Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
SA: Skrif is (nog) nié aan die muur

Ekonome is nog nie te bekommerd daaroor dat Suid-Afrika nie sy skuld kan delg nie – dit styg wel te vinnig, berig Liesl Peyper.

  

’n Lening van die Internasionale Monetêre Fonds sal nie oorweeg word solank daar kopers vir staatseffekte is nie.

Beleggers val nog oor hul voete om geld aan Suid-Afrika te leen om onder meer Eskom te finansier en daarom is die land nog baie ver van bakhand staan by die Internasionale Monetêre Fonds (IMF).

Dit was die siening van vier ekonome met wie Rapport die afgelope week gepraat het ná vermanings uit verskeie oorde dat Suid-Afrika aan die vooraand staan van ’n noodlening by die IMF vra.

Die reële opbrengste op staatseffekte is baie groter as dié wat beleggers in ontwikkelde lande soos die VSA of Duitsland kan kry, sê Jeff Schultz, ’n senior ekonoom van BNP Paribas. “Op die laaste veiling van staatseffekte het die vraag die aanbod verreweg oorskry. Voorgenome beleggers was bereid om tot drie keer soveel te betaal as die aanvanklike bodprys,” sê hy.

LEES OOK: Geen noodsaak om IMF te nader, sê regering

Die tienjaar-staatseffekte lewer tans opbrengste van digby 8,5% en teen ’n relatief lae inflasiekoers van 4,5% kry beleggers ’n reële opbrengs van 4%.

Die regering reik weekliks staatseffekte uit, gedeeltelik om Eskom se geldelike tekort te finansier. Foto: Nadine Hutton, Bloomberg

“Daar is baie min plekke in die wêreld wat tans sulke opbrengste lewer,” sê Schultz. Hy gee toe dat Suid-Afrika se fiskale toestand allermins rooskleurig is, maar die blote feit dat die land nog sy eie skuld kan finansier, beteken ’n IMF-lening is nie in die nabye toekoms ’n moontlikheid nie.

Suid-Afrika se verhouding van skuld tot sy bruto binnelandse produk (BBP) is so 60%. Dit is nie vreeslik hoog in vergelyking met dié van ander ontluikende lande nie. Brasilië, byvoorbeeld, se skuld tot BBP is 80%.

Wat wel uiters kommerwekkend is, is die pas waarin Suid-Afrika se skuldkoers in ’n kwessie van ’n dekade toegeneem het. In 2010 was die skuld tot BBP ongeveer 30% en dit het in ’n tienjaartydperk verdubbel. “Dis ’n groot probleem,” sê Schultz.

Dit is eers as buitelandse beleggers staatseffekte in groot hoeveelhede verkoop dat die gevaarligte sal flikker.
Kevin Lings van Stanlib

Kevin Lings, hoofekonoom van Stanlib, sê daar was die afgelope tien jaar wesenlike en volgehoue agteruitgang in Suid-Afrika. “En dit gaan steeds voort – niemand sal dit ontken nie.”

’n Land gaan klop egter net by die IMF om hulp aan as hy nie langer sy geldelike verpligtinge kan nakom nie en alle moontlikhede vir finansiering opgedroog het.

“As ons ons nou tot die IMF wend, sal hulle ons vra: ‘Waarvoor het julle geld nodig? Waarom gaan leen julle dit nie in die plaaslike mark nie?’ ”

En dit is presies wat die regering doen met die weeklikse uitreiking van staatseffekte. “Die finansiering van ons skuld kom nog merendeels van plaaslike beleggers,” sê Lings. Hy sê sowat 38% van Suid-Afrika se skuld is teen Junie deur buitelanders gehou.

“Dit is eers as buitelandse beleggers staatseffekte in groot hoeveelhede verkoop dat die gevaarligte sal flikker.”

