Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sakelui ‘meld aan’ vir diens ná staatsrede
Jabu Mabuza, voorsitter van die Eskom-direksie. Foto: Brett Steele

Ons hoor die eggo van Hugh Masekela se “Thuma Mina” en wil onder die eerstes wees wat die oproep om te dien beantwoord.

Só reageer Cas Coovadia, besturende direkteur van die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa), oor pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede.

Een van die eerste plekke waar banke wil help, is met die uitdeel van staatstoelae, ’n diens wat die afgelope jare vasgeval het in hofsake oor tenders.

Ramaphosa het Vrydagaand gesê staatstoelae moet in samewerking met die private sektor uitgedeel word, waaroor Coovadia sê banke het al herhaaldelik gesê hulle is “gewillig en in staat” om dit te doen.

“Ons hoop die weg is nou gebaan vir ’n deursigtige, eerlike gesprek tussen die banke, die agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) en die departement van maatskaplike ontwikkeling.”

Hy sê banke sal hul deel doen in die herstel van die ekonomie en land. Hulle sal deelneem aan Ramaphosa se voorgestelde beleggingskonferensie en werkgroepe oor ekonomiese groei, jeugwerkloosheid en die digitale nywerheidsrevolusie.

Banke sal ook ’n “gewillige vennoot” wees wat grondhervorming, ekonomiese inklusiwiteit en transformasie betref.

Dis baie belangrik dat Suid-Afrika sy baie maatskaplike uitdagings regstel, maar dit moet op ’n verantwoordelike manier gedoen word.
Jabu Mabuza

Die CEO Initiative – ’n groep sakelui vir wie Ramaphosa groot lof toegeswaai het – het ook die versekering gegee dat die sakegemeenskap meer as bereid is om betrokke te raak by sy planne.

Jabu Mabuza, sameroeper van die groep, sê die sakegemeenskap “hou vol hy is bereid om te belê in ’n omgewing wat bevorderlik is vir volhoubare ekonomiese produksie”.

Mabuza sê hy is “bemoedig deur die positiewe toon” van die staatsrede.

Mabuza is onlangs as voorsitter van Eskom aangewys toe dié nutsmaatskappy se direksie geskommel is, ’n stap wat aan Ramaphosa se ingryping toegeskryf word. Hy is ook voorsitter van Telkom en president van Besigheidseenheid Suid-Afrika (Busa).

“Met sekuriteit, stabiliteit en konsekwentheid is ons vol vertroue dat die land die broodnodige verbetering in beleggings sal sien wat groei sal stimuleer en uiteindelik werk sal skep,” sê Mabuza.

Onder die positiewe punte in die staatsrede vir die CEO Initiative is:

  • Die president se verbintenis tot die skep van beleidsekerheid;
  • Die verbintenis dat hy met die arbeid- en sakesektor op ’n aantal inisiatiewe sal saamwerk om groei aan te wakker en werkloosheid te takel;
  • Ramaphosa se aankondiging dat staatskaping en korrupsie aangepak gaan word;
  • Die belofte dat die “geloofwaardigheid van openbare instellings” herstel gaan word, wat insluit dat die Nasionale Vervolgingsgesag en Suid-Afrikaanse Inkomstediens se “leierskapsuitdagings” aangepak gaan word; en
  • Die voorstel dat nuwe “finansieringsmodelle” vir sukkelende staatsondernemings gevind gaan word.

“Die CEO Initiative stem met die president saam dat jeugwerkloosheid Suid-Afrika se dringendste uitdaging is. Ons is bemoedig deur die dringendheid wat die president oorgedra het vir die Youth Employment Service (Yes).”

Cas Coovadia, besturende direkteur van die bankvereniging. Foto: Nelius Rademan

Yes, wat jong mense vir betaalde internskappe in groot maatskappye sal uitplaas, word in Maart bekend gestel. Dis ’n inisiatief wat die CEO Initiative gedryf het en Mabuza sê “beduidende vordering” is al daarmee gemaak.

Nog ’n program van die CEO Initiative, die fonds vir klein en mediumgrootte ondernemings, het groot lof van Ramaphosa gekry. Die fonds is nou R1,5 miljard sterk.

Mabuza sê fiskale dissipline is van uitsonderlike belang “as ons ons ekonomie teen eksterne skokke wil beskerm en ’n beleggingsgraad-kredietgradering wil behou”.

Daarom verwelkom hulle die president se versekering dat die finansiering van gratis hoër onderwys vir arm eerstejaarstudente en die Nasionale Gesondheidsversekering in volgende week se begrotingsrede opgeklaar kan word. Dis twee dinge wat ’n groot impak op die staat se geldsake sal hê.

“Dis baie belangrik dat Suid-Afrika sy baie maatskaplike uitdagings regstel, maar dit moet op ’n verantwoordelike manier gedoen word, en moet gebalanseer word met die behoefte om ons skuldprofiel te stabiliseer en die fiskale gaping te verklein.”

Die CEO Initiative sluit Sim Tshabalala van Standard Bank, Mike Brown van Nedbank, Mike Teke van Seriti Resources, Nicky Newton-King van die JSE, Adrian Gore van Discovery, Brian Joffe van Long4Life en Stephen Koseff van Investec in.

Coovadia loof Ramaphosa vir sy “visie van ’n welvarende, inklusiewe, verenigde Suid-Afrika met etiese leiers wat sy mense dien”.

“Ná ’n lang tydperk van korrupsie wat die vorige presidensie gekenmerk het, is ons verlig deur Ramaphosa se verbintenis om ’n samelewing te bou wat deur ordentlikheid en integriteit gedefinieer word.

“Ons moet dringend die erosie van vermoë van die staat en instellings regstel sodat ons die programme wat die president uiteensit, doeltreffend in werking kan stel.”

Coovadia verwelkom die president se besluit om die aantal staatsdepartemente te verminder.

Coovadia sê hy hoop daar sal vinnig tot aksie oorgegaan word by staatsondernemings.

Basa reken die toespraak sal baie doen om beleidsekerheid te skep en plaaslike en buitelandse investering aan te moedig, wat nodig is vir inklusiewe groei en werkskepping.

Meer oor:  Ceo Initiative  |  Basa  |  Jabu Mabuza  |  Jacob Zuma  |  Cyril Rama­Phosa  |  Cas Coovadia  |  Staatskaping  |  Ekonomie  |  Sona 2018  |  Ekonomiese Groei  |  Werkloosheid  |  Sassa  |  Banke  |  Korrupsie  |  Werkskepping  |  Staatsrede  |  Staatstoelae  |  Bankbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.