Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sakelui se vertroue tuimel tot laagste in 20 jaar
k

Sakevertroue het tot die laagste vlak in 20 jaar getuimel, met al meer sakelui wat hoop verloor. 

RMB en die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) se sakevertrouensindeks het in die derde kwartaal van vanjaar tot net 21 punte geval.

ekonomie
Dit lyk asof meer en meer deelnemers aan die peiling eenvoudig hoop verloor het. Foto: Getty Images

“ ’n Vlak van 21 beteken ’n verstommende agt uit tien deelnemers is ontevrede met die heersende saketoestande,” sê Ettienne le Roux, hoofekonoom van RMB.

“Selfs nie eens met die hoogtepunt van die internasionale finansiële krisis in 2009 was die bestuur van ondernemings so swaarmoedig soos tans nie.”

Die laaste keer dat die indeks so laag was, was met die skuldkrisis van opkomende markte in 1998 en 1999. Dié krisis het die randwisselkoers dramaties laat verswak en daartoe gelei dat die prima rentekoers tot sy hoogste vlak nog – 25,5% – opgeskiet het.

Hoop verloor

Sowat 1 800 sakelui neem aan die peiling van RMB en die BEO deel. Die meeste respondente het hul terugvoer tussen 14 Augustus en 2 September gegee, dus voordat die onlangse vlaag xenofobiese aanvalle begin het.

Die ineenstorting van sakevertroue word enersyds daaraan toegeskryf dat ’n groeiende meerderheid van respondente swakker saketoestande ervaar as ’n jaar gelede en andersyds dat toenemend meer respondente swartgallig word oor die toekoms.

“Anders gestel, dit lyk asof meer en meer respondente eenvoudig hoop verloor het. Dit is kommerwekkend en kan vorentoe nog groter moeilikheid in ’n reeds swak ekonomie veroorsaak.”

Skokkende uitslag

In die derde kwartaal het vertroue ineengestort in vier van die vyf sektore waaruit die indeks saamgestel word.

Nie een van die vyf sektore is positief (dus bo 50) nie en elkeen se telling is onder 30. Dit word as “skokkend” beskryf in die verklaring wat saam met die indeks uitgereik is.

Net die motorsektor het ’n verbetering getoon, maar selfs sy telling is laag.

Die grootste ineenstorting is in die klein- en groothandelsektor, wat tot onlangs nog betreklik standvastig vertoon het.

So lyk die verskillende sektore:
  • Kleinhandel het van 28 punte in die tweede kwartaal tot 17 geval; die laagste vlak in 20 jaar. Respondente sê verkope was in die derde kwartaal steeds treurig.
  • ’n Jaar gelede was die vertroue onder groothandelaars op 50 punte. In die derde kwartaal was dit op 29 – ook die laagste in 20 jaar. Respondente sê die verkope van veral nieverbruikersgoedere het skerp gedaal.
  • Vervaardiging het van 22 tot 16 geval, die laagste sedert 1999. Groei in produksie is steeds swak maar nie so erg soos in die tweede kwartaal nie.
  • Die boubedryf se vertroue het van 30 tot 23 gedaal. Residensiële boubedrywighede het die grootste val in tien jaar getoon, terwyl die swak toestande in die nieresidensiële boubedryf voortduur.

Le Roux sê “moedige leierskap is nodig” om die siklus van negatiewe terugvoer te verbreek waar die verswakking in saketoestande lei tot laer vertroue en dus nog minder belegging en werkskepping.

“Die verdere vertraging van hervorming wat veronderstel is om ekonomiese groei aan te moedig, wat al jare gelede toegepas moes word, gaan die bose kringloop waarin Suid-Afrika is, net laat voortduur.

“Tyd is nie aan ons kant nie, veral nie nou dat die internasionale winde van voor al hoe sterker word nie.”

Meer oor:  Rmb  |  Kleinhandel  |  Boubedryf  |  Sakevertroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.