Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
SAID se werknemers hof toe oor verhogings

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se weiering om ’n salarisooreenkoms met personeel enduit te voer, het hom nou in ’n regsgeding met ’n vakbond laat beland.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se besluit om nie die laaste jaar se salarisverhogings ingevolge ’n ooreenkoms toe te staan nie, het werknemers en hul vakbond warm onder die kraag.

Die Vereniging van Staatsamptenare (VSA), wat 5 300 SAID-werknemers verteenwoordig, is omgekrap omdat die SAID besluit het om nie die derde jaar se salarisverhogings aan personeel toe te staan nie, volgens ’n ooreenkoms van 2019 met die vakbond.

Die ooreenkoms het onder meer uiteengesit dat salarisverhogings oor drie jaar sou plaasvind en die laaste jaar sou op 1 April begin. Die ooreenkoms is eers bereik ná uitgerekte onderhandelinge en vakbondlede wat twee dae lank gestaak het.

Die VSA het nou besluit om regstappe te doen en het reeds op 15 April in ’n verklaring sy teleurstelling uitgespreek oor die SAID se besluit om nie die laaste van die drie verhogings toe te staan nie.

Die VSA het aan Netwerk24 gesê regsdokumente word reeds deur hul prokureurs opgestel, maar dis nog nie voltooi nie. Die vakbond gaan hom tot die arbeidshof moet wend om die SAID te dwing om die salarisooreenkoms te eerbiedig.

“Ten spyte van die benarde ekonomiese groei en die impak van die Covid-19-pandemie, het die SAID steeds R38 miljard meer ingesamel as wat verwag is, en daarom doen ons ’n beroep op die minister van finansies en die SAID-kommissaris om wel die finale verhoging soos ooreengekom, aan werknemers te betaal,” sê die VSA.

Edward Kieswetter, SAID-kommissaris, het net voor die einde van die finansiële jaar aan werknemers gesê gesprekke gaan voort met vakbonde oor die impak wat die staatsinstelling se toegekende begroting op sy finansiële hulpbronne het en dat dit steeds ’n ernstige uitdaging vir die SAID is.

“Op 7 April tydens ’n ad hoc-samekoms van die Nasionale Bemagtigingsfonds (NBF), het alle betrokke partye die inwerkingstelling van die finale jaar van die driejaar-salarisooreenkoms bespreek,” lui ’n verklaring wat die SAID vandeesweek uitgereik het.

“Ons het aangedui die ongelukkige werklikheid is dat daar geen verhogings vir die 2021-’22-boekjaar gaan wees nie aangesien die begroting toegeken aan die instelling nie voorsiening maak vir verhogings nie.”

Maar volgens die vakbond het hulle en die staatsinstelling juis die ooreenkoms onderteken met die hoop dat dit nodige stabiliteit by die SAID sou bring en dit die geleentheid bied om weer na sy voormalige glorie te kan terugkeer.

Die VSA sê die SAID se besluit het sy werknemers ontstig en baie voel dat net al hoe meer van hul diensvoordele verminder word.

Reistoelae, beurse en kontant vir verlof is van die voordele wat die SAID, volgens die VSA, besig is om eensydig weg te neem van werknemers.

Op 6 April het die SAID en vakbonde byeengekom om spesifiek gesprekke te voer oor onder meer werknemervoordele, en die vakbonde het ook hul insette hieroor gelewer. Volgens die SAID gaan hierdie gesprekke voort.

Die SAID is, soos ander staatsinstellings, afhanklik van die nasionale begroting en wat die nasionale tesourie aan elke instelling toeken.

Die SAID sê hy respekteer die reg van georganiseerde arbeid om in die belang van hul lede op te tree en regstappe te oorweeg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.