
Suid-Afrika was reeds vóór die koms van die Covid-19-krisis in ’n resessie. Foto: iSTOCK
Netwerk24 Foto: iSTOCK
Die bloedbad wat die Covid-19-inperking in die ekonomie veroorsaak het, sal eindelik Dinsdag duidelik wees wanneer Statistieke Suid-Afrika (SSA) die bruto binnelandse produk vir die tweede kwartaal bekend maak.
Dit word alom voorspel dat kwartaalgroei tussen -20% en -55% gaan beloop weens die sluiting van groot dele van die ekonomie in dié kwartaal.
Die gemiddelde raming van ekonome wat Reuters gepeil het, is vir -44,5%.
Die groei vir die jaar tot einde Junie gaan ook diep in die rooi wees, met ramings van tussen -10% en -20%.
Suid-Afrika was reeds vóór die koms van die Covid-19-krisis in ’n resessie.
Die tweede kwartaal sal die vierde opeenvolgende kwartaal van negatiewe groei wees. Die vorige drie kwartale was groei onderskeidelik -0,8%, -1,4% en -2%.
Die syfers kan onder meer ook ’n beduidende verandering toon in die gewigte van verskillende sektore van die ekonomie, gegewe dat verskillende sektore vroeër of later kon begin sake doen.
In die primêre sektor is dit moontlik dat landbou se groei positief was of die inkrimping minstens kleiner, gegewe dat kosproduksie kon voortgaan. Die perke op uitvoer, tesame met die verbod op drank- en sigaretverkope sou egter wel die wyn- en tabakbedryf geskaad het.
In die sekondêre sektor sou konstruksie sy negatiewe tendens voortgesit het. Vervaardiging sou waarskynlik ook negatief gegroei het, hoewel daar ligpunte sou wees vir voedselproduksie.
In die tersiêre sektor word ’n skerp inkrimping verwag in die sektor handel, spyseniering en verblyf; in vervoer; en in persoonlike dienste. Vakansieverblyf, haar- en skoonheidsalonne en gimnasiums was vir so te sê die hele kwartaal bottoe.
Daar word wyd gevrees die skade wat die inperking aan die ekonomie veroorsaak het, sal langdurig wees.
Business for South Africa (B4SA) raam dit sal minstens twee jaar neem voordat Suid-Afrika se ekonomie weer terug is waar dit vóór die Covid-19-pandemie was.
Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za, het onlangs daarop gewys dat een uit vyf mense wat voor die inperking ’n salaris verdien het, in Junie vanjaar geen inkomste gehad het nie. Hy voorspel dat werkloosheid in die tweede kwartaal tot meer as 50% opgeskiet het.
Die groeisyfer vir die tweede kwartaal gaan ongetwyfeld die swakste wees wat tot nog toe gemeet is.
ETM Analytics waarsku dat Tito Mboweni se mediumtermynbegrotingsraamwerk van Oktober ná Dinsdag se BBP-syfer fyn dopgehou gaan word. Die land se begrotingstekort gaan na verwagting tot R700 miljard styg.