Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
SAID: Makwakwa kry nié bonus tydens skorsing
Tom Moyane kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

Tom Moyane, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), het die SAID se besluit om hof toe te gaan teen die ouditeur-generaal Dinsdag verdedig.

Dit gaan oor die OG se kategorisering van R3 miljoen se bonusse as onreëlmatig.

Die SAID betaal al lank bonusse aan werkers en dis die eerste keer dat die OG ’n stokkie daarvoor steek, het Moyane Dinsdag aan die parlement se staande komitee oor finansies gesê.

Moyane het aangedui die minister van finansies is ingelig oor die betaling van die bonusse. Die bonus van R930 000 wat die geskorste Jonas Makwakwa ontvang het, was vir die vorige boekjaar, toe hy nog nie geskors was nie. SAID-amptenare wat ook die komiteevergadering bygewoon het, het bevestig dat Makwakwa nie ’n bonus ontvang het vir die tydperk waarin hy geskors is nie.

Johnston Makhubu, waarnemende finansiële hoof van die SAID, het aan die komitee verduidelik hoe die dispuut tussen die SAID en die OG ontstaan het wat tot die vertraging van die indiening van die jaarverslag gelei het.

Makhubu sê die SAID het geglo hy het die nodige gesag om die betrokke bonusse te betaal ingevolge art. 18(3) van die Wet op die SAID, maar die OG het ’n ander interpretasie van die artikel. 

Die hooggeregshof in Pretoria moet nou hieroor beslis.

Oor belastingterugbetalings

Moyane het ontken dat belastingterugbetalings doelbewus teruggehou is om syfers oor invordering kunsmatig op te blaas.

Moyane sê dit sou ’n reusagtige taak gewees het om terugbetalings terug te hou om invorderingsteikens te haal. Hy sê die span van die SAID werk baie hard om teikens te haal.

Alf Lees van die DA het gewys op die vertragings met die terugbetaling van BTW wat sake-ondernemings knou. 

Dr. Randall Carolissen, topbestuurder by die SAID, sê om die invorderings noemenswaardig hoër te laat lyk, sou alle BTW-terugbetalings weerhou moes word en dít sou onmoontlik gewees het.

Yunus Carrim, voorsitter van die finanskomitee, sê daar is tans geen bewyse dat BTW-terugbetalings doelbewus teruggehou word om invorderingsteikens te haal nie. Hy het gesê die SAID moet in die eerste kwartaal van volgende jaar verslag doen oor die inwerkingstelling van die belastingombudsman se aanbevelings.

Adv. Eric Mkhawane, die belastingombudsman, het aan die komitee gesê dit sou ’n forensiese ondersoek verg om werklik na te speur of terugbetalings doelbewus teruggehou word.

Hy het in Oktober in sy jaarverslag wel gewys op vertragings wat onder meer met stelselprobleme verband hou.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.