Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
SA tuimel op ranglys vir oudit-standaarde

Twee jaar gelede was Suid-Afrika die land met die hoogste ouditstandaarde ter wêreld. Nou is hy 55ste uit 140 lande.

Die ouditfirma KPMG se kantore in Braamfontein, Johannesburg. Skandale om KPMG is een van die redes dat die land se ouditstandaarde verswak het. Foto: Felix Dlangamandla

Die standaarde vir oudits en verslagdoening is een van die maatstawwe wat die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) se wêreldmededingendheidsindeks meet.

Van die groot skandale wat Suid-Afrikaners die afgelope jaar regop laat sit het, was die Steinhoff-ineenstorting en die ouditfirma KPMG se erkenning dat hy by van die omstrede Gupta-familie se ondernemings betrokke was.

Hy het ook ’n verslag teruggetrek wat hy oor die sogenaamde “geheime en onwettige” ondersoekeenheid by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) in opdrag van Tom Moyane, geskorste kommissaris van die SAID, geskryf het.

Suid-Afrika het van nr. 1 vir dié kategorie in 2016 tot nr. 30 in 2017 geval, en vanjaar met nóg 25 plekke tot nr. 55.

Alghele indeks

Suid-Afrika het met vyf plekke tot 67 uit 140 lande op die algehele indeks gedaal.

Prof. Raymond Parsons, verbonde aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê met die politieke en ekonomiese gebeure wat die afgelope paar jaar in die land voorgekom het, is hy nie verbaas dat Suid-Afrika al verder agteruitboer nie.

“Die WEF se nuutste bevinding laat die gevaarligte weer flikker oor faktore wat betref Suid-Afrika se ekonomiese prestasie, wat ’n ernstige negatiewe invloed op sy internasionale mededingendheid het,” sê hy in ’n verklaring.

Swak punte

Een van die punte wat drasties gedaal het, is dié oor eiendomsreg, wat van die 56ste plek tot 97 gedaal het. Die ANC het sedert die bekendstelling van die vorige indeks sy planne van grondonteiening sonder vergoeding bekend gemaak.

Ander swak punte wat die WEF sê Suid-Afrika se mededingendheid beïnvloed, is onder meer gesondheid en veiligheid.

Die WEF sonder Suid-Afrika saam met Nigerië, Jemen, Pakistan en die Filippyne uit as lande met probleme wat geweld, misdaad of terrorisme betref en “waar die polisie as onbetroubaar beskou word”.

  • Wat betref georganiseerde misdaad het Suid-Afrika met drie plekke tot nr. 125 gedaal.
  • ’n Nuwe punt wat op die ranglys by instellings ingesluit is, is die voorkoms van korrupsie. Suid-Afrika is 61ste uit 140 lande in die wêreld.
  • Volgens die WEF beperk die lae vlak waarteen inligtings-en-kommunikasietegnologie (IKT) (85ste) gebruik word, Suid-Afrika se mededingendheid. “Net 54% van volwasse Suid-Afrikaners het toegang tot die internet en net sowat 70 uit 100 mense is op mobiele breëbanddienste ingeteken.
  • “Net so is die digitale vaardighede (116ste) en kritiese denkvaardighede (78ste) van die huidige arbeidsmag onvoldoende om enige vordering in die vierde nywerheidsrevolusie te maak.
  • Suid-Afrika vaar ook nie goed met beleid nie. Die WEF plaas hom in die 84ste plek ten opsigte van die las wat beleid op mededingendheid plaas. Dit is egter vyf plekke beter as die 89 van 2017.

Sterk punte

Van die sterk punte wat Suid-Afrika mededingend maak, is die grootte van sy mark (35ste), goeie infrastruktuur (64ste) en ’n goed ontwikkelde finansiële stelsel (18de).

Suid-Afrika vaar ook besonder goed ten opsigte van hoeveel dit kos om ’n sakeonderneming te begin (4de), maar vaar besonder swak wat betref hoe lank dit neem om die onderneming aan die gang te kry (128ste).

Suid-Afrika se innovasievermoë (46ste) word ook as “relatief ontwikkeld” beskryf, hoewel dit beperk word weens onvoldoende navorsing en ontwikkeling.

* Die WEF het die struktuur van sy ranglys verander vergeleke met dié van 2017. Dit maak die vergelyking van sommige elemente onmoontlik.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.