Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sactwu kap klein klerefabrieke wat nie Ters eis

Die klerewerkersvakbond Sactwu het met ’n blitspeiling bevind nagenoeg 300 kleiner klerefabrieke het nooit vir hul werkers aansoek gedoen vir die Covid-19-Ters-voordele van die Werkloosheidversekeringsfonds (WVF) nie.

André Kriel, hoofsekretaris van die klerewerkersvakbond Sactwu. Foto: Son

André Kriel, hoofsekretaris van Sactwu, sê hulle is baie bekommerd daaroor, want sowat 7 500 mense het dus nie toegang tot die uitbetalings gekry nie.

Die peiling is gedoen omdat die WVF te kenne gegee het die aansoeke vir die tydelike verligting vir April kan binnekort gesluit word.

Volgens Kriel is die 300 werkplekke almal kleiner ondernemings. Die vakbond sal hulle nader om vas te stel hoekom hulle nie aansoek gedoen het vir Ters nie.

“Dit sal ’n ramp wees as soveel duisende werkers die geleentheid misgeloop het om die betalings te kry waarop hul geregtig is.”

Hy sê die probleem word vererger weens erge vertragings in WVF-uitbetalings, waaroor baie werkers reeds kla. In sommige gevalle is daar foute met WVF-uitbetalings.

“Saam veroorsaak dit ernstige spanning in arbeidsverhoudinge op fabrieksvloere. Dit is ’n ongelukkige situasie want duisende werkers voer ’n stryd om vir hulself en hul gesinne te sorg omdat hulle hul inkomste of ’n wesenlike deel daarvan tydens die inperking verloor het.”

Volgens Kriel word ’n beroep ook op die WVF gedoen om die vertragings met uitbetaling van eise op te los.

Hy sê daar is werkers wat sedert die begin van die inperking nog nie hul Ters-uitbetalings ontvang het nie.

Meer oor:  Wvf  |  Sactwu  |  Werkloosheidsversekeringsfonds  |  Eise  |  Ters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.