Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
SA se werkloosheid ’n ‘bloedbad’
Die verlies aan 34 000 huiswerkers sedert die begin van verlede jaar het bygedra tot die hoë werkloosheidsyfer.. Foto: iStock

Suid-Afrika se werkloosheidsprobleem is amptelik erger as dié van enige ander land ter wêreld.

Nêrens anders is só ’n groot persentasie van die bevolking vir só ’n lang tydperk al werkloos as in Suid-Afrika nie, sê die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming (CDE).

Tans is 10,3 miljoen mense werkloos teenoor 8,4 miljoen in 2014, sê die CDE.

Meer as 70% van die werkloses volgens die eng definisie (dus 4,8 miljoen uit 6,7 miljoen mense) het in die afgelope jaar geen vorm van werk gehad het nie, teenoor 60% tien jaar gelede, blyk uit ’n verslag oor die werkloosheidskrisis wat die CDE Woensdag in Johannesburg uitgereik het.

Net 42% van die volwassenes in die land werk, vergeleke met die wêreldgemiddelde van 60%. In 2008 het nagenoeg 46% van die volwassenes in Suid-Afrika werk gehad.

Dit is niks minder nie as ’n bloedbad, sê Ann Bernstein, uitvoerende direkteur.

Die CDE sê om die nasionale uitdaging die hoof te bied, moet die omvang van die krisis besef word, is eerlikheid oor die oorsake nodig en moet die nodige hervormings dringend ingestel word. Dit beteken moeilike besluite moet geneem word.

“Eindelose werksessies, spitsberade en Nedlac-onderhandelinge het ons by ’n dooiepunt gelaat. Die tyd vir klein ad hoc-projekte en spesiale inisiatiewe is ook lankal verby,” sê Bernstein.

Benewens die swak ekonomie, word die hoë werkloosheidsyfer van 29% ook toegeskryf aan regeringsbeleid wat nie werk skep vir ongeskoolde en halfgeskoolde werkers nie, terwyl genoeg mensehulpbronne een van Suid-Afrika se grootste bates is, sê sy.

“ ’n Werk wat min betaal, is beter as geen werk nie.”

Nywerheidsbeleid moedig kapitaal- en vaardigheidsintensiewe vervaardigingstegnieke en tegnologiese vooruitgang by maatskappye aan eerder as arbeidsintensiewe vervaardiging.

Volgens die CDE gaan die meeste regeringsteun tans aan bedrywe soos die voertuigvervaardigingsbedryf, wat sowat 100 000 mense in diens het – minder as 1% van alle werkendes in Suid-Afrika.

Die CDE vra al lank om die Coega-sone in Nelson Mandelabaai te gebruik om die idee van ’n uitvoervervaardigingsone (EPZ) te beproef, maar die regering het nie daaraan gebyt nie.

Met ’n EPZ wil die CDE sy aanbeveling beproef om arbeidsintensiewe vervaardigers te lok wat laer lone betaal en uitsluitlik vir die uitvoermark vervaardig.

Die maatskappye sal kwytskelding kry van sekere aspekte van arbeidswetgewing, soos ooreenkomste wat in bedingingsrade onderhandel word en dan op kleiner maatskappye afgedwing word wat dit nie kan bekostig nie. Die enigste aansporing vir die vervaardigers in die EPZ sal die belastingtoegewing vir indiensneming wees wat werkgewers aanmoedig om jong, ongeskoolde werkers in diens te neem, sê Bernstein.

Die CDE is ten gunste van arbeidsintensiewe vervaardiging vir laer geskoolde werkers, want, meen hulle, geen land ter wêreld wat nie olie ontdek het nie kon al massas mense in die arbeidsmark opneem sonder lang tye van uitgebreide vervaardiging vir laer geskooldes nie.

Bangladesj het laag geskoolde vervaardiging by China oorgeneem en begin met goedkoop klere soos T-hemde. Nou vervaardig hulle ál meer gesofistikeerde produkte, soos selfone en elektroniese toerusting.

“Maar Suid-Afrika sê ‘nee, dankie, ons het ’n ander strategie’. Ons het dáárdie strategie die afgelope 20 jaar gevolg en dit het misluk,” sê Bernstein.

Die CDE sê dit is van kritieke belang dat die hersiening van die nasionale minimum loon ernstig oorweeg word om te bepaal hoeveel mense dit uit die werkplek hou. Die CDE glo die minimum loon het ’n uitwerking op landbouposte, huiswerkers en werkers in die taxi- en meubelbedryf. Die verhoging word tans in Nedlac beding. Cosatu eis 12,5% pleks van die voorgestelde 5%.

Meer Suid-Afrikaners moet na stede kom omdat werk vinniger geskep word in stede as in landelike gebiede, sê die CDE in sy verslag. Sedert 2015 was werkskepping in die metro’s drie keer so vinnig as in landelike gebiede, al het die bevolkings teen dieselfde koers gegroei.

Meer oor:  Ekonomie  |  Werkloosheid  |  Werkskepping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.