Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
SA sê: ‘Nee wat, ons het genoeg vaardighede’

Die regering glo nie Suid-Afrika het ’n tekort aan argitekte, bourekenaars en bestuurders van groot maatskappye nie en buitelanders met dié vaardighede kan eersdaags sukkel om hier te kom werk.

Suid-Afrika is berug vir die rompslomp en hoë vereistes van die proses om verblyfreg in dié land te bekom. Foto: Pixabay

Die departement van binnelandse sake se lys vir skaars vaardighede word tans hersien. Dié lys bepaal watter buitelanders vir kritiese-vaardighede-visums in aanmerking kom.

Indien buitelanders se vaardighede nie meer op die lys is nie, kan hulle net vir gewone toeriste- of korttermyn-besigheidsvisums aansoek doen.

Suid-Afrika is berug vir die rompslomp en hoë vereistes van die proses om verblyfreg in dié land te bekom.

Volgens die regering se logika het Suid-Afrika nou baie minder buitelanders met kritieke vaardighede nodig as vyf jaar gelede en die lys behoort dus aansienlik verkort te word.

Rolspelers wat met dié visums vir buitelanders werk, sê die konseplys is aanmerklik korter as die 2014-lys wat die departement nou hersien.

Van die ander vaardighede wat nie meer op die konseplys is nie, sluit in stedelike en landelike beplanners, sommige spesialiste in die lewens- en aardwetenskappe, en akademici met doktorsgrade.

En as ’n buitelander wat ’n uitheemse taal magtig is die lys wil haal, kan hy of sy dit nét doen as hulle beplan om in ’n oproepsentrum te werk. Skaapskeerders is oënskynlik steeds op die konseplys.

Ons het nog altyd ’n werkpermit gekry vir ’n buitelander waar ons kon bewys dit neem nie ’n plaaslike werkgeleentheid weg nie en het kommersiële sin.
Marisa Jacobs van Xpatweb

Die konseplys het gemengde reaksie van rolspelers ontlok.

Stefanie de Saude-Darbandi, een van die land se voorste kenners van immigrasiewetgewing, sê Suid-Afrika het ’n groot tekort aan vaardighede en enige verkorting of weglating van die lys is problematies.

In die veld van inligtingstegnologie en kommunikasie is kundiges ten opsigte van kunsmatige intelligensie, masjienonderrig, die Internet van Dinge en datawetenskappe uitgesluit, sê sy.

De Saude-Darbandi sê ook die vaardigheidslys vir lewens- en aardwetenskappe is heelwat korter. Tans sluit dit beroepe in soos omgewingsingenieurs, bio-ekonome en -chemici, proteïen-wetenskaplikes, mikrobioloë en wetenskaplikes wat in waterhulpbronne spesialiseer.

Marisa Jacobs, direkteur van Xpatweb wat spesialiseer in werkpermitte, belasting en valutabeheer vir multinasionale werkgewers wat buitelanders na Suid-Afrika stuur, sê die lys sal egter ook nuwe kategorieë bevat, soos die olie- en gasbedryf wat nuwe geleenthede bied.

“Ons het nog altyd ’n werkpermit gekry vir ’n buitelander waar ons kon bewys dit neem nie ’n plaaslike werkgeleentheid weg nie en het kommersiële sin. Die lys van kritieke vaardighede is net een van verskeie kategorieë waaronder ’n permit bekom kan word.”

Sy sê die konseplys is waarskynlik korter omdat die departement gesien het van die ou kategorieë word nie gebruik nie. Die lys is meer gekonsentreerd met kategorieë wat saamgevoeg word.

De Saude-Darbandi sê egter dit is moeilik om te verstaan waarom die konseplys nie voorsiening maak vir hoofbestuurders vir maatskappye of ’n soortgelyke kategorie nie.

“Dit behels daar is geen visum vir hoëvlak-sakelui soos uitvoerende hoofde, konsultante, of ander spesialiste nie. Dit terwyl daar ’n groot behoefte is gegewe pres. Cyril Ramaphosa se veldtog om internasionale beleggers hierheen te lok. Ons moet dit maklik maak vir sakeleiers om hierheen te kom.”

Jacobs meen baie partye het dié kategorie misbruik. “Ons stem saam dat die kategorie nie heeltemal verwyder moet word nie, maar dit moet vernuwe word en hoe dit daar moet uitsien om misbruik te keer, sal in raadpleging met die departement aandag kry.”

Daar is ook kritiek omdat die konseplys net oproepsentrums toelaat om kritieke-vaardighede-visums goed te keur vir mense wat ander tale magtig is.

“Alle ondernemings kommunikeer met mense buite die Engelssprekende wêreld, soos Oos-Asië en Franssprekende Afrikalande. Ondernemings moet tog kliënte, verskaffers of hul hoofkantoor kan bel en maklik kommunikeer,” sê De Saude-Darbandi.

  • Indien jy meen ’n sekere kategorie hoort op die lys, kan jy Jacobs kontak by marisa@xpatweb.com met ’n motivering wat hulle dan aan die departement sal oordra.
Meer oor:  Visums  |  Visumregulasies  |  Vaardigheid  |  Buitelanders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.