LEES OOK: Magda Wierzycka waarsku teen IMF-hulp

Hy wys daarop dat Suid-Afrika wat sy skuldlas betref in ’n gunstiger posisie is as ’n land soos Argentinië, wat ’n paar jaar gelede ’n lening van $57 miljard by die IMF aangegaan het.

Betogers in Buenos Aires, Argentinië, verlede jaar met baniere wat vra vir brood en werk. Foto: Getty Images

Sowat 90% van Suid-Afrika se skuld is in rand en 10% is in dollar. Argentinië, daarenteen, se skuld was grotendeels in dollar.

Lings meen Suid-Afrika se lae koers van buitelandse skuld is juis een van die sterkste oorwegings waarom hy nog beleggingstatus het by die graderingsagentskap Moody’s. “Ons is dus nie aan sulke groot risiko’s blootgestel as die rand verswak nie.”

Soos Schultz waarsku Lings ook dat die pas waarin skuld toegeneem het, uiters kommerwekkend is.

Wat uitstaan in Suid-Afrika, is nie die vlak van ons skuld nie – Amerika, Japan en sommige Europese lande se skuld is meer as 100% van hul BBP – maar die akkumulasie daarvan in ’n kort tydperk. “En die regering het bitter min om daarvoor te wys – dit is aangewend om ons bestaande skuld te delg en vir verbruik, nie vir betekenisvolle infrastruktuur of om die ekonomie op dreef te kry nie.”

Moody’s is die enigste kredietgraderingsagentskap wat Suid-Afrika op beleggingstatus het. Fitch en Standard & Poor’s het Suid-Afrika se gradering in Maart 2017 reeds tot rommelstatus verlaag. Moody’s waarsku egter geruime tyd dat Suid-Afrika se stygende skuld hom sy beleggingstatus sal kos.

Maarten Ackerman, hoofekonoom van Citadel, sê Suid-Afrikaanse staatseffekte sal, ironies genoeg, nog beter reële opbrengste lewer met ’n afgradering omdat rentekoerse verder sal klim. “Maar die vraag is of ons nog ons rente op skuld sal kan bekostig. Dis hoekom ons die ekonomie aan die gang moet kry en belasting moet invorder.”

Volgens Ackerman het die regering nog ’n paar troefkaarte wat hy kan speel om ’n afgradering te voorkom. Een so ’n opsie is voorgeskrewe bateklasse vir pensioenfondse of om pensioenfondse weer te belas, soos in die verlede.

“Daar is ’n reusepoel kontant wat op die oomblik nie belas is nie en deur ’n 10%-belastingkoers daarop in te stel, kan ’n wesenlike verskil maak.”

Christie Viljoen, ’n ekonoom van PwC, sê daar is uiteraard ’n klomp stappe wat die regering kan doen. “Dit is maklik om ’n lys van antwoorde op te stel, maar daar blyk nie die politieke wil te wees om dit in te stel nie. Aan die bestedingskant moet ons byvoorbeeld personeel by Eskom en ander staatsinstellings verminder of salarisse besnoei. Nie een van die twee gaan gebeur nie – die regering is te na aan die vakbonde.”

Die volgende opsie is om semistaatsinstellings te herstruktureer, maar ook dit sal nie oornag gebeur nie omdat die vakbonde weer eens vasskop.

Viljoen benadruk egter dat hy nie bekommerd daaroor is dat Suid-Afrika nie sy skuld sal kan delg nie. “Ons bestee tans omtrent R200 miljard per jaar aan rente op skuld. As ons skuldvlakke styg, beteken dit ons sal meer geld opsy moet sit vir skuld, wat dan by ander plekke weggeneem moet word. ’n Afgradering van kredietagentskappe is eintlik maar net ’n teken dat ons skuld ál duurder word. Hulle probeer nie vir die wêreld sê ‘Suid Afrika gaan nie betaal nie.’ ”

Meer oor:  Imf  |  Staatsbesteding  |  Ekonomie  |  Staatskuld  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.