Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Regering se plan: ‘SA verpand sy familiesilwer’

Dit lyk vir haar of Suid-Afrika besig is om sy “familiesilwer” te verpand, sê prof. Jo-Ansie van Wyk, ’n kenner van internasionale politiek van Unisa, in reaksie op pres. Cyril Ramaphosa se televisieboodskap aan die nasie.

Wat haar betref het die president ’n “troosbegroting” gelewer om gemoedere te bedaar en soos hy self gesê het die ekonomie te stimuleer.

“Wat vir my opvallend was, was dat hy enorme bedrae genoem het en nie noodwendig al die bronne daarvan bekend gemaak het nie.

“Die groot toets is hoe toeganklik is die hulppakkette, wie trek voordeel daaruit en as daar vergrype is hoe dit aangespreek sal word.

Wat vir my opvallend was, was dat hy enorme bedrae genoem het en nie noodwendig al die bronne daarvan bekend gemaak het nie.

“Ons het definitief die mees omvattende sosialistiese omvangpakkette wat enige Suid-Afrikaanse regering nog ooit bekend gemaak het gesien waarin die staat volle beheer het. Dit is ook die eerste keer dat private maatskappye baie afhanklik is van die staat.

“Hy het verwys na befondsing uit die Nywerheidsontwikkelingskorporasie en konsultasies met die Wêreldbank en die Internasionale Monitêre Fonds, die Brics-ontwikkelingsbank en die Afrika-ontwikkelingsbank. Wat my bekommer is waar die res van die geld vandaan kom,” sê Van Wyk.

“Dit kan wees dat daar ooreenkomste is met banke of pensioenfondse. Dit weet ons nie. ’n Mens sou verkieslik ’n uiteensetting wou gehad het.

“Al het van die instellings wat hy noem aangebied om te help, wil ek weet wat sal hierdie befondsing ons kos. Hierdie is banke en hulle sal die geld nie sommer net weggee nie.”

Van Wyk sê die groot vraag is hoe die uitdeel van die geld gemonitor gaan word.

“Hoewel die president verwys het na die korrupsie wat reeds met die hulpverlening van kospakkies plaasgevind het, sou ek gehoop het ’n paar inhegtenisnemings is al gedoen en dat hy dit aangekondig het.

“Lyk my die provinsies het nie so baie hulp ontvang nie omdat baie goed op nasionale vlak gedoen sal word. Baie geld is ook aan munisipaliteite beskikbaar gestel.

“Dit is ook belangrik dat hy met vennote van die regering soos Nedlac in gesprek was, sowel as met die presidensiële adviesraad oor die verligtingsplanne.

“Wat my ook opgeval het, is dat hy verwag daar sal nog ’n golf van Covid-gevalle wees en dat toerusting en personeel daarvoor in plek gekry moet word.

“Die getalle wat hy genoem het wat getoets is, is na my mening hopeloos te min. Dit sal versnel moet word.”

Van Wyk sê in al Ramaphosa se televisieboodskappe oor die pandemie was hy baie realisties.

“Hy erken dit sal groot opofferings verg en dat die omvang baie groot sal wees en hierdie nie ’n vulletjie is waarmee ons te doen het nie, maar eerder ’n baie groot bul wat ons in die kraal moet kry.

Hy erken dit sal groot opofferings verg en dat die omvang baie groot sal wees en hierdie nie ’n vulletjie is waarmee ons te doen het nie, maar eerder ’n baie groot bul wat ons in die kraal moet kry.

“Hy volg deurentyd dieselfe patroon. Hy begin deur die omvang van die probleem te skets, dan die aankondigings te doen, bietjie besonderhede te verskaf en dan duidelik te maak na waarheen ons werk,” sê Van Wyk.

Ramaphosa het dit volgens haar ook duidelik gemaak dat ’n nuwe maatskaplike verhouding uitgewerk sal moet word waarin regverdigheid en gelykheid ’n groot rol moet speel.

Dit is ook belangrik dat ons sal moet herbesin oor die grondslag van die ekomomie.


‘Ekonomiese transformasie met inhoud’

Dit was nóg ’n belangrike en rigtingewende toespraak deur pres. Cyil Ramaphosa, sê die politieke ontleder Theo Venter van die Noordwes-Universiteit se sakeskool in Potchefstroom.

“Die belangrikste aankondiging wat hy gedoen het is die ernorme ekonomiese noodhulpprogramme van R500 miljard en die geleidelike infasering van die ontperking.”

Venter sê dit is ook belangrik dat Ramaphosa die voedselnood in die land erken het.

“Die belangrikste vir my is sy gebruik van die woorde ‘radikale ekonomiese transformasie’ aan die einde van sy toespraak. Dít nadat hy aangedui het dat ons geld gaan soek by die Wêreldbank, die Internasionale Monetêre Fonds, die Brics-ontwikkelingsbank en die Afrika-ontwikkelingsbank.

“Hierdie Covid-19-krisis is nie net die ‘herset-knoppie’ vir die wêreldekonomie alleen nie, maar ook vir die Suid-Afrikaanse ekonomie.

Die belangrikste aankondiging wat hy gedoen het is die ernorme ekonomiese noodhulpprogramme van R500 miljard en die geleidelike infasering van die ontperking.

“Dít is ekonomiese transformasie met inhoud, eerder as die radikale ekonomiese transformasie van die Zuma-era wat staatskaping en niks anders as ’n politieke ekonomiese slagspreuk teen die Ramaphosa-groepering was nie,” sê Venter.

Meer oor:  Ekonomie  |  Koronavirus  |  Hulppakket  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.