Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sakelui kan jaar vat om te herbou, maan Patel

Ondernemings kan tot so lank as ’n jaar neem om te herstel van die gewelddadige plundery en vandalisme vroeër in Julie, het Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, Donderdag gewaarsku.

Een van die fabrieke wat vroeër die maand tydens die onluste in Durban afgebrand is. Foto: News24

Die departement het peilings gedoen en vergaderings gehou met verskeie ondernemings uit verskillende bedryfsektore, sakeorganisasies en vakbonde, het Patel op ’n mediakonferensie gesê.

Meer as 50 besoeke aan persele is uitgevoer. Patel sê hy het self besoek afgelê by ’n paar fabrieke en groot ondernemings in KwaZulu-Natal en Gauteng om die omvang van die skade te bepaal en uit te vind wat die beste maniere sal wees om sakelui te help.

Van die ingrypings waarmee die departement sal help, is:

  • Onmiddellike herstelwerk aan winkels;
  • Die herstel van verskaffingskettings;
  • Die herstel van langtermyn-infrastruktuurskade, wat nog maande kan duur;
  • Verligting aan werkers weens verlore inkomste;
  • Oorbruggingsfinansiering aan sakelui op kort termyn totdat versekeringseise uitbetaal word;
  • Maniere waarop plaaslike ondernemings gesteun kan word in die proses van heropbou en herstel; en
  • Die herbou van beleggersvertroue.

’n Voorbeeld van die regering se hulp is waar ondernemings gehelp word wat andersins sou besluit om hul bedrywighede aan Suid-Afrika te onttrek.

Patel vertel een fabriek van die plaaslike tekstielvervaardiger Kingspark is heeltemal uitgebrand in die onluste, en meer as 600 mense sit nou sonder werk. Daar is met die topbestuur gepraat en ’n geboue-eienaar is betrek om ’n alternatiewe perseel vir die fabriek te vind sodat produksie kan hervat. ’n Ingenieur is ingestuur om te kyk hoe die alternatiewe perseel vir die doel aangepas kan word.

Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging. Foto: Gallo Images

Daar word ook gekyk na ’n vorm van tydelike bedryfskapitaal terwyl ’n assessor die maatskappy se versekeringseis verwerk.

Volgens Patel is daar met ’n groot glasvervaardiger gepraat om sy plaaslike produksie met 20% te verhoog om winkels te help om hul winkelvensters te herstel.

Die Nasionale Bemagtigingsfonds en Nywerheidsontwikkelingskorporasie sal saam met hulp van die regering self tot soveel as R3,9 miljard se finansiering aan die sakesektor verskaf. Dit sal tot meer as R4 miljard uitgebrei word.

Sekere van die hulp sal as toelae gegee word.

Volgens Patel is sekere kwytskeldings van mededingingswetgewing gepubliseer sodat ondernemings in sekere sektore kan saamwerk en inligting deel om die herstelproses te vergemaklik.

Kry hier hulp

’n E-posadres – recovery@thedtic.gov.za – en ’n tolvrye nommer is reeds geskep waar ondernemings kan aanklop om hulp.



Private sektor help ook

Voorbeelde waar groot maatskappye aangebied het om te help, sluit in:

  • Old Mutual gaan R50 miljoen van een van sy fondse beskikbaar stel vir hulp.
  • By ’n klerefabriek wat erg beskadig is, het die Foschini-groep aangebied om masjinerie beskikbaar te stel sodat die fabriek weer met produksie kan begin.
  • ’n Konstruksiefonds wat tydens die 2010-Wêreldbeker-sokkertoernooi gestig is, sal tegniese en ander hulp vir ondernemings gee.
  • Massmart en Ford het ook belowe om te help met die heropbou.

Transnet en hawens

’n Mediakonferensie sal volgende week deur Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, en die topbestuur van Transnet gehou word om die onlangse kuberaanval en ontwrigting van Transnet se hawens volledig te bespreek, sê Khumbudzo Ntshavheni, minister van kleinsakeontwikkeling.

Hoe werk die lenings?

Lindokuhle Mkhumane, direkteur-generaal van kleinsakeontwikkeling, het verduidelik die departement se hulp aan klein ondernemings sal bestaan uit 60% as skenking en 40% as lening, met die leningsgedeelte wat eers oor 60 maande terugbetaal hoef te word. Mkhumane sê hulle het probeer om die vereistes vir die hulp so eenvoudig moontlik te maak.

Malobo Mabitjo-Thompson, waarnemende direkteur-generaal van handel, nywerheid en mededinging, sê haar departement se hulp aan groter ondernemings sal 50% uit ’n lening en 50% uit ’n skenking bestaan.

Meer oor:  Plundery En Geweld  |  Onluste  |  Entrepreneurs  |  Kleinsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.