Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sakeliggaam braak gal oor vlak 3-gerugte

Sprake dat ’n strenger vlak van inperking heringestel gaan word, is “onaanvaarbaar”, het die organisasie Business for Ending Lockdown (B4EL) Maandag gesê.

bejaardes, toelae, covid-19
Foto ter illustrasie. Hierdie bejaarde vrou is op 31 Maart op vlak 5 van die inperking afgeneem toe sy haar staatstoelaag in Khayelitsha gaan afhaal het. Foto: Reuters

Die organisasie se verklaring kom terwyl ’n WhatsApp die ronde doen waarin ’n man beweer dat dit ’n uitgemaakte saak is dat Suid-Afrika na vlak 3 van die staat van inperking gaan terugkeer. Dit is ’n vlak waarop drank- en sigaretverkope grootliks verbode was, asook om elders vakansie te gaan hou of strand toe te gaan.

Die WhatsApp is fopnuus, soortgelyk aan ’n alarmistiese WhatsApp oor ’n nuwe drankverbod wat voorheen wyd versprei is.

Russell Lamberti van ETM Analytics en ’n lid van B4EL se adviespaneel, verwys nie in sy verklaring na die WhatsApp nie, maar na die onlangse opmerkings deur dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, oor ’n styging in infeksiekoerse in sekere provinsies, wat hy as “klein vlamme” beskryf het.

Mkhize het gesê die nuwe vlaag sal oorweeg word wanneer die departement van gesondheid aanbevelings aan die nasionale koronavirusbevelsraad maak. Hy het dit nie onomwonde gestel dat ’n strenger inperking oorweeg word nie.

Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal, het egter Sondag op ’n nuuskonferensie gesê Suid-Afrika stuur “beslis” op ’n strawwe inperking af “as daar nie dringende en drastiese gedragsveranderinge” is nie.

Gerugte dat pres. Cyril Ramaphosa die nasie binnekort gaan toespreek, doen nou al ’n paar dae die ronde, maar geen aankondiging daaroor is al gedoen nie. Ramaphosa kondig gewoonlik self enige veranderings aan die inperkingsmaatreëls aan.

Lamberti sê in sy verklaring die inperking se vernietigende invloed op die lewe en inkomste van miljoene Suid-Afrikaners sleep voort. Reisbeperkings is so omslagtig dat dit toeriste afskrik en die skade aan die toerisme- en gasvryheidsbedryf duur voort. Die meeste ander bedrywe se handelstoestande het nog nie naastenby na “normaal” teruggekeer nie.

Volgens hom sal die herinstelling van strenger inperkings daartoe lei dat sektore wat aan die herstel is, weer finansieel ontwrig word en sal gedwonge afleggings tot gevolg hê.

B4EL ondersteun die navorsing deur ’n groep aktuarisse, bekend as Panda, wat aanvoer dat die inperkings meer skade as goed doen omdat dit sterftes wat nie met Covid-19 verband hou nie, laat styg.

Lamberti kritiseer die navolging van ’n “ontoepaslike internasionale beleid” soos in Europa.

Nick Hudson en Ian McGorian van Panda beskou Europa se tweede vlaag bloot as ’n toename in bevestigde gevalle omdat die toetsing uitgebrei word.

B4EL sê die regering is welbekend vir sy “irrasionele en skadelike regulasies”, en die organisasie verwys ook na die “tienduisende” gevalle van korrupsie en bedrog wat by die Covid-19-betalings voorgekom het.

“Daar is geen goeie rede dat die inperkingsmaatreëls strenger gemaak moet word nie. Dit sal meer kwaad as goed doen, destruktiewe en korrupte staatsoptrede vererger, en ondernemings in ’n see van onsekerheid en ’n verlies aan inkomste laat spartel.”

B4EL se pleidooi is dat alle inperkingsmaatreëls opgehef word en dat die regulasies in vrywillige aanbevelings verander word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.