Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sakelui: Land móét streng inperking vermy

Dit is nou van “kardinale belang” dat landwye strenger inperking, soos dié wat Donderdag in Port Elizabeth ingestel is, vermy word.

Kampsbaai in Kaapstad. Kenners sê dié provinsie en ander kan doodeenvoudig nie nog ’n streng inperking bekostig nie. Foto: Getty Images

Business for South Africa (B4SA) is onder die organisasies wat hul steun toegesê het aan die regering se besluit om eerder ’n gelokaliseerde benadering tot inperkings te volg.

“Ons is verheug dat die regering besef het dat dit noodsaaklik is om volle ekonomiese aktiwiteit te handhaaf,” sê Martin Kingston, voorsitter van B4SA.

“Ons is bedag op die noodsaaklikheid van verantwoordelike maatreëls om risiko’s oor die oordrag van die virus te verminder. Ons ondersteun dus ten volle ’n geteikende, gelokaliseerde ingryping wat kan lei tot ’n vermindering van koronavirusgevalle, insluitende strenger inperkings, die beperking van die handelsure vir die verkoop van alkohol, die vermindering van toelaatbare getalle mense op byeenkomste en die verlenging van die aandklok.”

Die Afrikaanse Handelsinstituut van die Wes-Kaap (AHi) verwelkom ook pres. Cyril Ramaphosa se besluit om nié strenger inperkings in veral die Wes-Kaap in te stel nie.

“Die Wes-Kaap is ook as ’n brandpunt uitgewys, maar te danke aan flink optrede deur premier Alan Winde is daar nog geen wysigings aan die inperkingsregulasies in die Wes-Kaap nie,” sê dr. Willie Cilliers, uitvoerende hoof van die AHi.

Net soos die hele land nié strenger inperkings kan bekostig nie, kan die Wes-Kaap ook nie – veral nie nóú oor die feestyd nie.
Dr. Willie Cilliers van die AHi

Volgens Cilliers is dit egter nou van kardinale belang dat almal, van die individu tot ondernemings, hul protokolle en optrede verskerp.

“Net soos die hele land nié strenger inperkings kan bekostig nie, kan die Wes-Kaap ook nie – veral nie nóú oor die feestyd nie.”

“Die Wes-Kaapse ekonomie maak veral staat op die toerismebedryf om te vergoed vir die reuseverliese van die afgelope jaar.”

Sou strenger inperkings ook hier ingestel word, sou dit moontlik beteken dat wynplase, wat reeds erg gebuk staan onder die Covid-19-pandemie en gepaardgaande inperkings, nóg verdere verliese sal ly as besoekers nie oor naweke wyn kon koop nie.

“Die restaurantbedryf het ook nou die kans om uit sak en as te rys, maar as vroeër aandklokreëls aangekondig word, sal dit beteken hulle verloor kosbare tyd waarin hulle ’n inkomste kan maak.”

Volgens Cilliers wil die AHi alle vakansiegangers aan die Wes-Kaap verwelkom en gerusstel dat ondernemings vasbeslote is om saam te staan om alles so veilig as moontlik te hou.

“Ons moet as ’n land saamstaan om nie net die pandemie hok te slaan nie, maar ook die sukkelende ekonomiese sektors by te staan.

“Om die vertroue van beleggers en verbruikers in Suid-Afrika te herstel en te versterk, moet ons alles in ons vermoë doen om te verseker dat die land nie weer tot ’n streng inperking terugkeer nie, ongeag die infeksiekoers,” sê Kingston.

“Ons is hoopvol dat ons in staat sal wees om voort te gaan om regulering in samewerking met die regering en ander maatskaplike vennote te verfyn soos toepaslik.”

Meer oor:  Drank  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Toerisme  |  Vlak 1  |  Aandklokreël  |  Pandemie  |  Inperking  |  Drankbedryf  |  Covid-19  |  Drankverkope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.