afgradering  |  Rommelstatus  |  Kredietgradeerders  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Staatskuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.