Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sakeleiers se geduld raak op met Cyril se planne
cyril ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Jaco Marais

Sakeleiers in Suid-Afrika begin gefrustreerd raak met die pas van hervorming onder pres. Cyril Ramaphosa.

Volgens hulle het sy keuse van kabinetslede en sy bestedingsbeloftes ook nie juis gehelp om die gemoed te lig nie, berig Bloomberg.

Daar was in Februarie 2018 toe hy staatshoof geword het ’n versterking in die rand en hoop te bespeur gegrond op die verwagting dat hy die sukkelende ekonomie gaan regruk, korrupsie gaan beveg en ministers wat oënskynlik niks beteken nie, gaan vervang.

Sakelui se geduld is egter besig om op te raak.

Hulle meen dat die kabinetslede wat Ramaphosa ná die verkiesing in Mei aangestel het nie genoeg nuwe idees het nie, en dat sy staatsrede in Junie min inligting oor finansiering en sy bestedingsbeloftes bevat het.

“Baie moeilike besluite moet geneem word, maar ons het nog nie ’n bereidwilligheid gesien om dit te doen nie. Die tyd is min en die druk enorm,” sê Martin Kingston, uitvoerende voorsitter van Rothschild Suid-Afrika en visepresident van Business Unity South Africa (Busa), die grootste drukgroep in die sakesektor.

Van die 28 ministers wat Ramaphosa aangestel het, was net ses nie voorheen in die kabinet nie.

“Ons het baie van dieselfde ekonomiese rolspelers in dieselfde of uitgebreide portefeuljes,” sê Kingston.

“Maar ons wil nie noodwendig dieselfde beleid hê nie. Ons is hoopvol vir betekenisvolle verandering, dringende besluitneming en aksie.”

Ramaphosa het nie net belowe dat die sukkelende Eskom gered gaan word nie, maar het ook sneltreine en ’n nuwe, tegnologiese stad beloof.

Dit in ’n land waar munisipaliteite sukkel om basiese dienste aan huishoudings te lewer en die ekonomie sy grootste kwartaallikse inkrimping in ’n dekade getoon het.

Kingston se sentiment is beaam deur drie uitvoerende hoofde van groot maatskappye en ’n topbestuurslid van ’n vereniging vir die sakebedryf, maar niemand wil geïdentifiseer word nie omdat hul organisasies nie openbaar daaroor kommentaar gelewer het nie.

Hulle meen Ramaphosa is gedwing tot ’n kompromis omdat hy net-net die ANC se verkiesing in 2017 gewen het, en teenkanting ervaar van die faksie wat lojaal is aan oudpres. Jacob Zuma.

Van hul grootste bekommernisse is die ministers wat vir onderwys en arbeid aangestel is.

Dié poste word beskou as van groot belang vir Suid-Afrika, wat een van die swakste onderwysstelsels in die wêreld het en ’n gapende tekort aan vaardighede toon ondanks die werkloosheidsyfer van 27%.

Angi Motshekga, wat sedert 2009 die minister van basiese onderwys is, is heraangestel, terwyl Thulas Nxesi, voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie, aangestel is as die minister van arbeid.

Nxesi het kritiek gekry omdat hy die onreëlmatige besteding deur die regering op Zuma se private woning, Nkandla, verdedig het terwyl hy minister van openbare werke was.

Die sakeleiers meen ’n vakbondleier gaan nie die land se streng arbeidswette verslap om dit makliker te maak om sake te doen in Suid-Afrika nie.

Boonop is Ebrahim Patel, voorheen minister van ekonomiese ontwikkeling, nou as minister van die uitgebreide departement wat handel en nywerheid insluit, aangestel.

Hy het op sy beurt kritiek gekry van sekere sakeleiers oor die ingryping by die Amerikaanse kleinhandelaar Walmart se oorname van Massmart deur sekere toegewings van die maatskappy te vereis.

Twee aanstellings wat wel deur die sakebedryf verwelkom is – die van Tito Mboweni as minister van finansies en Pravin Gordhan as minister van openbare ondernemings – word as korttermynaanstellings beskou.

Hoewel hulle as goeie keuses beskou word, het min groot hervorming plaasgevind toe hulle in 2018 die eerste keer aangestel is.

Die kommer oor die kabinet onder sakelui is vererger deur die bestedingsbeloftes van Ramaphosa in sy staatsrede.

Hy het beloof dat die hulp van R230 miljard aan Eskom versnel gaan word, maar hy het niks gesê oor poste wat besnoei moet word en die verbetering van die kragverskaffer se doeltreffendheid nie.

Chris Schutte, uitvoerende hoof van Astral Foods, het ná die staatsrede gesê hy is verstom oor die verwysing na sneltreine en nuwe stede terwyl munisipaliteite nie basiese dienste kan lewer nie. – Bloomberg

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Beleggings  |  Ekonomie  |  Sakevertroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.